Bylsma het na bewering op Saterdag 26 Mei in die oggendure op Sharnelle en Marna in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella in Noordwes toegeslaan. Hy het hulle glo verwurg en toe probeer om die toneel soos selfdood te laat lyk.

Bylsma, wat daardie aand in hegtenis geneem is, het die Maandag aangedui hy wil nie om borgtog aansoek doen nie uit vrees vir sy veiligheid.

Verskeie inwoners het toe al aan Huisgenoot gesê sommige inwoners sal nie huiwer om Bylsma dood te skiet as hy op borgtog uitkom nie.

Hy het in die week wat gevolg het van plan verander. Die aansoek was vir Woensdag gereël. 

Xander Bylsma en sy eksmeisie Sharnelle Hough. Foto: Facebook.

Moolman Wessels, Bylsma se prokureur, het Dinsdag aan Huisgenoot.com bevestig hy het Maandag ’n brief aan die beheeraanklaer van die hof geskryf om aan te dui sy kliënt gaan nie meer met die aansoek voort nie.

Hy sê die datum, wat met die aanklaer gereël was, was in elk geval net “voorlopig” en hy het nie nog instruksies ontvang om daarmee voort te gaan nie.

Hy voer aan dit beteken nie Bylsma het die aansoek “laat vaar nie” en kan steeds besluit om voor sy volgende verskyning, op 6 Augustus, ’n aansoek te bring.

Wessels wou nie redes verskaf waarom dit nie meer op die datum wat hy reeds met die hof gereël het, gaan gebeur nie.

“Dit is vertroulike inligting tussen my en my kliënt,” het hy gesê. Hy het ook gesê dit “sal nie wys wees” om te sê waar Bylsma sedert sy inhegtenisneming aangehou word nie.

Bylsma het na bewering ná sy inhegtenisneming ’n bekentenis aan die polisie gemaak. Die bekentenis het egter nog nie voor die hof gedien nie.

Die saak is vroeër, met sy eerste verskyning, na Augustus uitgestel vir verdere ondersoek.