Dis al haar tweede Kersfees sonder haar enigste kind; die tweede Kersdag wat Mercia Bylsma nie saam met haar seun kan deurbring nie.

In vroeër, gelukkiger jare was ma en seun altyd in die feestyd saam langs die viswaters op ’n plaas in Noordwes, of by haar ouers se strandhuis op Gouritsmond in die Wes-Kaap.

Maar vanjaar sal haar seun, Xander (20), Kersdag in die Rooigrond-gevangenis buite Mahikeng in Noordwes slyt terwyl die verhoor voortduur waarin hy aangekla word van die dubbele moord op sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16).

Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough is in
Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough is in die oggendure van 26 Mei 2018 op Stella, Noordwes, vermoor. Foto verskaf

Mercia weet dié Kersfees – Xander se tweede agter tralies – sal vir hom net ’n gewone dag tussen vier mure wees. Sy mag nie daar vir haar seun gaan kuier nie, want Kersdag val nie op ’n besoekdag nie.

Die hoogtepunt sal waarskynlik wees wanneer hy een uur lank binnenshuise bordspeletjies saam met sy medegevangenes mag speel, nes op enige ander dag.

Laaste Kersfees saam

Die geskeide ma dink met heimwee terug aan hul laaste Kersfees saam, twee jaar gelede. Hulle het dit op haar ouers se plaas deurgebring waar Xander in die dam visgevang het.

“Xander was ongelooflik lief vir visvang. Hy het op dié dag visse gevang, foto’s geneem en ge-­pose. Dan is hy terug waters toe . . .”

Xander was gewoonlik op Kersdag by sy ma en op Nuwejaarsdag by sy pa, Monté, ’n boer. Toe Mercia haar in die herinnerings aan hul laaste Kersdag saam verlustig, klink sy byna opgeruimd: “Die dae wanneer ons niks gevang het nie, het my stem blykbaar al die visse weggejaag!

“Hy was regtig baie ernstig by die viswaters. Geen musiek, geraas of stemme nie. Ek moes altyd die boot roei terwyl hy met sy stok in die water lê. My flippen arms was saans erg seer!

“Die buitelewe was sy lewe,” vertel sy verder. “Vandag is ek bly hy kon elke dag daar buite ten volle geniet en waardeer, want kyk waar sit hy nou . . . Een jaar en ses maande laas het my kind gras onder sy voete gevoel; kaalvoet die Kalahari­sand tussen sy tone gevoel.”

Monté Bylsma, Xander se pa, gee sy seun ’n druk in
Monté Bylsma, Xander se pa, gee sy seun ’n druk in die hof. Hy en Mercia is geskei, maar albei ondersteun hul seun onvoorwaardelik. Foto: Gallo Images/Felix Dlangamandla

26 Mei 2018

Op Saterdag 26 Mei 2018 het Xander se lewe soos handomkeer verander – dieselfde dag dat die nuus van twee tienermeisies se raaiselagtige dood in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella in Noordwes die land geskok het.

Sharnelle se liggaam het leweloos aan die trapreling gehang en Marna is op die badkamervloer aangetref met ’n handsakband om haar nek. Dieselfde dag nog is Xander in hegtenis geneem nadat hy na bewering teenoor ’n privaat speurder gebieg en ook ’n amptelike bekentenis aan die polisie afgelê het.

Maar tydens sy verhoor, wat waarskynlik vroeg in die nuwe jaar in die hoog­geregshof in Mmabatho afgesluit sal word, het hy dié bekentenisse betwis en skuld ontken op die twee aanklagte van moord met voorbedagte rade.

Al wat haar in die donker tyd staande hou, is haar geloof, sê Mercia in bood­skappe aan Huisgenoot. “Die Here is so goed vir my deur my elke oggend met ongelooflike krag vir ’n nuwe dag te laat wakker word.”

Ook in Sharnelle en Marna se ouer­huise sal ’n geliefde kind se plek dié Kersfees pynlik leeg wees.

Ronnie Hough

Ronnie Hough se stem haak vas toe ons oor sy tweede Kersdag sonder Sharnelle vra.

“Dit sal eintlik ons eerste Kersfees sonder Lallie wees,” sê hy en verduidelik Sharnelle – of Lallie, sy troetelnaam vir haar – sou verlede Kersfees, die eerste ná haar dood, by Sonja Hough, haar ma en sy eksvrou, deur­gebring het.

Maar vanjaar sou sy Kersfees saam met haar pa, stiefma, Anna, stiefboetie, Estian (11), en die res van die Hough-­familie gevier het.

Stefaans en Rianet Engelbrecht

Vir Marna se ouers, Stefaans en Rianet, en haar ousus, Riané (19), is dit hul tweede Kersfees sonder haar. “Dis nie maklik nie,” sê Stefaans, ’n man van min woorde, aan Huisgenoot. “Elke Kersfees sonder Marna is moeilik . . .”

Vir Xander sal Kersdag nes enige ander dag in die gevangenis verloop, bevestig Marcia Hlungwani, ’n kommunikasiebeampte van die departement van korrektiewe dienste in Noordwes.

Xander Bylsma. Foto: Gallo Images/Felix Dlangamand
Xander Bylsma. Foto: Gallo Images/Felix Dlangamandla

Hy sal nes elke ander oggend slap pap en brood met botter vir ontbyt kry en dit met tee afsluk. Vir middagete sal pap, groente en vleis op die spyskaart wees.

Op ’n vraag of gevangenes Kersgeskenke mag ontvang, antwoord Marcia: “Dit mag ’n item wees wat nie ’n sekuriteitsrisiko inhou nie, byvoorbeeld Kersfees­kaartjies.”

Intussen is die vraag: Sal dit Xander se laaste Kersfees agter tralies wees of dalk net die tweede van vele?

Al glo Mercia dat sy huidige reg­s­pan, adv. Sakkie Nel en sy prokureur, Conrad Bester, albei van die Noord-Kaap, alles in hul vermoë gedoen het om haar kind te verdedig, besef sy Xander se toekoms hang in die weeg­skaal.

Legkaartstukke wat nie pas nie

En kyk ’n mens na die getuienis wat reeds voor regter Ronald Hendricks gelewer is, wil die legkaartstukke steeds nie inmekaarpas nie.

Kort voor die hof op 3 Desember verdaag het, het Xander in die soveelste skokwending in die saak vir die eerste keer vinger gewys na die mens wat hy aanvoer dalk ook die moorde kon gepleeg het – Brandon Victor (19), die nuwe liefde in die vermoorde Sharnelle se lewe.

Sharnelle en haar nuwe liefde, Brandon Victor, het
Sharnelle en haar nuwe liefde, Brandon Victor, het die vorige aand nog selfies geneem. Foto verskaf

In sy getuienis het Brandon erken hy kon Sharnelle se foon met sy vingerafdruk ontsluit.

Dit het ter sprake gekom omdat die staat aanvoer die moordenaar het ná haar dood boodskappe van haar selfoon aan haar pa gestuur om die indruk te wek dat sy en Marna hulself om die lewe gebring het.

Brandon het getuig hy het teen eenuur op die moordnag na sy kamer aan die ander kant van die skoolkoshuis teruggekeer nadat hy saam met die twee vriendinne in hul koshuiskamer gekuier het.

Voor sy vertrek het Xander Shar­nelle gebel en haar gevloek en gedreig, het Brandon beweer, maar Xander ontken dit en voer aan hulle het voor haar dood versoen geraak.

Adv. Johan Smit SC, vir die staat, het volgens Netwerk24 verskeie kere op teenstrydighede in Xander se getuienis gewys. Dié het vroeër aan die privaat speurder Chris Saunders gesê hy is om 03:30 die oggend by die koshuis weg, en in die hof het Xander getuig hy het reeds teen 03:00 uit Stella vertrek.

Maar volgens die getuienis van kapt. Johann Botes, ’n selfoonkenner, was Xander se selfoonsein nog tot omstreeks 03:30 in die Stella-omgewing aktief en teen 05:01 in die Vryburg-omgewing, waar sy ma toe op ’n plaas gewoon het.

Boodskap, ’n foto en vreemde DNS

Die staat voer aan Sharnelle was waar­skynlik reeds dood toe ’n halfnaakte foto om 03:42 van haar foon na haar pa s’n gestuur is met die boodskap: “Lief jou Brandon”.

’n Tweede boodskap is om 04:17 gestuur: “Pappa ek is jammer ek en marna sal van die plek af weg gaan (sic).”

Xander se regspan voer aan teen daardie tyd was hy reeds by sy ma in die Vryburg-distrik.

In die laaste getuienis wat gelewer is voor die saak tot 6 Januarie uitgestel is, het kapt. Matukudu Mashegoana, ’n forensiese kenner van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, getuig geen DNS van Xander is gevind op enige bewysstukke wat hy ontleed het nie.

Onder Sharnelle se vingernaels is vreemde DNS wel gevind wat nie hare of Xander s’n is nie.

Brandon het die vorige week getuig dat Sharnelle kort voor haar dood puisies op sy rug uitgedruk het. Onder kruisondervraging het Matukudu gesê dis moontlik dat Brandon se DNS op dié manier onder Sharnelle se vingernaels kon beland het.

Aan Huisgenoot het Brandon gesê dat die bewerings teen hom “seermaak” en volgehou hy is onskuldig.

Wat nog voorlê

Wanneer die saak vroeg in die nuwe jaar hervat word, sal Mercia soos met elke hofverskyning van haar seun op ’n bank reg agter hom in die beskuldigdebank inskuif.

Sy raak stil toe Huisgenoot vra hoe sy oor die verloop van die hofsaak voel.

“Hulle het nog ’n harde tyd wat voorlê,” sê sy dan. “Eintlik ons almal.”

Maar sy sal altyd daar wees vir haar seun. Dit terwyl sy nog nie weet of dit die laaste of nog baie, baie Kersfeeste vir Xander agter tralies kan wees nie.

“Ek sal altyd tot aan die einde daar wees vir my Worsman, tree vir tree,” sê Mercia.

“Hy is die rots waarop my huisie staan.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.