book-icon Uitgawe 30 Mei 2019

Stella-skokke: Die moordraaisel rondom Xander Bylsma

akkreditasie
’n Binneverhoor in die Stella-moordsaak is tans onderweg in die Noordwes-hooggeregshof in Mmabatho. Só het Huisgenoot in Mei vanjaar oor dié opspraakwekkende saak berig.
Uit die tydskrif: 30 Mei 2019

Dit het gelyk of die moord­raaisel dalk gou opgelos sal word toe die jong beskuldigde die eerste keer in die hof verskyn.

Op dieselfde dag toe die nuus dat twee tienermeisies dood in hul skoolkoshuis op die dorpie Stella in Noordwes aangetref is skok­golwe deur die land gestuur het, het Xander Bylsma (toe 19) hom immers aan die polisie ­oorgegee.

Hy het ook glo ’n bekentenis oor die dubbele moord op sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar boesem­vriendin, Marna Engelbrecht (16), afgelê.

Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough is in
Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough is in die meisies- koshuis van die Hoër­skool Stella vermoor

Maar sedert Xander die eerste keer in die landdroshof op Vryburg verskyn het, het die een skokwending ná die ander die raaisel laat verdiep oor wat presies voor en ná die moorde in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis gebeur het.

Teen sesuur op Saterdagoggend 26 Mei 2018 is Sharnelle se lewelose liggaam daar aangetref waar dit aan ’n trapreling hang; Marna is dood op die badkamervloer gekry met ’n handsakband om haar nek.

’n Privaat speurder het Xander ­later die dag op sy pa se plaas gekry en na die polisie op Vryburg geneem, waar hy in hegtenis geneem is. Hy het glo aan die speurder en die polisie ’n bekentenis afgelê.

Toe Xander vandeesmaand, byna ’n jaar later, self in die getuiebank inskuif, was die spanning tasbaar in die hoog­geregshof in Mmabatho, Noordwes. Die saak is soontoe oorgeplaas toe Xander in November 2018 in die hof op Vryburg skuld op twee aanklagte van moord met voorbedagte rade ontken.

Dít was die eerste teken dat hy sy beweerde bekentenis teenoor die privaat speurder Chris Saunders en die polisie gaan betwis.

Toe Xander begin getuig, het hy vol­gehou hy het onder dwang skuld aan die moorde beken omdat hy glo ná die meisies se dood voorgesê en met die dood van sy ouers, Monte en Mercia, gedreig is.

Nog drama het gevolg toe sy regsverteenwoordigers hulle daarna aan die saak onttrek – die derde keer.

Die verhoor word op 29 Julie hervat en Xander bly tot dan in die Rooigrond­gevangenis in Mahikeng. Hy is merkbaar skraler nadat hy die afgelope jaar daar agter tralies was. Eers het hy nie om borgtog aansoek gedoen nie, glo uit vrees vir sy eie veiligheid, en toe hy dit voor Kersfees wel doen, is die aansoek afgekeur omdat hy as ’n vlugrisiko beskou word.

Intussen bly die moordraaisel wat drie jong lewens verwoes het die land boei.Want mense wonder: As hy skuldig is, wat het die seun van ’n gesiene Vryburgboer besiel? En as hy onskuldig is, wat het werklik die moordnag en daarna gebeur?

DIE BESKULDIGDE

Xander Bylsma (20)

Xander, die beskuldigde, is ’n oudleerder van dié
Xander, die beskuldigde, is ’n oudleerder van dié skool.

Nadat hy in 2017 aan die Hoërskool Stella gematrikuleer het, het hy saam met sy pa onder meer aartappels aangeplant en ook teen betaling vir boere in die omgewing jakkalse doodgeskiet.

Hy is sy geskeide ouers se enigste kind.

Op skool was hy gewild, en hy het vir die eerste span rugby gespeel, maar van sy oudskoolmaats beskryf hom as ’n bedorwe brokkie met ’n vurige humeur. Daarteenoor sê sy ma, Mercia, hy het ’n klein, sagte hartjie. Sy hou vol hy was baie lief vir Sharnelle.

DIE SLAGOFFERS

Sharnelle Hough (17)

Die borrelende Sharnelle – oftewel Lallie vir haar geliefdes – was ’n jaar en ’n half lank Xander se meisie, maar het hom twee maande voor haar dood gelos omdat hy glo jaloers en besitlik was.

Sy was haar geskeide ouers, Ronnie en Sonja Hough, se enigste kind, en volgens haar pa wou sy eendag ’n fotograaf word.

Sy en Marna was sedert hul kleuter­skooldae op die buurdorp Kameel beste maats en het ’n kamer gedeel in die koshuis waar hulle saam gesterf het.

Marna Engelbrecht (16)

Sy was haar ouers, Stefaans en Rianet, en ousus, Riané (18), se Marna-muis. Sy was ’n diereliefhebber met drome om eendag ’n veearts te word, en sy en Sharnelle het amper elke naweek saam perdgery.

Marna het glo nie Sharnelle se verhouding met Xander, haar kleinneef, goed­gekeur nie; sy het nie gehou van die manier waarop hy haar vriendin behandel nie.

Stefaans en Xander se ma, Mercia, is niggie en neef, maar Stefaans het aan Huisgenoot vertel daar was nooit sterk familiebande tussen die kleinnigie en -neef nie.

’n Familielid van Marna en Xander het aan Huisgenoot gesê die hofsaak het die familie verskeur en “in kampe’’ verdeel.

Monte en Mercia Bylsma

Monte het Xander tot dusver met elke hofverskyning
Monte het Xander tot dusver met elke hofverskyning gesteun.

Monte Bylsma se droom dat sy enigste kind saam met hom in die Louwnadistrik naby Vryburg sou boer, lê nou aan skerwe. Hy wil glo sy plaas verkoop en Oos-Kaap toe trek, vertel bronne na aan hom. Monte het Xander tot dusver met elke hofverskyning gesteun.

Xander se ma, Mercia, het onlangs haar administrat
Xander se ma, Mercia, het onlangs haar administratiewe werk op ’n plaas naby Vryburg gelos om haar seun by te staan.

Xander se ma, Mercia, wat jare gelede van sy pa geskei is, het onlangs haar administratiewe werk op ’n plaas naby Vryburg gelos om haar seun by te staan.

Sy gaan gereeld by Xander in die tronk kuier en noem hom haar “Worsman”.

Stefaans en Rianet Engelbrecht

Stefaans en Rianet Engelbrecht. Rianet, ’n kleuter
Stefaans en Rianet Engelbrecht. Rianet, ’n kleuterskoolonderwyseres, het nog nie in die media oor haar dogter se dood gepraat nie

Die frisgeboude Stefaans Engelbrecht, wat jong boere oplei en vir boere in die distrik water aanwys, was baie geheg aan sy jongste dogter, Marna. Haar dood het dié pa ?geknak, vertel mense na aan hom.

Haar ma, Rianet, ’n kleuterskoolonderwyseres, het nog nie in die media oor haar dogter se dood gepraat nie, maar ’n vriendin het in Maart vanjaar in ’n Facebookbood­skap geskryf: “Rianet Engelbrecht, een van die dapperste, sterkste en opregste mense wat ek ken. Al gaan jy deur die diepste seer, is jou antwoord altyd: ‘Dit gaan goed.’ Jy is ’n ongelooflike voorbeeld vir baie van ons.”

“Ek kan sien hulle kry swaar; ons almal kan,” sê ’n kennis oor die Engelbrechts.

Ronnie en Sonja Hough

Ronnie Hough is ’n voerkraalbestuurder wat sy tweede vrou, Anna, se 11-jarige seun as sy eie grootmaak. Hy was baie geheg aan Sharnelle en woon elke dag van die verhoor by. Hy sê dit was vir hom verskriklik om Xander se polisieverklaring aan te hoor.

Ronnie en Anna Hough.
Ronnie en Anna Hough.

“Dis moeilik om dit te moes hoor; dit wat hy daar in sy ver­klaring gesê het – hoe my kind gely het.”

Ook Anna verlang na Sharnelle, veral Vrydae, wanneer sy haar altyd by die koshuis opgelaai het.

“Ek mis hoe sy dan die aand in die kombuis instorm en vra wat daar te ete is,” vertel sy. Sy sê dis vir haar moeilik om te sien hoe Xander in die hof “met ’n glimlag op sy gesig sit”.

Sharnelle sou die naweek van haar dood by haar ma,
Sharnelle sou die naweek van haar dood by haar ma, Sonja (FOTO), wat op Koster woon, gekuier het

Sharnelle sou die naweek van haar dood by haar ma, Sonja, wat op Koster woon, gekuier het. Sy en Marna het juis die Vrydagnag alleen in die koshuis oorgebly omdat hulle die Saterdagoggend daarheen sou ry saam met die skool se sportspanne wat daar gaan deelneem het.

SLEUTELGETUIES

Reeds getuig: Chris Saunders

Chris Saunders, die privaatspeurder
Chris Saunders, die privaatspeurder

Dié privaat speurder, wat ’n sekerheidsmaatskappy op Hartswater besit, het reeds in die binneverhoor getuig.

Kort nadat Sharnelle en Marna dood aangetref is, het die voorsitter van die Hoërskool Stella se beheerliggaam, Richard Hobson, Chris na die moordtoneel ontbied. Chris het Xander later daardie dag op sy pa se plaas gekry saam met Marna se verwoede pa, Stefaans.

Xander het glo ingestem om saam met Chris in sy bakkie na die polisie op Vryburg te ry, en langs die pad het Chris hom gevra wat gebeur het. Hy het ’n opname van sy gesprekke met Xander gemaak – glo sonder Xander se medewete. Dié opname is in die hof gespeel, en daarin erken Xander hy het Marna verwurg en Sharnelle opgehang.

Chris het in sy getuienis ontken dat hy Xander voorgesê of gedreig het om ’n verklaring by die polisie af te lê. Sy getuienis is bevraagteken toe Xander se advokaat, Niven Rai, hom gekruisondervra het.

Niven het aangevoer Chris het Xander voorgesê, hom gedruk om ’n bekentenis af te lê en dit toe onregmatig opgeneem. Xander se regspan het ook beweer Chris het  hom binne-inligting oor die moordtoneel gegee.

Moet nog getuig: Brandon Victor (19)

Brandon was verlede jaar daar in matriek.
Brandon was verlede jaar daar in matriek.

Nes Xander het Brandon vir die Hoërskool Stella se eerste rugbyspan uitgedraf. Hy was verlede jaar daar in matriek.

Die eens hegte vriendskap tussen Brandon en Sharnelle het glo voor haar dood in kalwerliefde ontluik – tot Xander se beweerde ontsteltenis.

In ’n onderhoud met Huisgenoot het Brandon van ’n selfoonoproep vertel waarin Xander Sharnelle glo gedreig het. Sharnelle het ook teenoor hom gekla dat Xander besitlik en jaloers is.

Moet nog getuig: Anastasia Visser (19)

Anastasia Visser moet nog getuig
Anastasia Visser moet nog getuig

Volgens die klagstaat het Xander dié vriendin van Sharnelle twee dae voor die moorde gebel en sy “misnoeë” daaroor uitgespreek dat Sharnelle ná die beëindiging van hul verhouding “met haar lewe aangegaan het”.

Hy het glo beweer Sharnelle het foto’s van haar aan Brandon gestuur terwyl sy nog Xander se meisie was – iets wat hom “baie kwaad gemaak het”.

Op ’n vraag van Anastasia oor wat hy daaraan gaan doen, het Xander glo gesê hy wil Sharnelle daardie Saterdag konfronteer en haar “lewe so hel maak dat sy selfmoord sal pleeg”.

WAT HET OP DIE MOORDNAG GEBEUR?

In die klagstaat voer die staat aan Xander het Sharnelle vermoor deur haar eers te verwurg en toe met ’n tou aan die trap op te hang. Hulle voer aan hy het Marna ook met ’n tou “of ’n soortgelyke item” verwurg.

Volgens die lykskouingsverslae is Sharnelle dood aan “versmoring weens verwurging en ophang’’ en Marna aan versmoring weens “druk met ’n band”.

Die staat voer aan Shar­nelle het nog geleef toe sy opgehang is.

Dr. Tromp Els, die staatspatoloog, het getuig Sharnelle het haar vingers stukkend ba­klei in ’n verbete poging om die tou van haar nek te verwyder.

Die staat voer voorts aan Xander het later op die dag van Sharnelle en Marna se dood “sekere verklarings” aan die privaat speurder Chris Saunders gemaak. Chris het Xander daarna geneem na die polisie op Vryburg, waar dié glo ’n amptelike verklaring met ’n bekentenis aan ’n polisiebeampte afgelê het.

Xander het glo ook uitwysings aan ’n tweede polisiebeampte op die moordtoneel in die meisieskoshuis, Huis Esterhuysen, gedoen.

Xander se weergawe

Die staat voer voorts aan Xander het later op die
Die staat voer voorts aan Xander het later op die dag van Sharnelle en Marna se dood “sekere verklarings” aan die privaat speurder Chris Saunders gemaak.

Tydens ’n binneverhoor is die toelaatbaarheid van Xander se bekentenis aan die privaat speurder en die polisie voor die hof ?ondersoek.

Die staatsadvokaat Johan Smit het Xander se polisieverklaring toe aan die hof voorgelees, berig Netwerk24.

Daarin het Xander glo aan die polisie vertel wat op die nag van die moorde gebeur het: “Sy (Sharnelle) het vir my gesê dat sy nie meer op die aarde wil wees nie en dat sy nie ander mense wil seermaak nie. Ek het toe agtergekom dat sy my vra om haar te help om selfmoord te pleeg.

“Ons het ’n ooreenkoms gemaak dat ek ’n manier moet kry sodat sy nie die pyn moet voel nie. Ek het my arm om haar keel gedruk om haar te laat uit-pass, met die tou klaar om haar nek.

“Ek wil net verklaar dat ek die tou by die trap vasgemaak het toe sy nog gelewe het, en sy was bewus daarvan.”

Die staatsadvokaat het verder uit die beweerde verklaring voorgelees: “Toe kom Marna by die trap op om badkamer toe te gaan. Ek kan nie onthou of ek met haar gepraat het nie. Ek het ’n handsak onder die trap gesien en dit opgetel.

“Ek het dit opgetel en agter Marna aangeloop, en terwyl sy besig was om haar hande te was . . . wat ek kan onthou, is dat ek haar versmoor het.”

Xander het in sy getuienis tydens die binneverhoor die inhoud van sy verklaring betwis. Hy het aangevoer Chris en Marna se pa, Stefaans, het hom met dreigemente oor sy ouers se dood gedwing om skuld te beken.

Hy het aangevoer Chris het hom sonder sy medewete opgeneem en hom voorgesê wat om in die verklaring aan die polisie te sê. Hy het ontken hy was op die aand van die moorde by die koshuis en gesê dat hy niks met Sharnelle en Marna se moorde te doen gehad het nie.

Xander se regspan staan dit teen dat die bekentenis in die hof toegelaat moet word omdat Xander dit glo onder dwang gedoen het.

Wanneer die saak op 29 Julie hervat word, sal die binneverhoor voortduur. Regter Ronald Hendricks sal dan moet beslis of die bekentenis in die hof toegelaat word of nie.

SY PLANNE OM TE VLUG

Twee briewe wat Xander glo uit die tronk aan sy ma, Mercia, geskryf het en wat toe deur die owerheid onderskep is, is tydens die borgtogaansoek as bewysstukke ingedien dat Xander ’n vlugrisiko is.

Daarin skryf hy glo sy ma moet ’n “korrupte landdros” met R5 000 omkoop om hom op borgtog vry te laat. Hy was van plan om dan Botswana toe te vlug en vyf jaar lank daar te bly “tot die waarheid uitkom”.

Sy advokaat, Niven Rai, het aangevoer Xander is vroeër in die gevangenis deur tronkbewaarders aangerand en het die briewe uit vrees vir sy veiligheid geskryf.

Ophelia Motloutsi, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste in Noordwes, het aan Netwerk24 gesê hulle is nie bewus van die voorval nie.

SY REGSPAN ONTTREK

Drie keer nuwe ­regsverteenwoordiging

  • Xander se eerste advokaat, Ferdi van Heerden, het voor sy borgtogaansoek in Desember aan die saak onttrek. Die Durbanse advokaat Niven Rai het toe sy plek ingeneem.
  • Toe die saak in Maart hervat, is aangekondig Xander se prokureur, Moolman Wessels, het hom weens “botsende belange” onttrek. Hy is toe met ’n Bloemfonteinse prokureur, Adriaan Janse van Vuuren, vervang.
  • Vandeesmaand het Niven en Adriaan hulle albei aan die saak onttrek nadat Xander getuig het die privaat speurder Chris Saunders was by toe die polisie sy bekentenis afgeneem het; dis iets waaroor Niven glo vroeër in die duister gelaat is.

Niven sê ook hy het hom weens “botsende belange” aan die saak onttrek.

Xander in gesprek met sy destydse advokaat, Niven
Xander in gesprek met sy destydse advokaat, Niven Rai, terwyl sy ouers, Monte en Mercia, bystaan.

“Vanweë die gedragskode waaraan regs­lui moet voldoen, kon ek nie my werk met Xander voortsit nie. Dit was vir ons albei teleurstellend omdat ons goeie vriende geraak het. Ons het nie net oor die saak gepraat nie; ook oor baie algemene dinge.”

Die staatsadvokaat Johan Smit SC het aan Netwerk24 gesê dis maar die derde keer in sy loopbaan van 44 jaar dat ’n reg­span in dié stadium van ’n saak onttrek.

Xander se pa, Monte, het aan Netwerk24 gesê hy glo in sy seun se onskuld en sal sy regskoste dek.

Hoekom onttrek regslui?

Volgens die Pretoriase strafregkenner dr. Llewellyn Curlewis is dit ’n algemene ver­skynsel. Dit gebeur wanneer daar “ ’n konflik van belange” ontstaan – dit is wanneer die regsverteenwoordiger nie die kliënt se instruksies volg waarop hulle ooreengekom het nie of omgekeerd.

Dit veroorsaak ’n vertrouensbreuk en albei partye moet dan besluit of hulle hul werkverhouding kan voortsit of nie. Wanneer ’n reg­span onttrek, is dit nie veronderstel om teen die beskuldigde in die saak te tel nie, maar dit kan ’n slegte indruk skep, sê Llewellyn.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees