Met sy smal grys snor en sy gesig op ’n ernstige plooi getrek, lyk die groot man in sy swart leerbaadjie en formele broek na ’n regte baasspeurder. En dit is hy ook.

Tog het Chris Saunders (53) nie die aggressiewe tegnieke en truuks van ’n privaat speurder gebruik toe hy die raaisel van twee skoolmeisies van Stella in Noordwes se oënskynlike selfdood help oplos nie – en dít boonop op dieselfde dag dat Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht (16) se lyke vroegoggend in die meisieskoshuis van die hoërskool op dié rustige dorp aangetref is.

Toe Chris Saterdagmiddag 26 Mei vir Xander Bylsma, Sharnelle se 19-jarige ekskêrel, ondervra, het hy dit nie gedoen soos die geharde speurder wat hy in der waarheid is nie.

'Soos 'n droom'

Inteendeel, dit was tydens ’n byna vaderlike gesprek in sy wit Isuzu-bakkie dat hy die donkerkopplaasseun eindelik gekry het om oor die vorige nag se gebeure te praat.

“Dit het soos ’n droom gevoel en toe het ek net daaruit wakker geword,” het Xander sy belydenis daardie middag in die bakkie begin. Twee dae later het hy in die landdroshof op Vryburg op twee aanklagte van moord verskyn.

Chris het Xander laat die middag op dié se pa, Monte, se plaas in die Louwna-distrik buite Vryburg gaan oplaai.

Dit was nadat die privaat speurder inligting uitgesnuffel het dat Xander glo die vorige aand oor die telefoon vir Sharnelle gesê het hy haat haar vriendin Marna omdat sy altyd by dié is en nie by hom nie.

Terwyl Chris die 80 km oor ’n slegte tweespoorgrondpad van sand en klip met ’n verslae en uitgemergelde Xander na die polisiekantoor op Vryburg gery het, het hy saggies gevra: “Wat het by die koshuis gebeur, Xander?

Ek het haar liefgehad, oom . . .

“Praat met my, ou seun. Wat het in die koshuis gebeur? Ek weet jy wil nie daaroor praat nie, maar praat met my. Ek sal jou help waar ek kan,” het hy oor en oor gesê, nes ’n pa met sy seun praat.

En eindelik, tussen niks en nêrens met die vlaktes uitgestrek om hulle, het Xander sy hart teenoor die speurder oopgemaak en gesê: “Ek het haar liefgehad, oom . . . ”

Chris bedryf ’n sekerheidsmaatskappy, Crime Busters Sekuriteit, op die buurdorp Hartswater, waar hy veiligheidswagte oplei en aan ondernemings uitkontrakteer. As deel van die dienste wat hy lewer, werk hy die afgelope 12 jaar ook as privaat speurder.

Hy moes al talle tergende sake oor renosterstropery, veediefstal en die vergifting van diere takel.

Hy het al voorheen werk gedoen vir Richard Hobson, voorsitter van die beheerraad van die Hoërskool Stella, vertel Chris waar ons in die winterson buite ’n gastehuis op Vryburg om ’n koue, grys sementtafel sit en veels te flou kitskoffie dink.

Telkens neem hy ’n lang trek aan sy sigaret. Richard het hom om tienuur die Saterdagoggend in Mei gebel nadat die koshuismatrone om halfses op Sharnelle se lyk afgekom het waar dit aan die trapreling gehang het.

Die polisie het daarna Marna se lyk op die badkamervloer ontdek met die skouerband van ’n handsak om haar nek gedraai. Die gru-vonds het skokgolwe deur Stella gestuur, waar verbysterde inwoners gegis het of die twee boesemvriendinne dalk saam-saam besluit het om ’n einde aan hul jong lewens te maak.

Marna Engelbrecht is saam met haar boesemvriendin, Sharnelle, in die meisieskoshuis verwurg.
Sharnelle se moordenaar het probeer om dit te laat lyk asof sy en Marna hul eie lewe geneem het.

“Richard het vir my gesê dit wat hier gebeur het, lyk nie vir hom na selfdood nie,” onthou Chris. “Ek moet kom kyk.”

Hy het eers vroegmiddag op die misdaadtoneel aangekom nadat hy die sowat 145 km van sy tuisdorp na Stella afgelê het.

Onder wit dekens

“Dit was erg om te sien,” sê die geharde speurder.

“Teen die tyd dat ek daar aangekom het, was Sharnelle se lyk reeds losgesny. Marna was ook nie meer waar sy die oggend in ’n sittende posisie teen die bad gekry is nie. Hulle het nou plat op die grond gelê, toe onder wit dekens.

“Ek het dadelik ’n ander ingesteldheid aangeneem. Baie dinge het nie vir my sin gemaak nie,” sê hy oor sy waarnemings op daardie swart dag in Stella se geskiedenis.

Hy het begin rondvra en met mense op die dorp gesels, en baie gou het sy intuïsie hom laat besef: Hy moet by Sharnelle se eks uitkom – die ontbrekende stukkies van die legkaart lê moontlik by hom.

En dit was toe dat Chris in die pad val na Monte se plaas toe.

Die diep lyne aan sy gesig verklap dat Chris al lelike dinge in sy loopbaan gesien het. Tog het dit dié pa van vier seuns geroer toe hy ’n verwilderde Xander aantref waar hy geskok langs ’n plas van sy eie braaksel buite die stoor op sy pa se plaas sit.

By hom was pa Monte, kalm en beheers. En saam met hom was Marna se woedende en gewapende pa, Stefaans Engelbrecht. Marna was Xander se kleinniggie, want haar pa en sy ma, Mercia, is neef en niggie.

Dit sou blyk Monte het vroeër die oggend op pad uit by die plaashek op sy seun afgekom wat in sy geparkeerde Hilux-bakkie sit. Hy kon sien daar is fout met Xander. Dié het boonop nie die vorige aand by die huis geslaap nie.

Toe hy Xander vra wat skort, het dié glo geantwoord: “Lallie het selfmoord gepleeg.”

Hy het omgedraai en is saam met sy seun terug plaas toe. Die dubbele tyding van Sharnelle en Marna se dood het deur die loop van die dag deur Stella en die buurdorpe versprei. Monte het steeds gedink sy seun is geskok omdat sy eksmeisie haar eie lewe geneem het.

Toe Chris kort voor ses die aand op Monte se plaas aankom, was Monte en Stefaans, wat intussen op die plaas aangekom het, in ’n woordewisseling betrokke. Hy moes die situasie ontlont, het Chris besef.

“Stefaans, kon ek sien, was stukkend. Hy wou net eer bewys aan sy dogter.”

Chris vertel Xander het nie “baie vars” gelyk nie en dit was duidelik hy het niks geslaap nie.

“Ek het net baie rustig vir Monte gesê ek wil met sy seun gesels. Ons sê nie nou al hy is skuldig of onskuldig nie. Ons wil hom niks aandoen nie. Ek het hom ook nie in hegtenis geneem nie. Ek wou hom net veilig by die polisiekantoor kry en op pad soontoe alleen met hom gesels sodat ons agter die kap van die byl kan kom,” vertel hy.

Chris het Xander kans gegee om eers sy gesig te was en ’n skoon hemp aan te trek.

“Ek dink hy het vuil gevoel,” sê die speurder en druk sy sigaret dood.

Voor hulle die plaas verlaat het, het Monte vir Chris gevra of hy dink Xander moet ’n prokureur kry.

“Ek het gesê dit sal nou die beste wees, ja,” vertel Chris. Stefaans en Monte het in aparte voertuie na die polisiekantoor gery.

Die rit na Vryburg

In Chris se bakkie was dit net hy en Xander. En praat het hulle gepraat, al het die stiltes soms swaar tussen hulle gelê. Xander het vreemd voorgekom en ook vreemd gepraat – byna met ’n sleeptong, onthou Chris.

Eers het hy ontken hy was enigsins die vorige nag by die koshuis.

“Jy moet net die waarheid praat, ou seun. Jou ouers gaan die waarheid uitvind . . . ” het Chris hom aangepor.

Terwyl die minute verbygetik en Vryburg ál nader gekom het, het hy hom bly pols: “Xander, jy moet met my gesels. Wat het gebeur? Jy is nou alleen saam met my; jy kan met my praat.”

Chris het Xander sover gekry om oor die nag van Sharnelle en Marna se dood te praat voor sy amptelike bekentenis afgeneem is.

In ’n byna eentonige stemtoon terwyl hy sy woorde stadig vorm, het Xander begin vertel waar hy die vorige nag was. Hy het die aand saam met ’n vriend gekuier en het hom laataand by sy huis gaan aflaai. Daarna is Xander na ’n ander vriend se huis toe. Hy het teen 23:00 alleen daar weggery.

Xander beweer in die ure daarna het hy in ’n veldjie gaan stap en rook. Daarna het hy na sy ma, Mercia, op ’n plaas buite Vryburg gery en vieruur die oggend daar aangekom. Al kon hy nie in sy weergawe van elke uur rekenskap gee nie, het hy bly ontken hy was daardie nag naby die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella.

Hy is self ’n oudleerder van dié skool en het verlede jaar daar gematrikuleer. Chris het later by Xander se vriende bevestig dat hulle wel die aand saam gekuier het en hulle hom daarna nie weer gesien het nie.

“Die een het vertel waar daar gewoonlik een of twee Red Bulls in sy bakkie was, was daar dié aand vyf,” sê Chris oor dié energiedrankie.

Xander het op die dag van die moorde ’n bekentenis aan die polisie afgelê.

Huisgenoot het betroubaar verneem Xander het wel daardie Saterdagoggend by sy ma opgedaag en herhaaldelik vir haar gesê: “Daar is nie ’n god nie.” Ook sy het besef daar is groot fout met hom.

Daar in die bakkie het Chris die gevoel gekry Xander het hom nog nie alles vertel nie. Toe sê hy: “Ek weet jy wil nie daaroor praat nie, ek weet jy wil nie weet nie; jy skuif dit alles uit jou kop uit . . . ”

Die privaat speurder het besef hy het net tyd tot hulle op Vryburg kom om die jong man langs hom aan die praat te kry.

“Maar Xander, jy wás die aand op pad na die koshuis toe, nè? Iemand het jou bakkie daar gesien,” het Chris ’n skoot in die donker gewaag, al was hy nie toe seker of dit die geval was nie. Hy kon sien Xander raak ongemaklik.

“Jy het vir Lallie laat weet jy is op pad. Jy het vir jou vriend gesê jy gaan moeilikheid maak,” het Chris Xander gepols met die inligting wat hy toe al uitgevis het.

Eindelik het die jong man erken: Ja, dit was in die veldjie buite Stella waar hy gaan rook het, en ja, hy wás daardie nag by die koshuis. Toe Chris vra of hy kwaad was vir Sharnelle wat twee maande tevore hul verhouding verbreek het, het Xander geantwoord: “Nee, oom . . . Ek het haar liefgehad.”

Daarna het die jong moordverdagte begin vertel wat gebeur het, inligting waarvan die meeste volgens Chris ook in die bekentenis is wat Xander daardie aand aan die polisie gemaak het.

Hy het teen tweeuur die Saterdagoggend by die byna verlate meisieskoshuis aangekom, het Xander vertel. Al die meisies was weg vir die naweek behalwe Marna en Sharnelle, wat later daardie oggend saam met die eerste rugbyspan in ’n bus Koster toe sou ry, waar Sharnelle se ma, Sonja, woon.

Die twee vriendinne sou die naweek by haar kuier.

Hy en Sharnelle het op die trap in die koshuis gaan sit, het Xander byna onhoorbaar sag aan Chris gesê. “Ons het ’n bietjie sit en gesels.”

“En toe soen julle? Julle wou dinge uitpraat?” het Chris gevra. Xander het dit beaam. Sharnelle het vir hom gesê hy moet loop, maar hy wou nie, het hy verder vertel.

“Ek het haar liefgehad,” het hy weer gesê.

Xander het aan Chris beken hy het sy eksmeisie Sharnelle Hough in die vroeë oggendure probeer terugwen.

Daarna het hy weer stil geraak. Chris het aangehou om hom te pols. Later het Xander opgemerk Marna se pa moes hom maar net daar op die plaas geskiet het. Toe vra Chris Xander moet vertel wat gebeur het nadat Sharnelle hom gevra het om te loop.

“Jy gaan nie altyd met die skuldgevoel kan rondloop nie,” het hy gesê. “Jy hoef nie daarmee saam te leef nie. Ek sal jou help sover ek kan. Saam met jou pa.”

Xander wou steeds niks sê nie. Chris het geduldig gebly.

“Vat jou tyd,” het hy gesê.

Terwyl Xander in die bakkie na die grondpad sit en tuur het, het Chris met sy vrae aangehou: “Wat het jou omgekrap? Het iets jou ontstel? Wat het jou laat knak?”

Toe sê Xander: “Dit het soos ’n droom gevoel en toe het ek net daaruit wakker geword.”

“Vertel my wat in jou droom gebeur het?” het Chris hom verder gepols.

Sharnelle wou nie hul verhouding hervat nie, het Xander vertel. Sy het onder meer gesê hy woon te ver van haar en dit gaan nie werk nie.

“Dit het soos ’n droom gevoel, en toe skielik was dit net weer soos ’n nuwe dag,” het Xander vir Chris gesê.

Chris het uitgevra oor die springtou wat om Sharnelle se nek was. Xander het gesê hy het dit in die koshuis se tassekamer gekry. Xander beweer hy het in ’n stadium badkamer toe gegaan en Marna daar aangetref besig om haar hande te was. Sy is na bewering daar verwurg.

Chris glo Xander en Sharnelle het lank op die trap sit en gesels sonder dat sy besef het haar vriendin is dood. Xander het teenoor Chris beweer Sharnelle het vir hom gesê sy wil doodgaan. Oor wat daarna gebeur het, wou hy nie uitbrei nie . . .

Chris onthou weer hoe geskok Xander was toe hy hom op die plaas aantref. Hy dink hy kon self nie glo wat gebeur het nie. Hy het sedertdien talle mense ondervra wat moontlik lig op die gebeure kan werp en werk steeds nou met die polisie saam.

In sy gesprekke met werknemers van die koshuis het Chris later gehoor een vrou het teen kwart voor vier die Saterdagoggend ’n harde slag gehoor. Sy was in die kombuis, sowat 15 m buite die koshuis, maar het nie gaan kyk wat aangaan nie.

In die week ná die moorde het sy weer ’n soortgelyke slag gehoor – die geluid van fietse wat teen mekaar vasslaan. Onder die trap waar Sharnelle se lewelose liggaam met die springtou aan die reling vasgemaak was, bêre die koshuismeisies hul fietse.

Sharnelle se lyk is aan ’n springtou van die trapreling in die koshuis opgehang. Haar bene het tussen die fietse gehang. Marna se lyk is in die badkamer op die grondverdieping gekry.

Chris vermoed die slag wat in die oggendure opgeklink het, was toe haar lyk tot tussen die fietse afgesak het terwyl dit aan die reling opgehang is. Hy vertel Xander het ook reeds uitwysings aan die polisie gedoen.

Toe ons lt.kol. Amanda Funani, Noordwes se provinsiale polisiewoordvoerder, hieroor vra, het sy gesê sy gaan nie oor enigiets rakende die ondersoek kommentaar lewer nie.

Noudat hy as privaat speurder ver buite sy tuisdorp, Hartswater, bekend geword en sy naam landwyd die nuus gehaal het, sê Chris hy voel goed daaroor dat hy Xander aan die praat gekry het. Hy wou hê die woorde moet vrywillig uit sy mond kom . . .


Xander Bylsma

Xander sal weer op 6 Augustus in die landdroshof op Vryburg op twee aanklagte van moord verskyn.

Hy het nog nie om borgtog aansoek gedoen nie, glo uit vrees vir sy veiligheid.