Monte Bylsma is ’n aantreklike en gesiene man. Sy hare is netjies gekam en hy is onberispelik in ’n denim en baadjie geklee. Maar hier waar hy die deur van sy plaashuis in die Louwnadistrik sowat 80 km buite Vryburg in Noordwes oopmaak, lê die pyn en hartseer in sy oë.

Dis duidelik hy het die afgelope paar dae sleg geslaap en swaar gedra. Want sedert dáárdie nuus sy lewe in ’n oogwink kom verwoes het, het die hel waardeur hy gaan nog nie opgehou nie.

Hy kan net nie sy kop daarom kry nie. Dis dan sý seun. Sy lieflingseun saam met wie hy op hierdie plaas, waar hy aartappels en uie aanplant, wou boer. Sy seun wat so lief is vir jag en visvang en grappies maak.

Sy seun wat nes hy lyk.

Sy seun het nog die oggend voor die moorde op Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis ’n WhatsApp-boodskap aan sy ouma aan moederskant gestuur met ’n foto van ’n voëltjie en daarby geskryf: “Oumsie, ek het iets vir jou.”

Maar nou word Xander, hierdie 19-jarige seun van hom, van die moord op Sharnelle en Marna aangekla.

Dit was na verneem word Marna se pa, Stefaans Engelbrecht, wat die nuus op die plaas aan hom gebreek het: Xander word gesoek in verband met die dood van die twee tienermeisies.

Xander was daar, op sy pa se plaas, en Monte moes sin maak van die bewerings teen sy seun terwyl hy hom ook moes groet. Dit was ’n chaos; ’n warboel van emosie en onsekerheid.

Nou nooi Monte ons binne vir ’n koppie koffie in sy keurig gemeubileerde sitkamer. Die huis is vol mense. Dit blyk party het van so ver as die Kaap na Noordwes gereis om Monte en sy tweede vrou, Saret, by te staan.

Elders in die huis het Xander nog tot voorverlede week gebly. Nou slaap hy in ’n polisiesel tot minstens 20 Junie, wanneer hy volgens lt.kol. Amanda Funani, provinsiale polisiewoordvoerder van Noordwes, amptelik in die landdroshof op Vryburg sal aansoek doen om op borgtog vrygelaat te word.

Xander wou met sy vorige hofverskyning nie om borgtog aansoek doen nie omdat hy bang was mense doen hom leed aan.

Hy het ’n bekentenis aan die polisie afgelê oor die dood van Sharnelle, sy eksmeisie, en Marna, sy kleinniggie. Dié bekentenis sal eers later in die hof dien.

Dan word boonop nou beweer Xander het moontlik ná die twee tienermeisies se dood twee WhatsApp-boodskappe van Sharnelle se foon aan haar ouers gestuur om die dubbele dood na selfdood te laat lyk.

Dié boodskappe moes glo soos “selfdoodbriewe” lyk – glo net om Xander se spore dood te vee.

Monte, ’n oudpolisieman, skud sy kop. Dis alles net te veel.

“Ék het hom grootgemaak,” sê hy met selfvertroue. Monte en Xander se ma, Mercia, is geskei toe Xander klein was.

“Mense het nie ’n friggin’ clue wat aangaan nie. Hulle ken my nie. Hulle ken nie my kind nie. Hoekom wil mense oor my kind kommentaar lewer?” vra hy.

Hy raak vurig. “Het jy ’n kind? Jy kan nie dit vir jouself indink nie. Jy kan dit nie verstaan nie. Die dag as jy kinders het en jy maak hulle groot en jy kom waar ons vandag sit, dan kan jy na my terugkom.

“Waar bly ons? Op aarde, ja. Is daar volmaakte mense op hierdie aarde? Jou kind is nie gevrywaar teen sonde nie. As jy dink hy of sy is, maak jy ’n moerse fout.”

Hy vertel hy het ná die tienermeisies se dood en Xander se inhegtenisneming met Sharnelle se pa, Ronnie Hough, gepraat.

“Hy het vir my gesê: ‘Ek kan berusting kry. Ek weet my kind is dood. Jy nie.’ Wat meer as dit kan ek jou sê? Hy kan berusting kry. Ek nie.”

Sharnelle se gebroke stiefma en pa, Anna en Ronnie Hough. Sharnelle en Marna is in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella vermoor. Foto: Martin de Kock.

Elke nou en dan wys Saret met haar hand Monte moet eerder stilbly. Hulle is nou al sowat vier jaar getroud. In dié tyd het Saret en Xander lank onder dieselfde dak gewoon.

“Ons ken Xander. Dit maak nie saak wat die ander mense van hom sê of dink nie, ons het hom lief en ons weet wie hy is,” sê Saret.

Twee aande later vertel ’n buurman van die Bylsmas in ’n kroeg op Vryburg Monte is ’n goeie ou en “dit is sleg so ’n goeie mens word so gestraf.

“Ek bly al jare langs Monte; hy is ’n goeie man. As ’n mens ’n probleem het, is Monte dadelik daar om te help.” Hy het min van Xander gesien terwyl dié saam met sy pa op die plaas gebly het, vertel die buurman.

Hoekom sou die krulkoptiener sy eksmeisie en haar boesemvriendin vermoor het? “Nee f**, net die duiwel sal weet,” sê hy en vat nog ’n sluk van sy drankie. Dan voeg hy by: “Ek kry Monte jammer.”

Op ’n ander plaas buite Vryburg probeer Monte se eksvrou, Mercia, haar eie smart oor die bewerings teen haar seun verwerk. Sy het nie kans gesien om Xander se eerste hofverskyning of Sharnelle en Marna se gedenkdiens by te woon nie; die wonde is net te rou.

Xander is immers haar enigste kind. “Xander is nou vir my belangriker as enigiets anders. Ek gaan voluit tot aan die einde, tot die dood ons skei, by my kind staan,” sê sy.

Xander se ouma is verslae oor die stories oor haar kleinkind. Dit waarvan hy beskuldig word en die Xander wat sy ken – dis twee verskillende mense.

“Iets moes gebeur het,” laat sy in ’n WhatsApp-boodskap weet.

‘Die moordenaar wou die toneel soos selfdood laat lyk’

“Eendag as jy dalk die kans kry om met Xander self te praat, sal jy ervaar watter liefdevolle seun hy is.

“Hy is my seuntjie, my engelkind vir wie Oumsie gebedsbriefies in sy skoolhemp moes sit toe hy verlede jaar in matriek was.

“Dit is my lieflingseun wat nou so gestenig word. Dit breek ons.”

Die dag ná ons besoek aan Monte se plaas kom die mense van die omgewing in hul honderde by die NG Kerk Vryburg-Noord bymekaar. Dis die eerste dag in Junie; die eerste dag van wat ’n láng winter sal wees.

Die gemeenskap is stukkend. Ook Monte en Saret is by die gedenkdiens waar verpletterde neefs, niggies en ander familielede van Sharnelle en Marna hul eenderse wit houtkiste by die kerk indra.

Dis net blou en donkergroen waar jy kyk – ’n plaat leerders van Stella en Vryburg se hoër- en laerskole. Almal huil.

Niemand in dié kerk sou ’n week tevore kon dink hulle sal almal met soveel vrae onder een dak aan twee sonskynkinders moet tot siens sê nie, sê ds. Stephen de Villiers.

“En nou: Geloof, hoop en liefde bly. Hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde,” lees die dominee uit 1 Korintiërs 13.

Die begrafnisbrief, vol briewe en foto’s van die twee vrolike boesemvriendinne, wys hoe geliefd hulle was.

In haar briefie in die begrafnisbrief skryf Sharnelle se ma, Sonja: “My hart is stukkend hier waar ek nou sit. My kind, jy het die mooiste lag gehad, die mooiste ogies, en jy was ’n mooi mens uit en uit.

"My kind, jy is nou op ’n beter plek by ons hemelse Vader. My liefie, jy sal nooit alleen wees nie en jy en Marnatjie is nou daar waar julle altyd gelukkig en veilig sal wees.”

Ná die diens vorm die skoolleerders twee rye buite die kerk se deur. Die vermoorde meisies se familielede stap huilend deur die rye leerders en dra die twee kiste na twee lykswaens.

Een vir een laat los die skoolkinders pienk, blou en pers ballonne.

Familie en vriende van ­Sharnelle en Marna het hulle met ballonne gegroet. Foto: Martin de Kock.

Terwyl dit na bo sweef en in die wolklose hemel verdwyn, omhels hulle mekaar in klein groepies. Hul skouers ruk soos hulle huil.

Die dag voor die begrafnis ontmoet ons Sharnelle se pa, Ronnie Hough, en sy tweede vrou, Anna, by ’n lodge buite Vryburg.

Ronnie se oë is nog net so geswel en rooi gehuil soos toe hy die vorige Maandag by die landdroshof kom kyk het hoe Xander in die beskuldigdebank verskyn.

Sharnelle was Ronnie se oogappel, vertel Anna. Hy en sy enigste kind het dieselfde blou oë. Ronnie is ’n voerkraalbestuurder op ’n plaas sowat 48 km buite Stella en Anna ’n huisvrou.

Hulle het besluit om Sharnelle na die Hoërskool Stella te stuur omdat dit volgens hulle ’n puik skool en die naaste aan hulle is. Ronnie het voor die dag van sy dogter se dood nooit gedink sy kind se veiligheid kan in die koshuis in gedrang wees nie.

Sharnelle was amper elke naweek by die huis, behalwe wanneer sy by ’n maatjie gaan kuier het. Tuis was Sharnelle lief daarvoor om saam met haar pa op ’n motorfiets in die veld te ry.

Tog was dit vir sy dogter net so lekker om vroeg Maandagoggende na die koshuis terug te gaan. “Sy was dol oor die koshuis.

"Ek het in ’n stadium oorweeg sy moet na die plaas terugkom en ons ry elke dag in skool toe, maar sy wou nie. Sy het gesê sy verkies dit om in die koshuis by haar maatjies te wees,” sê Ronnie.

Sharnelle en Marna, haar beste vriendin sedert hul kinderjare, sou die Saterdag van hul dood ’n geleentheid met die skoolbus na Koster kry, waar die eerste rugby- en netbalspan wedstryde sou speel.

Marna sou netbal speel en Sharnelle sou die dag by haar ma, Sonja, deurbring en weer die middag laat saam met die bus terugry.

Ronnie by die begrafnis. Foto: Martin de Kock.

Ronnie het haar die Vrydagaand voor haar dood omstreeks 20:30 gebel om oor die reëlings te praat.

“Toe sy die foon antwoord, was sy en Marna besig om op die bed te spring. Sy het so gelag. Ek kon amper nie eens hoor wat sy sê nie. Sy het toe vir Marna gesê sy wil net klaar met haar pa praat.”

Anna sê saggies: “Hulle was altyd so laf.”

“Jy kon hoor daar was niks fout nie,” sê Ronnie. Die twee sou daardie aand alleen in die koshuis deurbring en het volgens die polisie die matrone gevra om die voordeur oop te los omdat iemand vir hulle klere bring.

Daaroor het Ronnie steeds geen sekerheid nie. Maar toe, om 04:17 die oggend, piep ’n WhatsApp-boodskap op Ronnie se foon. Die geluid maak hom nie wakker nie.

Toe hy omstreeks 06:00 wakker word, sien hy eers die boodskap: “Pappa ek is jammer ek en marna sal van di plek af weg gaan. (sic)”

Hy bel sy dogter dadelik. Maar dié keer was daar nie ’n laggende stem aan die ander kant nie. Net ’n luitoon.

Teen 06:30 bel Ronnie die koshuisvader. Sy gesig vertrek van die pyn toe hy vertel: “Hy sê toe vir my my kind is dood en dit was selfdood.”

Ronnie kon dit nie glo nie. Nie van sy dogter nie – sy het dan altyd gelag; sy het dan nog die vorige aand gelag toe hulle met mekaar praat?

Ronnie het sy ouer broer, Louis, gebel en gevra om te gaan kyk wat by die koshuis aangaan.

Louis was in daardie stadium op die pad en naby Stella. Toe Louis by die koshuis instap, het Sharnelle se lyk nog aan die trapreling gehang. Louis moes Ronnie bel en die hartverskeurende nuus met sy kleinboet deel: “Dit is so. Jou dogter is dood.”

Ronnie het kort daarna by die koshuis opgedaag. Dit het toe reeds gewemel van polisielede. Marna se lyk is intussen in die badkamer aangetref met die band van ’n handsak om haar nek.

En daar doen Louis en Ronnie iets wat hulle nooit, nie eens in hul verskriklikste nagmerries, sou kon voorstel nie: Louis sny die tou om sy broerskind se nek af, en Ronnie hou sy dogter vas terwyl haar lewelose lyk in sy arms sak.

Ronnie vertel nou dit was nie sy dogter wat daardie SMS-boodskap van haar foon gestuur het nie.

Dit moes haar moordenaar gewees het, glo hy, want volgens die polisie se nadoodse ondersoek is sy kind tussen 02:00 en 03:00 vermoor.

“Die moordenaar wou die toneel soos selfdood laat lyk,” beweer Ronnie en vat ’n sluk van sy brandewyn-en-Coke. Albei meisies is verwurg.

Marna is in die badkamer aangetref met wat lyk soos ’n handsak se band om haar nek. Sharnelle, geklee in ’n oefenbroek en ’n top, is deur haar moordenaar met ’n tou om haar nek aan die trapreling vasgemaak.

Marna se ouers is nog nie bereid om oor die moord op hul slim, mooi dogter te praat nie.

Op Facebook het Marna se pa, Stefaans Engelbrecht, geskryf dit was hý wat dieselfde middag van sy dogter se dood Xander op sy pa se plaas laat haal het.

Sharnelle Hough (regs) en haar beste vriendin, Marna Engelbrecht, wat ook die kleinniggie is van die jong man wat nou vir haar en Marna se ­moorde teregstaan, op dieselfde geleentheid. Foto: Verskaf.

Hy beweer Xander het al twee maande gelede dreigemente teenoor die meisies gemaak. “Toe was my kind se lewe al bedreig,” beweer hy in sy Facebook-inskrywing.

In nog ’n inskrywing skryf Stefaans: “Ek sien nie die lig vorentoe nie.”

Ná Sharnelle se dood en Xander se inhegtenisneming maak dit seer om na foto’s te kyk van hulle twee saam, sê Ronnie.

Hulle was sowat 11 maande lank ’n paartjie en het eers onlangs hul verhouding beëindig nadat hulle verlede jaar saam op Xander se matriekafskeid was.

Sharnelle straal op al die foto’s, maar daar was eintlik toe al gevaarligte, sê Ronnie. Hy wil nie uitbrei oor die beweerde probleme tussen Xander en Sharnelle nie, ook nie oor bewerings dat Xander jaloers en besitlik was nie.

“Xander was altyd nice wanneer hy by ons (op die plaas) gekom het. Hy was altyd bedagsaam. Hy het goeie maniere gehad. Ek kon aanvanklik niks verkeerds sien nie,” sê Ronnie.

“Hy het Sharnelle op sy hande gedra wanneer hulle op die plaas was. Sy het altyd gesê daar is nie fout nie.

“Ons het daardie kind in ons huise en harte toegelaat. Hy was die smartste laaitie wat jy kon kry,” beaam Louis.

Maar dan sê Ronnie: “Ek het agterna die stories begin hoor. Hoe dit was wanneer hulle alleen is . . .”

Ronnie sê hy kry Xander se ouers jammer oor dít waardeur hulle nou gaan. Hy het kort ná die moorde met Mercia en Monte gepraat en hulle sterkte toegewens met Xander se hofverskyning.

Xander en ’n eksmeisie in 2016 op die Hoërskool Stella se Valentynsbal. Foto: Verskaf.

“Ek het vir haar gesê: ‘Luister hier, Mercia, dit is nie jou skuld nie.’ Monte het niks aan my kind gedoen nie. Mercia het niks aan my kind gedoen nie.

"Nie een van hulle het hul hande om my kind se keel gesit nie. Of ’n tou om haar nek nie.

“Hoekom moet ek vir hulle kwaad wees?

“Nie alle ouers is perfek nie. Jy kan jou kinders grootmaak, maar dit kom op ’n punt waar hulle verder op hul eie grootword.”

Hulle vat dinge nou dag vir dag, minuut vir minuut.

“Een oomblik is jy orraait, en die volgende oomblik is dit asof alles net te veel raak,” sê Anna.

Die hele streek trek swaar. Ronnie vertel dit is ’n geslote gemeenskap, “maar as die pawpaw die fan strike, staan die mense saam”.

Selfs al pak die verdriet en vrae soos onweerswolke op die horison saam.