Ronnie Hough, pa van die vermoorde tiener, Sharnelle, sê 10 dae is vir dié verhoor opsygesit.

“Ek sal daar wees,” het Ronnie Woensdag kort ná Xander se verskyning aan Huisgenoot gesê. Hy glo 10 dae sal genoeg wees vir die verhoor. Die verhoor sal van 4 tot 15 Maart duur.

Hoewel Xander intussen sy bekentenis aan die Vryburgse polisie ná daardie moordnag op 26 Mei teruggetrek het, is Ronnie vol vertroue dat die staat sy saak teen Xander (19) sal kan bewys. Hoewel Xander nou onskuldig pleit, het hy glo ook uitwysings aan die polisie gedoen.

Sharnelle (17) en haar beste vriendin, Marna Engelbrecht (16), is op Saterdag 26 Mei verlede jaar vroegoggend in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella in Noordwes verwurg.

Sharnelle se lyk is daarna aan die trapreling opgehang om dit na bewering soos selfdood te laat lyk. Marna se lyk is met 'n handsakband om die nek langs ’n bad in die badkamer van die koshuis aangetref.

eNuus se Mia Spies het Woensdag foto’s uit die hof getwiet. In die hof het Rianet Engelbrecht skuins agter Xander gesit. Hy het ’n blou T-hemp aangehad en blou keps op sy kop. Marna was Xander se kleinniggie.

Ronnie het bevestig hy het nie die verskyning bygewoon nie aangesien hy reeds geweet het wat die verhoordatum gaan wees.

Hy sê hy en sy pa, Giel, en broers sal die verhoor bywoon asook ander familielede wat van die werk sal kan afkry.

“Dit gaan nie lekker wees nie, maar ek wil daar wees vir my kind,” sê Ronnie.

Xander is vroeër op Oukersdag borgtog geweier. Hy bly in aanhouding in die Rooigrond-gevangenis in Noordwes.