“Dit was short and sweet,” het Conrad Bester, Xander se prokureur, Donderdag na afloop van regter Ronald Hendricks se uitspraak in Xander se binneverhoor aan Huisgenoot gesê. 

“Die regter het nadat ons en die staat slotbetoë gelewer het die bekentenis en uitwysings voorlopig aanvaar,” het hy beklemtoon.

“Die regter sal dus later in die hoofverhoor besluit of die toelaatbaarheid van die bekentenis en uitwysings as bewyse, finaal gemaak sal word. Ons voel steeds positief (oor sy saak),” het hy ten spyte van die verdoemende bewyse gesê.

Xander raak emosioneel terwyl hy praat oor sy verh
Xander raak emosioneel terwyl hy oor sy verhouding met Sharnelle praat. Foto: Getty Images/Gallo Images


Xander (20) word daarvan aangekla dat hy in die oggendure van 26 Mei 2018 sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16), in die koshuis van die Hoërskool Stella verwurg het.

Sharnelle se hangende lyk is omstreeks sesuur daardie oggend aan die trapreling gevind en Marna met ’n band om die nek op die nabye badkamervloer.

Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough is in
Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough is in die meisieskoshuis van die Hoër­skool Stella vermoor.

Die staat voer aan dat Xander later die dag, op 26 Mei, “sekere verklarings” aan die privaat speurder Chris Saunders gemaak het, waarna Xander, nadat Saunders hom van sy pa, Monté, se plaas na die Vryburg-polisiekantoor geneem het, amptelik aan die polisie skuld beken het. Hy het ook daarna uitwysings aan ’n tweede senior polisiebeampte gemaak.

Dit is dié bekentenis en uitwysings wat eers in ’n binneverhoor deur Xander betwis is. Hy het in die binneverhoor aangevoer Saunders het hom gedwing en dat hy bedwelm was weens angsmedisyne wat hy geneem het.

Foto: Getty Images/Gallo Images
Xander Bylsma word deur sy ma, Mercia, gesteun tydens die verrigtings. Foto: Getty Images/Gallo Images

Volgens Netwerk24 het die staat Xander Donderdag in sy slotbetoë as ’n “skaamtelose, patologiese leuenaar” beskryf.

Regter Hendricks het die saak na 25 November tot 6 Desember uitgestel sodat die hoofverhoor nou sy gang kan gaan.