Dit breek haar moederhart om haar seun so deur die glasvenster van die tronk se besoekhokkie te sien. Maer, uitgeteer en terneergedruk.

Sy welige bos bruin krulhare tot amper op sy kopvel afgeskeer. Skaars sewe maande gelede was haar seun nog op die skoolbanke, ’n fris en gespierde rugbyspeler.

“Sy lyf was vir my so mooi . . . Nou is hy net ’n sak bene,” vertel sy ma en bars weer in trane uit. Van sy lewenslus en energie is min oor.

“Hy glimlag nooit meer nie,” sê sy.

Vir die res van die land is hy Xander Bylsma (19), die vermeende Stella-moordenaar.

Dié rustige dorpie in Noordwes steier steeds oor die skokdood van Xander se eksmeisie, Sharnelle Hough (17), en dié se beste vriendin, Marna Engelbrecht (16). Maar vir Mercia Bylsma bly hy net haar Worsman, soos sy haar seun noem.

Xander staan tereg op aanklagte van moord op Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough.

“Hy het maar vyf maande van sy volwasse lewe gehad. Hy het skaars ses maande gelede sy rybewys gekry,” vertel sy deur haar snikke.

Xander het kort voor ons druktyd die tweede keer in die hof verskyn op aanklag van die moorde in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella in Mei vanjaar.

Xander met sy tweede hofverskyning by die landdroshof op Vryburg.
Xander met sy eerste hofverskyning by die landdroshof op Vryburg.

Mercia was in die hof, maar halfpad deur die verrigtings het sy die hofsaal in trane verlaat. Buite moes familielede haar troos.

En hier sit ek – die enigste een wat met liefde na hom kyk.

“Sjoe, dis ’n nagmerrie, eerlikwaar,” het ’n familielid daarna aan ons gesê.

“Sy bel my saans, en ek hoor hoe sy huil. Dis nie lekker nie. Ek het vir haar vandag gesê sy is ’n baie sterk vrou, want ek sal dit nie kan doen nie. Ek sweer ek sal nie kan nie.”

Oor daardie toneel in die hof sê Mercia nou: “Dit is iets verskrikliks. Om te weet almal agter jou kyk met haat na jou. En hier sit ek – die enigste een wat met liefde na hom kyk.

“Ek wens nie my ergste vyand so iets toe nie. Daai maer mannetjie wat weerloos voor in die hof staan, dit is my seun. Ek voel of ek net wil skree: ‘Dis my Worsman daai!”

Sy tel elke dag af sedert Xander op sy pa, Monte Bylsma, se plaas naby Vryburg in die privaat speurder Chris Saunders se bakkie geklim en by die polisiekantoor ’n bekentenis afgelê het. Dis nou al dag 47, sê Mercia.

Xander se pa, Monte Bylsma, ook by die hof met sy tweede verskyning.

Besoeke

Elke Dinsdag ry die geskeide ma, wat boekhouwerk doen, die twee uur van Vryburg na die Rooigrond-tronk in Mafikeng, Noordwes, om Xander te besoek.

“Worsman, my Worsman . . . Hy het so maer geword,” sê sy weer. Volgens Mercia het haar kind 23 kg verloor in twee maande in die tronk.

“Hy sê die pap en groente en bredie is te sleg. Hy probeer dit ruil vir ekstra brood. Al wat hy eet, is so twee snye brood per dag.

“Laas by die tronk het my Worsman my gevra om vir hom van daai lekker bruin brood met die pitte in te bring. Dit breek my hart om dit te hoor, want voorheen was hy nooit ’n groot broodeter nie.”

Hy het haar ook al ’n paar keer gevra om vir hom Romany Creams, sy gunsteling, te bring.

“Maar Worsie, die tronk laat dit nie toe nie,” moes sy hom elke keer herinner.

Met die geld wat sy weekliks in sy tronkrekening inbetaal, kan hy darem vir hom kougom en aartappelskyfies by die tronk se snoepie koop.

“Hy vra selfs ekstra geld om goedjies te koop vir sy selmaat, wat nie besoekers kry nie.”

Sy huil weer.

En die welige bos donkerbruin krulhare, wat vir haar altyd so mooi was by sy groen oë, moes sy tannie vir hom voor sy laaste hofverskyning afskeer.

Worsman het altyd gesê sy krag is in sy hare, nes Simson van die Bybel.

“Dit was om van die tronkluise ontslae te raak. Hy was oortrek met luise – in sy hare, in sy wenkbroue en sy ooghare,” vertel Mercia met ’n bewende stem.

“Hy het nog gesê: ‘Tannie, jy skeer nou my trots af.’ Hy was altyd so ’n netjiese seun. Soggens vyfuur was hy gereed om skool toe te gaan in ’n vars gestrykte hemp, das en baadjie. Hy het altyd ’n pet gedra om sy hare plat te hou. Worsman het altyd gesê sy krag is in sy hare, nes Simson van die Bybel.”

Xander en Sharnelle toe hulle nog uitgegaan het.

Sy vertel die luise se bytplekke aan sy lyf jeuk verskriklik.

“Hy krap dit heeltyd en nou lyk dit amper soos pokmerke.”

Maar die ergste vir haar is dat haar seun, wat altyd vol lewenslus en propvol energie was, nooit meer glimlag nie.

“Hy het vir my gesê: ‘Mamma, dit is die eerste keer in my lewe dat ek my vir myself skaam. Ek kan nie meer nie,’ ” sê Mercia.

'n Geskenkie

Maar al trek hy swaar, is hy steeds haar liefdevolle kind. Met haar laaste besoek het hy vir haar ’n geskenkie gehad: ’n koekie goedkoop seep oortrek met blinkertjies: “Mamma, dis net vir mamma,” het hy gesê.

“Hy het sy ekstra tandepasta vir die mooi sepie vir sy ma geruil. Hy’t gesê: ‘Mamma, ek wens ek kon vir mamma ’n bos veldblomme pluk, maar dis al wat ek hier binne kon kry.’ Dis tipies van Xander dat hy iemand anders spesiaal wil laat voel.”

Oor die komende moordverhoor en of sy glo haar kind is skuldig of onskuldig, wil Mercia haar nie uitlaat nie. Ook nie oor of sy en Xander daaroor praat nie.

Xander het volgens die staat kort ná sy inhegtenisneming ’n bekentenis aan die polisie afgelê.

“Ons gesels maar meestal oor hoe dinge by die huis gaan,” vertel sy ma.

Sy vra hom ook wat hy wil doen as hy die dag uit die tronk kom.

“Hy sê net hy verlang na die veld. Hy is ’n veldmens. Hy wil weer gaan jakkalse skiet.”

Al is hy maer, uitgeteer en soms terneergedruk, het haar seun nog hoop.

“Hy het nog vertroue en geloof in die Here; hy het nog nie hoop laat vaar nie.”

Slapelose nagte en eindelose trane

Die nag voor ’n tronkbesoek kan sy gewoonlik nie slaap nie, want sy is te opgewonde omdat sy haar seun gaan sien.
Maar wanneer besoektyd verby is, voel dit asof haar hart in stukke breek.

“Ek loop 1,5 km van die tronk se besoekersentrum tot by my kar. Ek en my pa. In daardie 1,5 km huil ek meer trane as wat ek kan dink. Ek en my pa loop hand om die lyf terug kar toe. Wanneer ons daar kom, huil ons verder,” vertel Mercia.

En terug by die huis, in die lang nagte tussen besoekdae, ontwyk die slaap haar dikwels.

“Ek is bekommerd daaroor of hy warm genoeg is, of hy eet en genoeg slaap. Ek is bekommerd oor sy veiligheid.”
Sy wil weer ’n slag haar seun teen haar vasdruk.

“My Worsie, my Worsman . . . Hy is my alles.”

FOTO'S: GALLO IMAGES/NETWERK24/ SIMON SONNEKUS, FACEBOOK