Die prokureur van die Stella-beskuldigde, Xander Bylsma, het Donderdag met die aanvang van sy verhoor aan die saak onttrek.

Dít kom nadat ’n nuwe bewysstuk – ’n bandopname waarin Xander sekere bekentenisse op die dag van die moorde aan die privaat ondersoeker Chris Saunders maak – onder die staat se aandag gekom het en aan sy regspan gegee is.

'n Binneverhoor sal na verwagting Dinsdag gehou word om die toelaatbaarheid van ’n transkripsie van dié opname te bepaal.

Moolman Wessels het Vrydag aan Huisgenoot gesê: “Ek het nie gister kommentaar gehad nie, en ook nie vandag nie.”

Mia Spies van eNuus het getwiet Moolman het weens “botsende belange” onttrek.

Huisgenoot het betroubaar verneem dit gaan daaroor dat hy aan Xander ’n ultimatum gestel het om die pad vorentoe anders te benader nadat hy die bandopname bestudeer het.

Op ’n vraag of dít die “ botsende belange” was, het hy weer herhaal: “Geen kommentaar”.


Die aanklagte

Xander (19), wat daarvan aangekla word dat hy sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16), in die oggendure van Saterdag 26 Mei verlede jaar vermoor het, se verhoor moes Maandag begin het.

Dit sou tot 15 Maart in die Noordwes-hooggeregshof in Mmabatho geduur het.

Sharnelle Hough (links) en Marna Engelbrecht, van
Sharnelle Hough (links) en Marna Engelbrecht, van wie se moorde Xander Bylsma beskuldig word.

Sharnelle oftewel Lallie, soos haar geliefdes haar genoem het, sou Vrydag haar 18de verjaardag gevier het.

Anna Hough, haar stiefma, het onder meer op haar Facebookblad geskryf hoeveel hulle hul "engelkind" mis.

Xander het Donderdag 'n ander opdraggewende prokureur aangestel, maar hou sy oorspronklike advokaat.

Die bandopname

Die staatsaanklaer, adv. Johan Smit SC, het Maandag toe die verhoor moes begin aangedui die bandopname het eers in die week voor die verhoor onder sy aandag gekom.

Hy het dit toe aan die verdediging gegee. Hy het die verdediging se aansoek gesteun om die verhoor na Donderdag uit te stel om eers met Xander daaroor te konsulteer.

Huisgenoot het betroubaar verneem die bandopname bevat ’n gesprek tussen die privaat ondersoeker Chris Saunders van die sekerheidsmaatskappy Crime Busters Sekuriteit op Hartswater. Chris is ’n sleutelgetuie in die moordsaak.

Chris Saunders, ’n privaat speurder van Hartswater, het op die dag van die Stella-moorde, die verdagte, ­Xander Bylsma, in dié bakkie na die polisiekantoor op Vryburg gebring.

Chris het die dag van die moorde by die saak betrokke geraak toe Richard Hobson, die voorsitter van die beheerraad van die Hoërskool Stella, hom kontak.

Chris het voorheen vir Richard werk op sy plaas gedoen. Chris het Xander die middag op sy pa, Monte, se plaas aangetref.

Xander, Monte en Stefaans Engelbrecht, die vermoorde Marna se pa, was op daardie oomblik in ’n woordewisseling met hulle betrokke.

Stefaans het daarna die plaas verlaat en Xander is saam met Chris in sy bakkie daar weg na die polisiekantoor op Vryburg.

Dit was hier waar hy in hegtenis geneem is.

Xander het nadat hy sy bekentenis aan die polisie teruggetrek het, aangevoer Chris het hom gedreig en voorgesê om dit te doen.

Die staat wil glo daarom die bandopname as bewys op die rekord plaas.