“Tyd sal bepaal. Ons wag nog vir die klagstaat,” het Moolman Wessels, die 19-jarige se prokureur aan huisgenoot.com gesê na Xander Vrydag in die Vryburg-landdroshof verskyn het.

Hy is al meer as vier maande agter tralies en sal na verwagting eindelik op 12 Oktober pleit wanneer hy weer in die beskuldigdebank staan.

Xander se eksmeisie, Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16) is op 26 Mei vanjaar dood in Hoërskool Stella se meisieskoshuis aangetref. Xander het glo die volgende oggend sekere bekentenisse gemaak en is in verband met die moorde aangekeer. 

Moolman het verduidelik hy het vir uitstel vir sy kliënt gevra, maar hy het nie gedink dit sal tot volgende maand uitgestel word nie.

Marna Engelbrecht se gebroke pa, Stefans het vanoggend heel voor in die hof langs aan Sharnelle se pa, Ronnie gesit. 

Stefans het gister op sy Facebook-blad ’n foto van homself en Marna ouer suster gedeel. Dit was haar matriekafskeid. 

In die foto staan Stefans met sy arms oop, met sy oudste dogter in sy een arm. Die ander arm is leeg. 

“Onder die ander arms moes Marna wees vir die matriekafskeid,” het Stefan gister by die foto geskryf. Die inskrywing is intussen afgehaal en met ’n ander inskrywing vervang. 

  • In Huisgenoot se uitgawe van 4 Oktober wat tans op die rakke is, het Marizka Jones ’n eksklusiewe onderhoud met Xander in die Rooigrond-gevangenis gevoer.