Dit is die woorde van Nicole Muller se pa, Tony Absolon, nadat hy sy dogter in ’n tragiese skietvoorval in die Stellenbosse nagklub Cubana, verloor het. 

Die voorval het Vrydag om middernag plaasgevind. 

"Ek is geskok, hartseer en my hart is in miljoen stukke gebreek oor die ontydige afsterwe van my dogter, Nicole Muller (Absolon), in 'n tragiese skietvoorval op Stellenbosch.

"Ter viering van haar vriendin se verjaardag en terwyl hulle op pad huistoe was, het sy in die kruisvuur beland terwyl sy en haar vriendinne die Cubana-klub verlaat het. My pragtige engel het afgesterf en haar man, André, en my twee kleinseuns Daniël (5) en Jona (3), wat ten tyde van die voorval by die huis was, agtergelaat.

"Ja my FB-vriende, my dogter het net 'n statistiek geword in hierdie land van ons. Waar is die geregtigheid, soveel onbeantwoorde vrae. Ja, ek is uiters kwaad, maar diep in my hart weet ek dit was God se wil en sy is nou in 'n beter plek.

"Nicole was die lewe van die familie en ek gaan haar geweldig mis. My onvoorwaardelike belofte aan haar is dat ek die hele gesin bymekaar sal hou en saam met André die seuns tot die beste van ons vermoë sal groot maak.

"Ek weet dit is wat sy wil hê ons moet doen. Ja, 'n leë stoel hierdie jaar by die kersttafel, maar jy sal daar in gees wees my ENGEL. Vaarwel / Hamba Kahle," lui die inskrywing. 

Nog ’n persoon, Donovan Jacobs (40), is oorlede. 

’n Derde persoon is in die skietvoorval gewond en is in ’n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.