Volgens polisiebronne het twee rowers omstreeks 03:30 by die huis in De Wet-straat, Brandwacht, ingebreek. Die eiendom word tans opgeknap. 

Brandwacht is een van die rykste buurte in die land, toon sensussyfers van 2013.

Volgens News24 se bronne het ’n egpaar, hul 14-jarige seun en ’n driejarige kleuter geslaap toe die aanval plaasvind. 

Daar word verneem die tiener het die inbrekers se voetstappe in die huis gehoor en hulle probeer afweer deur hulle met ’n gholfstok aan te val, en is in die gesig gesteek. 

Hy word nou in ’n hospitaal in Stellenbosch behandel.

Die 42-jarige pa is in sy slaapkamer doodgesteek, blykbaar ná ’n struweling.

Netwerk24 het die man geïdentifiseer as Pieter Verster, ’n streeksbestuurder van Absa. 

Die polisie was om 07:00 Dinsdagoggend nog op die toneel. Dit was nog nie duidelik wat uit die huis gesteel is nie. 

Die Wes-Kaapse polisie het nie dadelik op versoeke vir kommentaar gereageer nie.