Adel Cato (20), ’n B.Com.-student in haar tweede jaar en ’n inwoner van die Magrietjie-vrouekoshuis op die Tuks-kampus, het breinskade en bloeding op die brein opgedoen toe sy op 16 Julie op pad na ’n restaurant deur ’n jong man raakgery is.

Frank Cato, haar pa, vertel Adel het dié week met rehabilitasie begin in ’n poging om haar van voor af te leer loop, praat en selfs eet.

“Ons was aanvanklik bekommerd oor haar, maar die span dokters het destyds gesê sy het ’n 85%-kans om weer te herstel en normaal te leef.

“Nou het ons nog beter nuus. Deesdae gaan dit so goed met haar vordering dat dokters meer versigtig optimisties is as tevore: Hulle sê haar kans om heeltemal normaal te leef, het tot 95% verhoog,” vertel hy.

Adel Cato. Foto: Verskaf

Frank sê Adel het die gebruik van haar regterarm en haar bene verloor. Hy sê sy is ten spyte daarvan baie positief en werk hard om ten volle te herstel.

“Ons was bekommerd oor hoe sy sou reageer wanneer sy agterkom sy sal nie onmiddellik kan terugkeer universiteit toe nie of wanneer sy besef dat sy nou meer ingeperk is as tevore,” sê hy.

“Maar ons is verbaas oor hoe ongelooflik sterk sy is. Sy druk haarself baie hard met die rehabilitasie; jy kan sien sy wil regtig weer herstel.”

Volgens hom is Adel se breinfunksie nog laag. Sy ly ook nog aan lang- en korttermyn-geheueverlies.

“Sy sal die een oomblik aan iets dink of daaroor gesels, maar dit later weer vergeet. Dit alles verg maar net tyd en geduld; ons is hoopvol vir haar herstel,” vertel hy.

Adel se herstelproses is verleng weens die beroerte wat sy ’n paar weke gelede gehad het weens bloeding op die brein.

Dokters meen dit kan enigiets tussen 12 en 24 maande neem om haar ten volle te rehabiliteer.

Adel Cato. Foto: Verskaf

“Ons het in dié stadium nog geen waarborg nie, maar ons glo sy sal ná die hersteltydperk weer haar studie kan hervat. Ons besef meer as ooit tevore die herstelpad is langtermyn.”

Frank sê hy en sy gesin is steeds in kontak met die 24-jarige man, wat nie geïdentifiseer wil word nie, wat Adel vroeër vanjaar raakgery het.

Die man het Adel al in die hospitaal gaan besoek. “Dis ’n moeilike tyd vir hom ook. Hy het verlede jaar sy studie voltooi. Ons weet hy moet ook verwerk wat gebeur het en wil hom ruimte gee om dit te doen.

“Sy ma is nog elke dag in kontak met my vrou. Sy wil graag weet hoe dit met Adel gaan en wat haar vordering is. Daar is absoluut geen kwade gevoelens tussen ons nie.”