In die video sien 'n mens hoe Quaden Bayles, wat aan dwergisme ly, ’n slagoffer van boeliegedrag was net voor sy ma, Yarraka Bayles, hom vroeër vandeesweek by sy skool in Brisbane, Australië, opgetel het.

Sy fokus die kamera op klein Quaden wat in trane is terwyl hy reageer op 'n voorval waar hy oor sy voorkoms geterg is.

 “Gee vir my ’n tou, ek gaan myself doodmaak,” pleit Quaden in die video. “Ek wil myself in die hart steek . . . ek wil hê iemand moet my doodmaak. Ek wil doodgaan.

Yarraka het die video op Facebook gelaai om mense bewus te maak oor die negatiewe invloed wat boelies het.

Sy sê dat sy gewoonlik ontstellende voorvalle soos hierdie privaat hou, maar nou genoeg gehad het en geen keuse gehad het as om haar na die publiek te wend nie. 

Aan die begin van die video sê Yarraka: “Ek het my seun pas by die skool opgetel, boeliegedrag waargeneem, die skoolhoof gebel en wil hê mense moet weet wat die invloed van boeliegdrag is. Dis wat dit doen, “ sê sy en fokus dan die video op Quaden wat in trane vertel hoe hy wil doodgaan. 

Yarraka pleit moedeloos: “Kan julle asseblief jul kinders, families en vriende opvoed. Al wat dit neem, is een voorval, en dan wonder jy waarom kinders hulself doodmaak.”

Yarraka het ná die voorval aan Sky News vertel dat sy vir Quaden by die skool gaan optel het toe die boeliegedrag voor haar oë afspeel.

“Ons het hom gaan haal en toe sien ons ’n leerling wat hom optel en hom op die kop tik en gekskeer oor sy lengte. Hy het histeries na my motor gehardloop omdat hy nie wil hê ek moet ’n bohaai by die skool maak nie."

Die video het reg oor die wêreld aandag getrek en soos 'n veldbrand in die sosiale media versprei.

Die Les Miserables-akteur Hugh Jackman het ’n kragtige video-boodskap aan klein Quaden gestuur.

“Quaden jy is sterker as wat jy dink, my maat,” sê Hugh in die video wat hy met sy 14 miljoen volgelinge op Twitter gedeel het.

Hy voeg verder by: “Maak nie saak wat nie, jy het ’n vriend in my.”

Hugh, wat veral bekend is vir sy rol as Wolverine in die X-men-fliekreeks, het sy aanhangers versoek om asseblief gaaf met mekaar te wees.

“Boeliegedrag is nie oukei nie. Punt. Die lewe is moeilik genoeg soos wat dit is. Kom ons onthou dat elke persoon voor ons ’n stryd van hulle eie voer. Kom ons wees gaaf."

Die Walking Dead-akteur Jeffrey Dean Morgan het ook op Twitter na Quaden uitgereik. 

“Ek wil hê jy moet weet dat jy vriende het, insluitend vir my. Ek is jou vriend. Jy het my nog nie ontmoet nie, maar kom ons kyk wat ons kan doen. 

“Jy het klomp vriende daarbuite, oor die wêreld heen wat jy nog nie ontmoet het nie.

"Ons is hier, ons staan agter jou. Jy moet dit weet. Dit sal beter raak.”

Intussen het die Australiese rugbyliga se Indigenous All Stars-span na Quaden uitgereik en hom genooi om hulle Saterdag voor ’n wedstryd op die veld te vergesel.

Die komediant Brad Williams, wat ook aan dwergisme ly, kon aanklank vind by die video.

Hy het besluit om iets mooi vir Quaden te doen deur geld in te samel sodat hy en sy ma vir ’n blaaskans en bederf na Disneyland in Amerika kan gaan.

Die doelwit om sowat R150 000 vir die uitstappie in te samel is vinnig behaal en Brad het op Instagram gesê hy gaan die oorblywende geld aan liefdadigheidorganisasies wat boeliegedrag beveg skenk. 

"Kom ons wys vir Quaden en ander dat daar goedheid in die wêreld is en dat hulle dit verdien.”

Bronne: Sky News en Daily Mail.