Met 2017 op sy rug en 2018 voor die deur is dit tyd vir ’n sorgelose vakansie by die see, familiekuiers om die braaivuur en kreunende kostafels, en natuurlik Kersfees.

Die boom is reeds met liggies versier en ons neurie ingedagte Stille Nag terwyl ons die laaste geskenke met blink papier toedraai. Oral besin mense oor die jaar wat verby is – en die een wat kom.

Met kinders wat die slapies na Kersdag aftel en opgewonde wonder watter geskenke Kersvader vir hulle gaan bring, het Huisgenoot by ’n paar bekendes gaan aanklop en gevra: Sê nou jy kon weer soos ’n kind in Kersvader glo, wat sou jy vanjaar in jou wensbrief aan hom skryf?

LIZZ MEIRING, AKTRISE

Liewe Kersvader

Ek wonder soms in my siniese stilte net

Bederf ons aardse rumoer ook jou Kersfeespret?

Is daar al ’n elfie-unie, Elfsatu, wat jou lewe regeer?

Is daar EEB, wat werk volgens elwe se geslag of kleur?

Kry dié met geel kepse, dié met rooi of dié met blou voorkeur?

Staak hulle net voor die Krismistyd?

Moet jy smeek dat die rendiere hul werk doen?

Is jou slee padwaardig? Kapingbestand?

Het jy visums en inentings vir elke land?

Moes jy die suiker verminder in die kinders se soetgoed?

Is preserveermiddels verbode, en is dit kunspels op jou hoed?

Mag jy net herwinbare verpakking gebruik?

Moet jy e-tol betaal? Lawwe reëls en regulasies fnuik?

Mag kleintjies nog op jou skoot kom snoes? Of is die Kinderwet nou te woes?

Het jy versekering teen speelgoed wat die kroos kan skaad?

Dien topregsmense in jou raad?

Ek wonder net, want Kersfees is vir ons ’n nodige fees

Om met vrede en liefde en deernis te kan leef en te wees.

Hopelik by jou Arktiese huis is jy magies verwyder

Van die kleinlike, wêreldse politiekery en wedywer.

Groete

Lizz

JAK DE PRIESTER, SANGER

Liewe Kersvader

Nog ’n jaar is verby en ons het dit gemaak. Dit was ’n jaar wat my soms bitter negatief gemaak het, en dit is nie ’n goeie gemoedstoestand vir ’n pa van drie nie.

So, liewe Kersvader, vanjaar gaan ons ’n goudgeel Kersboom hê, want ek is desperaat vir ’n verandering. Ek is op soek na sonskyn, na die goudgeel strale van God in ons huis en hart.

Ek het ’n wit boom geel gespuitverf en met geel versierings behang. My kinders het onseker gevra: “Hoekom maak pappa die Kersboom geel?”

“Dis ’n simbool,” het ek geantwoord.

“Wat is ’n simbool?” vra Jamie toe.

“Dit is ’n bewys, ’n teken, dat ek van vandag af soos ’n goudgeel Kersboom ’n lig in die land en wêreld wil wees. Ek wil my gesindheid verander,” antwoord ek.

“Hier sit ek jul geskenke neer, in geel toegedraai. Mija, vir jou ’n pop met ’n vriendelike glimlag sodat die wêreld sal terug smile. Mika, vir jou ’n goudgeel bal wat oral kan hop sodat jou son oral skyn. Jamie, vir jou ’n geel horlosie sodat jy almal kan wys dis tyd om lig in hierdie wêreld in te bring.”

“Vir wie is die groot geskenk?” vra Mija.

“Suid-Afrika! Dis vol sonskyn vir die wêreld se mooiste land.”

Mag ons almal se Kersfees goudgeel wees.

Liefde

Jak

Johrné van Huyssteen, omroeper en TV-aanbieder

Liewe Kersvader

Wat ’n jaar was dit nie, oom! Ek is bly ek hoef nie Desember te werk nie. Sterkte.

Dit was ’n la-a-a-a-ang jaar van stampe en stote.

Ek het ’n lysie wense, maar as dit nie betyds by oom uitkom nie, is dit die Poskantoor se skuld. Hulle moet saam met die pakkies nog Sassa se uitbetalings in orde kry.

  • Vir ons pres. Jacob Zuma: so ’n bietjie skuldgevoel, ’n beter laggie en ’n groot storm oor sy huis in Nkandla.
  • BVir Helen Zille: ’n verbod op haar Twitter-profiel. Permanent.
  • Vir Pravin Gordhan: ’n Dis-Chem-franchise; hy’s mos ’n apteker.
  • Vir al die kinders: vars drome en goeie mense in hul lewe.
  • Vir boere: veiligheid.
  • Vir die townships: mure om huise, ADT-wagte en teerstrate.
  • Vir myself: goeie wyn, ’n vleisie en genoeg kole.
  • Belangrikste van alles: Pres. Donald Trump kry niks!

Rooineusgroete

Johrné van Huyssteen

EDWIN VAN DER WALT, AKTEUR

Liewe Kersvader

Die baard, kussings vir ’n maag en ho-ho-ho-lag in ’n diep stem, die kinders se groot oë, geskenke uitdeel en lekker kos – dis my herinnerings aan Kersfees.

Al was dit ek wat by die huis Kersvader gespeel het. Ek neem aan jy en Jesus ken mekaar. Hy sê ons moet Hom altyd eerste kies; daarom vra ek jy moet Hom vra of ek dié Kersfees baie geskenke mag kry?

My lysie is lank en Jesus sê Hy weet alles; dus gaan ek nie ook vir jou alles herhaal nie. Ek wil so lag dat ek sukkel om te sien terwyl ek my geskenke oopmaak. En sal jy asseblief jou skoonheidsgeheim met my pa deel? Jy lyk al jare lank dieselfde en my pa kla oor sy plooie!

Mag daai trifle nog lekkerder wees as vorige jare s’n.

Dankie, oom Kersvader

Edwin

Tracey Lange, omroeper en TV-aanbieder

Liewe Kersvader

Die feesliggies in Adderleystraat en die winkelsentrums maak my steeds elke jaar opgewonde. En omdat my pa al 70 jaar oud is en my ma net oor die 60, koester ek elke feestyd saam met hulle.

Elke Kersfees tel. My pa is die oudste van 13 kinders, en sedert 1995 hou die ganse familie elke drie jaar ’n reusereünie. Die feesplek word sorgvuldig gekies sodat almal daar by ’n swembad kan saamtrek om die lewe te vier.

Die tafels kreun onder die wedywerende tannies se spoggeregte en die kinders beproef hul suikerkapasiteit.

En ons deel uit. Geskenke. Stories. Lief en leed. En op Kersdag deel ons wense: goeie gesondheid, wysheid, raad en blinde hoop. Stukkies van onsself.

En ons bid vir alles wat mooier is. Veral vir jou, Suid-Afrika.

Feesliefde

Tracey Lange

GIELIE HOFFMANN, LEWENSAFRIGTER

Liewe Kersvader

Ek onthou die Kersdag toe een van ouma Sarie se honde die melktert opgeëet het terwyl ons geswem het. Ek was ontstoke. Die waatlemoen wat om ons gedryf het, is toe as die enigste soetding geslag.

Die instelling van Oukersaand by ons huis en Kersdag by hulle s’n was ’n gegewe waarvan ek die waarde eers vandag besef. Die Oukersaand voor die melktertvoorval het ons die gedekte tafel van die stoep afgedra en buite gekuier.

Die amperse volmaan het oor die skuur gehang en die eenvoud van die oomblik het oupa eindelose vreugde verskaf. Dit was sy laaste Kersfees. Skaars drie jaar later het ons almal geweet dis ouma se laaste Kersfees.

Ek het vroeg in Desember gesien haar gelaat is geel en die toetse het bevestig dis kanker. Maar die familie het besluit om die uitslae eers in die nuwe jaar met ouma te deel. Verlede jaar is pa en ma se egskeiding net voor Kersfees afgehandel.

Ook ons het nie geweet ons vorige Kersfees saam was ons laaste nie. Ek het voor die rooi deur van die skuur ’n selfie van ons glimlaggende gesin geneem. Dit maak seker sin dat laastes nie altyd beleef word as laastes nie; dit hou ons blik gevestig op die toekoms.

Kersvader, ek mis my ouma

Gielie

NÁDINE, SANGERES

Liewe Kersvader

Onthou jy my? Ek het saam met my niggies en nefies vir jou gewag by ons oupa se huis op Kroonstad. Jy het baie geskenke gebring, veral daai een jaar. My ma het gevra wanneer ek dit gaan begin oopmaak.

Ek het jou jammer gekry; jy was natgesweet in daai warm pak. Deesdae is dit ek wat my ma vra wanneer sy haar geskenke gaan oopmaak.

Ek het vanjaar gesukkel met my boom. Sy pote was weg. Wanneer jy geskenke bring, kyk asseblief verby die blompot met sement en wit klippies waarin my plastiekboom is. Hy staan stewig.

Net so was my geloof vanjaar soms soos ’n boom sonder bene, maar ek het my weer stewig geplant. Bid saam met my vir duisende sakke sement van God se genade, vergifnis en liefde. Vir ons land se mense. Vir dankbaarheid en vrede in ons hart.

Baie liefde

Nádine

Foto's: ROWYN LOMBARD, JACO BOTHMA - EMPIRE PHOTOGRAPHY, NONCEDO MATHIBELA, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, INSTAGRAM, FACEBOOK