Tiffany Dean, voorheen ’n versorger vir verswakte mense van Kent, Engeland, is kort voor Kersfees hospitaal toe nadat toetse gewys het sy het abnormaal hoë vlakke kalsium. Verdere ondersoeke het toe getoon sy het ’n seldsame kanker van die galbuis wat net by sowat vier uit 100 000 mense voorkom, en omtrent glad nie by mense onder 40 nie.

Jy lê hierdie beloftes af – in siekte en gesondheid – maar jy kan nooit dink dat dit op so ’n jong ouderdom met die een wat jy het liefhet, sal gebeur nie.

Verlede maand kry sy en haar man, Sean (32), toe boonop die tyding dat daar nie in haar geval geopereer kan word nie en sy net maande tot ’n jaar oorhet.

“My hart gaan breek. My hart is klaar gebreek. Jy lê hierdie beloftes af – in siekte en gesondheid – maar jy kan nooit dink dat dit op so ’n jong ouderdom met die een wat jy liefhet, sal gebeur nie,” het ’n verpletterde Sean vertel. “Dis asof ek ’n deel van myself verloor.

“Dis moeilik om te sê dat ons ons in Tiffany se lot berus, maar ons het aanvaar dis wat gaan gebeur. Nie dat dit dit enigsins makliker maak nie.”

Intussen is dit Tiffany, wat tans chemoterapie ondergaan in die hoop om haar maande saam met haar gesin uit te rek, se groot wens om die werklikheid van ’n lewe sonder hul ma vir haar Henry (7), Chloe (6) en Jacob (16 maande) te versag deur vir hulle ’n reeks blywende aandenkings aan haar bymekaar te kry, insluitend geskenke en briewe van haar af vir elke verjaardag tot hulle 18 is, unieke trougeskenke, opnames en gesinsfoto’s wat deur ’n beroepsfotograaf geneem is.

Weens haar behandeling het sy haar man meer onlangs die meeste van die praatwerk laat doen, maar sy het vroeër hieroor gesê: “Dis hartverskeurend om daaraan te dink om dinge te kies waardeur die kinders my kan onthou. Dis nie iets wat ’n mens ooit verwag jyself sal doen nie.

“Aan die een kant is ek bly dat ek die kans het om vir hulle ’n stukkie van my agter te laat, maar dit breek terselfdertyd my hart om te weet hulle gaan sonder my grootword. Al wat ek kan doen, is soveel moontlik om dit vir hulle makliker te maak en hulle te wys hoe lief ek hulle gehad het.”

Sy wil sien hoe Jacob gedoop word en by wees op ons eerste gesinsvakansie met hom.

Ná haar diagnose het sy reeds ’n lysie van dinge gemaak wat sy nog in haar oorblywende tyd wil doen.

“Sy wil sien hoe Jacob gedoop word en by wees op ons eerste gesinsvakansie met hom,” het Sean gesê. “Sy kon weens die pandemie nie regtig uitgaan om dinge saam met die kinders te doen nie.

“Dis ook waarom dit vir ons so belangrik is.”

Onder die herinnerings wat sy vir haar kleingoed bymekaarkry, is van juwele wat Chloe op haar troudag kan oopmaak tot Roboblox en Marvel-speelgoed vir Henry. En vir Jacob het sy slaapliedjies begin opneem, soos Twinkle Twinkle Little Star en Wheels on the Bus, om hom haar stem te help onthou.

“Sy is ’n ongelooflike vrou,” het Sean gesê. “Sy is pragtig, snaaks, so sterk . . . die beste ma op wie ek ooit vir ons kinders kon gehoop het.”

Bronne: kentlive.co.uk, uk.gofundme.com, metro.co.uk, Facebook

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe