Beck Carey van Virginië in Amerika, en haar verloofde, Matt, het in September 2018 ’n verlowingsfotosessie gereël met die fotograaf Bonnie Turner nadat hulle ontdek het haar pa, Tim, is terminaal siek en sal nie leef tot haar troudag nie, berig Fox News

“My pa (Tim) baklei teen prostaatkanker en sy liggaam het nou ’n punt bereik waar dit nie meer behandeling kan hanteer nie,” het Beck aan Bonnie geskryf en gevra of hulle die deposito kan gebruik om eerder ’n familiefotosessie te doen.

“Ons het gister uitgevind hy begin vandeesweek in ’n tehuis bly. Ek en Matt sal later aandag skenk aan ons foto’s, want dit is nou dringender.

“Dit is natuurlik ’n baie moeilike en donker tyd, maar ek weet hoe jy voel oor die liefde en om dit op ’n mooi en betekenisvolle manier vas te vang.”

Sy wou die fotosessie met die familie so vroeg doen as wat die fotograaf kon omdat sy nie geweet het hoe lank haar pa nog sou leef nie, berig Epoch Times

“My pa raak by die dag swakker, en ongelukkig moet ons dit so gou as moontlik doen.

“Ek wou hoor of jy in staat en bereid is om die foto’s by my ouers se huis in Woodbridge op hierdie kort kennisgewing te neem.

“Ons maak nou vinnig hierdie plan omdat ons nie weet hoeveel tyd ons het voor hy dit nie meer kan doen nie,” skryf sy aan die fotograaf.

Bonnie het ingestem om die fotosessie te doen en ’n reeks pragtige foto’s van pa en dogter wat glimlag en dans in die buitelug geneem.

Bonnie het die foto’s op Facebook gedeel waar dit vinnig versprei het. 

Tim is ongelukkig op 28 Maart oorlede – kort voor sy dogter se troue, berig The Insider. “My hart is seer want ek het gehoor van sy afsterwe. Hy het vir ’n baie lang ruk hard baklei,” skryf Bonnie op Facebook. 

“Foto’s en herinneringe is alles wanneer dit al is wat jy oorhet.”

Die roerende inskrywing is reeds 34 000 gedeel en het meer as 87 000 reaksies ontlok.

“Herinneringe en foto’s is beslis alles,” het een persoon geskryf. 

Nog een het geskryf: “Jy kan die emosie in al hierdie foto’s aanvoel.”

Bronne: Epoch Times, Fox News, The Insider