“Ons gaan hier op Stilbaai wees,” vertel Anicè Kruger, die ma van die brandslagoffertjie Pippie Kruger, aan Huisgenoot

Anicè het vanjaar vir die eerste keer sedert Pippie se ongeluk einde 2011, weer heeltyds begin werk. 

Pippie was net twee jaar oud toe ’n bottel vuuraansteekjel tydens ’n Oujaarsaand-braai op hul plaas naby Lephalale in Limpopo ontplof het. Die klein dogtertjie het derdegraadse wonde oor 80% van haar lyf opgedoen.

Pippie Kruger is ’n brose ou bondeltjie, maar sy’s ook ’n vegtertjie soos min. Haar ouers, Erwin en Anicè, bring byna elke oomblik langs hul dogtertjie se bed deur. Foto: Fani Mahuntsi.

Tydens ’n baanbreker-veloorplanting is van haar eie gekloonde vel oor haar wonde oorgeplant. Sy het sedert die ongeluk 60 operasies ondergaan en het twee jaar lank hospitaal-behandeling en rehabilitasie ondergaan. 

“Hierdie jaar was nie vir my ’n maklike jaar nie, en dit raak moeiliker hoe nader dit aan nuwejaarsdag kom,” erken Anicè. Tog sien sy uit na die Kerstyd saam met haar gesin en ’n nuwe jaar wat wag. 

Anicè bestuur deesdae ’n koffiekroeg op die gewilde stranddorp waar sy sedert die begin van die jaar saam met Pippie en haar kleinboet, Arno, woon. “Ons wag nou vir die meeste vakansiegangers om in te kom, so ek hoop regtig ons gaan baie besig wees,” sê die voormalige sjef en lodgebestuurder. 

Boonop is manlief Erwin, ’n professionele jagter, wat meeste van die tyd in die Noorde van die land werk en in Oktober 'n swartmamba-pik oorleef het, ook tuis vir die vakansietyd. 

Hoewel Anicè meestal in die feestyd in die koffiekroeg besig sal wees, sal die gesin Kersdag en Nuwejaarsdag saam deurbring voordat Erwin weer moet terugkeer na Lephalale, waar die gesin voorheen gewoon het, en hy steeds werk. 

“Ek sien baie uit na Kersfees. Dit is mos maar feestelik en dit bly lekker elke jaar,” sê Anicè.

“Ek sien uit na die af dag en die tyd saam met die kiddies.”

Anicè sê sy is glad nie lus om vanjaar ’n hele feesmaal in die kombuis op te tower nie, maar wil eerder ’n eenvoudige, rustige Kersfees op die strand vier. 

Pippie en haar ma, Anicè Kruger, op die vooraand v
Pippie en haar ma, Anicè Kruger, op die vooraand van Pippie se tiende verjaardag. Foto: Corrie Hansen

“Ek gaan seker weer die kossies maak, maar ek dink ons gaan sommer kaas en koekies eet op die strand. Ek is nie eintlik lus vir ’n groot feesmaal nie en wil hierdie jaar net ’n bietjie rustig wees,” vertel Anicè oor hul Kersfeesplanne.

“Maar daar sal definitief roomys wees! En ons sal vir Pippie haar keto-roomys maak. So, ons gaan dit (Kersfees) lekker maak,” sê sy. 

Pippie, wat in Junie vanjaar haar tiende verjaardag gevier het, volg ’n ketogene-dieet en moet genoeg vette, botter en olie inneem.

“Ag, ek wens soms Pippie kan ook al die verkeerde goed eet. Maar sy sê sommer self, nee dankie, Anicè. Sy wil dit nie hê nie. Sy is so tevrede met haar keto-dieet, solank sy net saam met ons is.”

Sy vertel dit gaan goed met Pippie en kleinboet Arno. “Arno doen baie goed op skool en het ’n baie mooi rapport gehad.

Pippie
Klein Arno is weer 'n regte woelwater. Foto: Verskaf


"Pippie doen amazing. Sy praat al hoe meer en sy groei so vinnig. Ons het omtrent nie meer klere wat vir haar pas nie. En sy is besig, sy wil nie meer lê nie. Sy wil sit en staan,” vertel Anicè. 

“Ek dink ná haar verjaardag het haar tiener-hormone al bietjie begin inskop. Sy is mos nou ’n ‘tween’. Sy is al bietjie moody en die tiener-tantrumpies is al daar. Sy sal jou sommer vir ’n hele halfuur ignoreer of sê sy is kwaad vir jou. Maar sy is so forgiving ná die tyd, dit is baie oulik,” vertel Anicè oor haar oudste. 

En wat is op die kinders se Kersfees-wenslysie?

“Pippie wil steeds enigiets hê wat ’n ‘ninnie’ is. Dit is mos wat sy ’n perd noem. Of Lego. Arno is ook steeds Lego-crazy,” vertel Anicè laggend.

“So ons sal maar sien wat ons vir hulle kan doen.”

Anicè meen sy wil net hê dat haar kinders gelukkig is. “Ek wil net hê my kinders moet smile en lag en tevrede en gelukkig wees. Dit is al wat ek op my kerslysie het.”

Sy vertel Arno was baie opgewonde toe hulle die Kersboom begin opslaan het. “My kat was nie so beïndruk met die boom nie. En Pippie het te lekker saam met ouma en oupa wat kom kuier het, gekuier. So sy het haar nie vreeslik aan die boom gesteur nie.”

Tog meen Anicè dit is vir haar belangrik om haar kinders te leer waaroor Kersfees regtig gaan – die geboorte van Jesus.

“Dit is die tradisies wat ons graag eendag aan ons kinders sal wil oordra.”

En haar Kerswens?

“My Kerswens is dat 2020 ’n makliker jaar vir die wêreld sal wees. Ek dink 2019 was een van die moeilikste jare wat mense gehad het, selfs vir ons. En ek hoop almal se challenges raak beter en makliker,” sê Anicè.