Niks aan haar dominee van die afgelope agt jaar het Magriet Otto aanduidings gegee hy worstel met iets nie.

So vertel Magriet van haar geliefde dominee, Francois van Heerden (63), wat die oggend voor die skietvoorval Sondag nog nagmaal vir haar en haar man, Willie, by hul huis kom bedien het. Magriet kon dié oggend nie kerk toe gaan nie omdat sy onlangs ’n operasie ondergaan het.

“Hy het almal se geheime en probleme geken, maar niemand van ons weet waarmee hy geworstel het nie,” sê sy.

Magriet en Willie was waarskynlik van die laaste mense wat Francois gesien het voor hy vermoedelik sy eie en sy seun, Rupert (31), se lewe geneem het.  

Francois se vrou, Herzola, het skote gehoor en haar na hul studeerkamer gehaas waar sy op haar man en seun afgekom het. Albei is geskiet. Sy het die nooddiens ontbied, maar pa en seun is op die toneel dood verklaar. 

“Die motief is onbekend,” sê kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie. 

“Ons ondersoek nog die saak en gaan nie nou besonderhede bekendmaak nie,” sê sy. 

Talle vrae is nog onbeantwoord ná dié skietvoorval. Dié wat Francois geken het, sê hy sou nooit sy seun met opset geskiet het nie. 

Magriet het met Francois gereël om Sondag na hul huis te kom omdat hulle nie vir die nagmaaldiens kon kerk toe gaan nie, vertel sy aan Huisgenoot. 

“Hy het seker so halfelf hier by ons aangekom en 20 minute gebly. Dit was spesiaal dat ons hele gesin saam kon nagmaal gebruik. Hy het mooi gepraat en uit die Bybel gelees,” sê sy. 

Sy en haar gesin was nog besig om ’n skaappotjie vir middagete te berei. 

“Ds. Francois het gesê dit ruik heerlik en toe beloof ons ons maak binnekort ’n plan dat hy en Herzola by ons kom eet,” vertel sy. 

Magriet sê toe sy later die dag die nuus hoor dat Francois dood is, kon sy skaars ophou huil. 

“Hy was altyd so beheersd. Hy het regtig ons almal gelei en ek kon nie die nuus Sondag verwerk nie.” 

Magriet sê Francois het vir haar in die hospitaal gaan kuier ná haar operasie en vir haar gebid. “Hy was altyd so diensbaar. Dis soos ’n pa wat weg is. 

“Dit vreet aan my dat hy daardie dag hier by ons die laaste keer sy Bybel oopgemaak het, die laaste keer gebid het. Ek het so baie vrae vir die Here, maar ek aanvaar dit was sy tyd,” sê sy. 

Die Stilfontein-gemeenskap bespiegel glo oor wat daardie dag in die Van Heerdens se studeerkamer gebeur het. 

“Ek sê net ons moet wag tot ons al die feite het,” sê sy.