Die berugte porno-ster was by die Sirens-ontkleeklub in Columbus, Ohio, op die verhoog toe sy na bewering “toegelaat het dat ’n kliënt aan haar raak”, toe die polisie op haar toegeslaan het.

Haar prokureur, Michael Avenatti, is siedend van woede. Hy sê hy en sy kliënt, Stormy, gaan dit met hand en tand beveg en beweer haar inhegtenisname “stink van desperaatheid” en is polities gemotiveerd.

In Maart vanjaar het Avenatti en Stormy hulle na die hof gewend om die "stilswye-ooreenkoms" met Trump ter syde te stel.

In Junie vanjaar het Stormy ’n nuwe regsgeding teen haar gewese prokureur, Keith Davidson, en Trump se persoonlike prokureur, Michael Cohen, aanhangig gemaak. Sy beweer die twee mans het saamgesweer en saamgewerk om haar tot voordeel van Trump te manipuleer.

Daar is glo teksboodskappe tussen die twee regsmanne van Januarie 2018 tot Maart 2018 wat haar regsgeding gerugsteun. 

In een van die boodskappe van Cohen aan Davidson het hy na bewering die volgende geskryf: “Die wyse manne glo almal die storie is aan die uitsterf en dink dis nie baie slim van haar om onderhoude toe te staan nie. Laat haar haar ding doen, maar geen onderhoude met enigeen onder enige omstandighede nie.”

Volgens Stormy se regsgeding word aangevoer dat een van die “wyse manne” niemand anders as juis Trump is nie.

Stormy, wie se regte naam Stephanie Clifford is, het beweer sy het in 2006 ’n seksuele verhouding met Trump gehad en in 2016 het Cohen glo tydens Trump se veldtog om die Amerikaanse presidentskap te verwerf, haar stilswye met $130 000 (sowat  R 1,751 496) probeer koop. 

Trump het deurentyd ontken dat hy enigiets met haar te doen gehad het. Hy het op 3 Mei vanjaar erken hy het die geld aan Cohen terugbetaal.

Stormy Daniels

Stormy se verhoognaam kom van die groep Mötley Crue se baskitaarspeler, Nikki Sixx, se dogter, wie se naam Storm is. Die Daniels is geleen van die ikoniese Amerikaanse whiskey Jack Daniels. Sy het dit glo gekies nadat 'n advertensie dit as 'n "Suidelike gunsteling" bemark het.

Sy beweer sy het Trump tydens 'n gholftoernooi in Lake Tahoe ontmoet. "Hy was uitgestrek op die rusbank en het televisie of iets gekyk. Hy het 'n pajamabroek aangehad."

Volgens haar het hulle in sy hotelkamer seks gehad. As Stormy die waarheid praat, beteken dit Trump en Melania se seun, Barron, was toe net vier maande oud.

Stormy beweer sy is in 2011 in Las Vegas gedreig om Trump uit te los nadat sy tot 'n onderhoud met In Touch Weekly ingestem het.

Sy het kameerolle vertolk in The 40-Year-Old Virgin en Knocked Up en in Maroon 5 se musiekvideo Wake Up Call verskyn.


Die 'geen-aanraking'-wet
  • Die Senaatwet 16 van 2007 verbied onder meer enige fisiese kontak tussen eksotiese, oftewel ontkleedansers, en kliënte in dansklubs ná middernag en staan in die vrye omgang as die “geen aanraking”-wet binne ’n radius van 1,8 m bekend.
  • Sers. William Bragg van die Toledo-polisiediens, het in 2017 aan The Columbus Despatch gesê die wet is in daardie stadium nog selde toegepas. 
  • “Jy moet op goed fokus wat mense doodmaak, nie iemand wat iemand anders pla omdat ’n vrou kaal dans nie,” was sy opinie.

Bronne: bbc.comdispatch.com, edition.cnn.com, cnn.com, tuscl.net