JOHANNESBURG,SOUTH AFRICA-MARCH 05: A year after a
Van links is Michelle Green, ma Maria, pa Sakkie en Suné. Foto: Luba Lesolle

Wanneer sy haarself betrap dat sy in die niet staar terwyl die trane oor haar wange loop, weet sy dikwels nie hoe lank sy al so sit nie.

Vir Maria Hoon (56) is haar smart oor haar kind se dood soos ’n tronk. Sy voel sy het ophou lewe toe haar Mari (28) se lewelose liggaam verlede April saam met dié van haar verloofde, Jean Vosloo (25), in die stort van die kliphuisie op ’n Oos-Kaapse gasteplaas gekry is.

“Om te sê ek is gebroke begin nie eens om te beskryf wat elke dag deur my gedagtes maal nie. Ek is ’n betekenislose, leë dop. Daar is van my niks meer oor nie,” sê Maria vandag.

Byna ’n jaar lank het die land gegons oor die raaiselagtige dood van die paartjie van Tsitsikamma in die selfsorghuisie op ’n plaas in die Kareedouw-distrik: Hoe sterf twee mense saam in ’n stort? 

Vir die bedroefde ouerpare was daar geen antwoorde of afsluiting nie. En terwyl die land maande lank ingeperk was weens die covid-19-pandemie, moes hulle worstel met die vrae wat oor ’n hele jaar se seisoene gehang het.

Maar in ’n dramatiese wending het sers. Majola Nkholi, ’n polisiewoordvoerder, bevestig twee aanklagte van strafbare manslag word ondersoek nadat ’n toksikologieverslag gewys het die paartjie is dood weens hoë vlakke koolstofmonoksied in hul bloedstroom.

JOHANNESBURG,SOUTH AFRICA-MARCH 05: A year after a
Die Hoon-familie is stukkend ná die dood van hul dogter en suster, Mari, en dié se verloofde, Jean Vosloo. Foto: Verskaf

Volgens Majola is ’n “persoon van belang” ook gevra om ’n verklaring af te lê. Die persoon, wie se naam op regsadvies weerhou word, wou nie met Huisgenoot praat nie.

Die polisie wou nie onthul hoe die paartjie koolstofmonoksiedvergiftiging opgedoen het nie, maar twee paartjies wat voor die tragedie in die Kliphuis gebly het, het onafhanklik aan Huisgenoot bevestig hulle het polisieverklarings afgelê. Albei paartjies beweer hulle het koolstofmonoksiedvergiftiging opgedoen in dieselfde stort, en glo dit was weens ’n gasgeiser-lekkasie. Een paartjie het dit glo by die plaaseienaar aangemeld. 

Dié wendings laat die twee ouerpare hoop hulle sal eindelik antwoorde en groter vrede kry. 

Jean se ouers, Lawton (63) en Christelle Vosloo (54), van Jeffreysbaai, wou nie ’n onderhoud toestaan nie, maar sê kortliks op WhatsApp: “Ons hoop die gereg kan ons beter laat verstaan wat gebeur het.”

Mari se pa, Sakkie (61), is meer uitgesproke. “Ons wil weet waarom niks aan die oënskynlike probleem by die huis gedoen is nie, veral nadat minstens twee ander paartjies dit onder die aandag van die eienaar gebring het,” beweer hy.

En Maria beaam: “Dalk kan ons koebaai sê as ons net antwoorde op ons grootste kwelvrae kry.”

JOHANNESBURG,SOUTH AFRICA-MARCH 05: A year after a
’n Skildery van Mari wat in Michelle en Suné se huis hang. Dís hoe hulle haar onthou: altyd glimlaggend. Foto: Luba Lesolle

Hoop op antwoorde

By die huurhuis van haar dogters, Michelle Green (35) en Suné Hoon (30), in Muldersdrift, Gauteng, maak Maria Hoon verskoning vir haar rooigehuilde oë. “Ek is emosioneel nie op ’n goeie plek nie, eintlik al ’n jaar lank nie.”

Die ouerpaar ontmoet ons hier, want “hulle trek maar baie rond”. Maria vertel die hele familie kry bitter swaar sedert Mari se dood.

“Ons is leë doppe wat asemhaal. Ek is nooit meer bly vir ’n nuwe dag nie, want elke dag is ’n straf.” 

Daar is net te veel vrae oor wat daar op Zuuranys-gasteplaas gebeur het voor Mari en Jean se liggame aangetref is deur hul vriend Stefan du Plessis, wat hulle op die wegbreeknaweek vergesel het. 

“Daar is hierdie allesverterende leemte elke uur van elke dag. Ek leef in ontkenning. Daar is dae dat ek opstaan en dink ek is oukei, maar dan skielik, vanuit nêrens, kom die seer en skop my in die maag,” vertel Sakkie.

“Ons is leë doppe wat asemhaal. Ek is nooit meer bly vir ’n nuwe dag nie, want elke dag is ’n straf.”

Maria gebruik antidepressante, spreek ’n dominee en lewensafrigter en het by ’n ondersteuningsgroep aangesluit om die verlies te verwerk, “maar niks help nie. Want as ek myself kry, staar ek weer in die niet en huil. Ek wens eintlik die Here wil my kom haal.”

Michelle en Suné sukkel ook. “Ons kon nog nie groet nie, ons sal dalk nooit weer oukei wees nie,” sê Michelle. “My ma was spontaan en het altyd geglimlag, maar dis nou van haar gesteel. Die ouers wat ons geken het, leef nie meer nie. Ons leef nou net tussen die stiltes.” 

“Dis asof ons ons toekoms én verlede verloor het. Alles wat ons geken het, maar ook die drome wat ons vir die toekoms gekoester het.” 

Ek bid elke dag dat die Here my volgende sal kom haal. Ons weet Mari is in die hemel . . .

Langs haar knik Suné instemmend. “Ek is kwaad en bitter. Daar is ’n onbeskryflike woede binne my. Dis nie lekker om te hoor hoe Ma soms oor die dood dink nie, of dat Pa reken hy is oukei daarmee om nou te sterf nie. Ons klou daarom vas aan die hoop op antwoorde en vrede.” 

Maria erken sy voel skuldig omdat sy nie vir haar oorblywende dogters sterk kan wees nie.

“Ek weet hoe dit my kinders breek om my so te sien huil; om te sien hoe ek soms ure lank net voor my uitstaar, maar ek bid elke dag dat die Here my volgende sal kom haal. Ons weet Mari is in die hemel . . .”

Ons harte is stukkend omdat hul jong lewens so skielik kortgeknip is. Die ergste is om te kyk na al die foto’s van my kind saam met Mari. Hulle glimlag altyd en lyk so verlief.

Skielik laat Sakkie hoor: “Ja, sy kyk neer op ons en dink: ‘Jimmel, maar julle is in ’n toestand!’ ” Vir die eerste keer glimlag almal. 

Maar die ligter oomblik verdamp gou toe Maria byvoeg: “Om ’n kind te verloor is ’n erger lyding as wat ek ooit kon dink.”

Sedert die tragedie het die twee verloofdes se families kontak verloor. 

Uit Jeffreysbaai stuur Lawton kortliks ’n teksboodskap dat ook hul lewens weens Jean se dood nooit weer dieselfde sal wees nie. Hy was ’n melkbeeskudde-bestuurder in Tsitsikamma.

“Ons harte is stukkend omdat hul jong lewens so skielik kortgeknip is. Die ergste is om te kyk na al die foto’s van my kind saam met Mari. Hulle glimlag altyd en lyk so verlief.” 

Die egpaar vind troos in die ondersteuning van hul familie,” sê hy. “Ons het mekaar om voor te leef; daarom gaan ons aan, al is elke dag uitmergelend.” 

Twee ander paartjies se bewerings

Taryn Jankes en haar kêrel, Jonathan Hill, van St. Francisbaai, asook Louis en Monita Nel van Patensie, bevestig aan Huisgenoot hulle het verklarings aan die polisie afgelê oor hul ervarings.

Taryn Jankes

JOHANNESBURG,SOUTH AFRICA-MARCH 05: A year after a
Taryn Jankes en haar kêrel, Jonathan Hill. Foto: Facebook

Taryn beweer sy het in Julie 2019 haar bewussyn verloor en stuiptrekkings gekry net nadat sy in die Kliphuis gestort het.

“Ek het begin ruk, my oë het omgedop en daar het skuim by my mond uitgekom. Ek was ’n halfuur lank bewusteloos terwyl Jonathan met my na die hospitaal gejaag het.” 

Taryn was drie dae lank in die St. George’s-hospitaal in Port-Elizabeth. Dokters het glo eers weke later bepaal die stuiptrekkings was weens koolstofmonoksiedvergifting.

“My hart breek oor Jean en Mari, want ek kon ook dood gewees het,” beweer sy.

Monita Nel

Monita Nel
Louis en Monita Nel. Foto: Facebook

Volgens Monita het hulle in Oktober 2019 in die Kliphuis gebly. “Ek onthou ek het duiselig geraak in die stort. Louis het vermoed dis die warm stoom en ek het uitgeklim. Ek het myself begin afdroog, maar daarna onthou ek niks nie,” beweer sy. 

Sy het glo stuiptrekkings begin kry, en beweer Louis het ook inmekaargesak. Hul 13-jarige seun en ’n vriend het die egpaar uit die badkamer gehelp. Hul dokter het hulle glo ná die naweek meegedeel dit was koolstofmonoksiedvergiftiging. 

“Ons het dadelik vermoed dis die gasgeiser en is daarom na die eienaar om met hom te praat,” beweer sy. “Hy het onderneem om ondersoek in te stel, maar ses maande later het ons gehoor ’n paartjie is dood.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe