Dit is hier waar hy waarskynlik sy lot sal aanhoor wanneer hy in Oktober op twee aanklagte van moord of strafbare manslag verhoor sal word.

“Dit was die eerste keer dat ek vir hom opgetree het,” het sy prokureur, Alwyn Griebenouw, ná die verrigtings aan Huisgenoot bevestig.

“Die saak is uitgestel vir verhoor en vir 27 tot 29 Oktober op die rol geplaas,” sê hy.

Foto: Verskaf
Mari Hoon en Jéan Vosloo. Foto: Verskaf

Griebenouw was voorheen die veroordeelde moordenaar Christopher Panayiotou se regsman. Panayiotou is eindelik lewenslank tronk toe gestuur vir die opspraakwekkende huurmoord op sy vrou, Jayde, in 2015.

Panayiotou het destyds drie mans gehuur om haar buite hul meenthuis in Uitenhage, ook in die Oos-Kaap, te ontvoer.

Die aanklagte teen Kevin, eienaar van die Zuuranys-gasteplaas op Kareedouw, spruit uit die dood van die verloofde paartjie Mari Hoon (28) en Jéan Vosloo (25) op 26 April verlede jaar.

’n Vriend van die paartjie het hulle die oggend dood in die stort aangetref nadat hulle vir ’n wegbreeknaweek daar gaan uitspan het.

Foto: Verskaf
Op ’n laaste foto ontspan hulle die middag voor hul dood by die kliphuis. Foto: Verskaf

Die vermoede het bestaan dat ’n gaslek van die stort, wat met ’n gasgeyser werk, hul dood veroorsaak het. Die lykskouingsverslag kon eers ’n beslissende antwoord bied toe die toksikologieverslag afgehandel is.

Die toksikologieverslag het vroeër vanjaar bevestig die paartjie het gesterf weens ’n hoë vlak van koolstofmonoksied in hul bloed. 

Foto: Verskaf
Mari (regs) by haar ouers, Sakkie en Maria, en sussies, Michelle Green (links) en Suné Hoon. Foto: Verskaf
'n Besonderse skildery wat Mari se susters, vir hu
'n Skildery van Mari wat haar susters kort voor haar begrafnis vir hul ma laat skilder het. Foto: Facebook

Huisgenoot het voorheen met twee paartjies gepraat wat ook bewerings gemaak het van koolstofmonoksiedvergiftiging nadat hulle in dié kliphuis gebly het. Die paartjies het bevestig hulle het verklarings by die polisie ingedien.

Een van die paartjies het beweer dat dit by die eienaar aangemeld is.

Volgens ’n polisieverklaring is Kevin op 6 April vanjaar aangekeer en van moord aangekla. Hy is toe ná ’n eerste vlugtige verskyning op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Die Hoon- en Vosloo-families is verpletter deur hul geliefdes se dood. Suné Hoon, Mari se ouer suster, vertel hul hele gesin sal daar wees wanneer die verhoor in Oktober begin.

“Dit is iets wat ons wil doen vir Mari.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe