'n Besonderse skildery wat Mari se susters, vir hu
'n Besonderse skildery van Mari wat haar susters kort voor haar begrafnis vir hul gebroke ma laat skilder het. Foto: Facebook

“Ek was kwaad en verward en geskok,” het Suné Hoon, Mari se suster, Dinsdag aan Huisgenoot vertel oor die oomblik toe sy die afgelope week gehoor het wat in die verslag staan. 

Suné (30) vertel die familie is eindelik amptelik meegedeel dat die oorsaak van hul geliefdes se dood, inderdaad weens die hoë vlak van koolstofmonoksied in hul bloedstroom was.

Boonop moes hulle hoor die polisie ondersoek nou twee aanklagte van strafbare manslag.

Mari Hoon en Jéan Vosloo wou in 2021 trou. Foto: F
Mari Hoon en Jéan Vosloo wou vanjaar trou. Foto: Facebook

Suné vertel hulle wag reeds byna ’n jaar om te hoor hoe en hoekom hul geliefdes so tragies van hulle af weggeraap is.

Wat net ’n lekker wegbreeknaweek na die Zuuranys-gasteplaas in Kareedouw moes wees, het in ’n tragedie ontaard. Maar afsluiting het Suné en die res van die familie nog lank nie.

“Ons weet steeds nie hoe nie. Hulle meld die vlakke was meer as 70%, maar ons is nog in die duister oor hoe en hoekom dit gebeur het. Ons as familie kon dit nog steeds nie verwerk nie,” sê Suné.

Foto: Verskaf
Mari Hoon en Jéan Vosloo voor hul dood. Foto: Verskaf

Die verloofde paartjie Mari Hoon (28) en Jéan Vosloo (25) sou vanjaar trou. Hul liggame is egter op Sondag 26 April verlede jaar in die stort aangetref, waar hulle vir ’n wegbreeknaweek saam met ’n vriend in die kliphuis op die gasteplaas gekuier het.

Hulle het die Saterdag nog saam met hul vriend gebraai en gekuier, voor Jéan later die aand eerste gaan stort het. Mari het kort daarna by hom aangesluit. Die vriend het hulle egter die Sondag albei dood in die badkamer se stort gekry. 

Foto: Verskaf
Op ’n laaste foto ontspan hulle die middag voor hul dood by die kliphuis. Foto: Verskaf

Benewens die leidrade soos Mari se “kersierooi” gelaat, was daar geen eksterne beserings nie.

Die vermoede het toe reeds bestaan dat ’n gaslek van die stort, wat met ’n gasgeyser werk, hul dood kon veroorsaak het, maar die lykskouingverslag kon nog nie ’n beslissende antwoord bied voor die toksikologieverslag nie afgehandel is nie.

Maar selfs noudat die uitslag bekend is, het Suné nie vrede nie. 

"Daar is net te veel vrae.”

Die pragtige Mari Hoon. Foto: Facebook
Die pragtige Mari Hoon. Foto: Facebook

Sy was ook nog deurmekaar oor wat volgende in die saak gaan gebeur.

Sers. Majola Nkohli, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Huisgenoot bevestig dat die geregtelike doodsondersoek nou in ’n moontlike strafsaak ontaard het. 

“Twee aanklagte van strafbare manslag word nou ondersoek. Niemand is nog aangekla of aangekeer nie," het hy gesê.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe