Die beslissing kom nadat 'n klein supermark hier verlede jaar geweier het dat Liezel Haskin (44) haar gestremde seun, Connor (5), in sy spesiale rolstoel in die supermark inneem. 

Liezel sê sy het voor die voorval gereeld sonder enige haakplek die Save More Superette besoek en dat die personeel van Connor bewus was. 

Dis ’n maklike uitstappie omdat die supermark in haar buurt in Woodlands is en sy vinnig met Connor in sy rolstoel daarheen kan stap. 

“Dit verg fyn beplanning en ek moet mooi begroot wanneer ek hom in sy rolstoel na ’n groot winkelsentrum wil vat. Openbare vervoer is ’n nagmerrie vir iemand in ’n rolstoel,” sê Liezel. 

Toe sy op 18 April verlede jaar oudergewoonte die supermark saam met haar drie spruite, insluitend die vyfjarige Connor, wou besoek, het ’n personeellid haar by die ingang voorgekeer.

Connor het downsindroom en West se sindroom, 'n vorm van epilepsie. Hy het weens sy gestremdheid swak kognitiewe vermoëns en fisieke agterstand, kan nie loop of praat nie, vereis voltydse versorging en word in ’n spesiale rolstoel rondgestoot. 

“Toe ek by die winkel kom, het ’n personeellid gesê ek mag nie ingaan nie. Op navraag het hy met sy kop na ’n kennisgewing beduie wat stootwaentjies en sakke in die winkel verbied. Ek het gesê dis nie ’n stootwaentjie nie, maar ’n rolstoel vir ’n kind met spesiale behoeftes,” sê Liezel.

Sy vertel sy was verslae en kwaad oor die onregverdige behandeling teenoor haar gestremde seun en hoe sy menswaardigheid aangetas is.

Sy het ondersteuningsgroepe en die polisie om raad gebel. 

Liezel het moedeloos by 'n polisiekantoor gaan aanklop en is deur twee polisiebeamptes na die supermark vergesel. Volgens haar het ’n personeellid toe aan haar gesê dat "ek nou vir die toekoms weet om Connor eerder tuis te los wanneer ek daar inkopies wil doen".

"Ek het seergemaak gevoel en besluit ek gaan dit nie daar laat nie – my kind se menseregte is aangetas,” sê sy.

Sowat ’n week later het die winkeleienaar, Salauddin Khan, by haar huis opgedaag. Salauddin, wat nie gedurende die voorval op 18 April teenwoordig was nie, het verskoning gevra, vir Connor ’n sjokolade gebring en ’n foto saam met hom geneem.

“Hy het gesê dat rolstoele en stootwaentjies weens winkeldiefstal nie in sy winkel toegelaat word nie. My reaksie was: ‘Dis seker nie net mense in rolstoele wat steel nie,’ ” sê Liezel.  

Sy vertel die eienaar het voorgestel dat wanneer sy daar inkopies doen sy Connor in sy rolstoel kan los terwyl ’n personeellid by die ingang na hom omsien of dat sy hom kan ronddra. Nie een van die voorstelle was vir haar prakties uitvoerbaar nie. 

“Daar is dikwels net een mens in die winkel en ek is nie bereid om die kans te waag om my kind sonder toesig in die sorg van iemand te laat wat ek nie ken nie. Connor weeg boonop 15 kg wat dit onmoontlik vir my maak om hom te dra terwyl ek my inkopies doen.” Die enigste ander voorstel was dat hy in die winkel rondkruip terwyl sy inkopies doen.

Toe Liezel kort hierna weer die supermark besoek, was die winkel op ’n manier gerangskik wat dit “vir my onmoontlik sou maak om met Connor in sy rolstoel daar inkopies te doen”. 

Sy het die nasionale raad van en vir mense met gestremdhede gekontak en hulle het die saak na die gelykheidshof geneem. Odette Geldenhuys van die regsfirma Webber Wentzel het pro-bono namens Liezel as prokureur opgetree. 

Salauddin het in die hofstukke aangevoer dat sy personeel nooit Connor weens sy gestremdheid toegang tot die winkel geweier het nie, maar bloot gehou het by die supermark se beleid wat geen stootwaentjies, groot sakke of rolstoele toelaat nie.

Hy het gesê daar is ’n toegewyde personeellid wat na klante se waentjies en sakke kan omsien terwyl hulle inkopies doen en dat die winkel op dié manier almal akkommodeer.

Volgens hom was sy personeel onbewus van Connor se gestremdheid en is hulle nie ingelig dat hy nie self kan loop nie.

Hy het in die hofstukke gesê dat stootwaentjies verbied word om voorsorg te tref vir gereelde winkeldiewe in 'n hoë misdaadgebied omdat die winkel se grootte (van sowat 100 tot 120 vierkante meter) nie ruimte het om die gangetjies te verbreed nie en vir sy klante se veiligheid. Hy het verduidelik dat opknappingswerk gedoen is en dat indien ’n waentjie teen die winkelrak sou stamp, artikels van die boonste rak moontlik op ’n klant kan val.

“Die winkel se beleid wat in plek was, is nie teen ’n spesifieke groep mense gerig nie, maar geld vir alle klante om ’n geldige kommersiële rede – vir die veiligheid van klante en om misdaad te bekamp,” het hy in hofstukke aangevoer. 

Op 14 Februarie is in die landdroshof in Mitchells Plain bevind dat onbillik op grond van Connor se gestremdheid gediskrimineer is. 

In die uitspraak is bevind daar is onregverdig teen Liezel en Connor gediskrimineer deur nie struikelblokke te verwyder wat aan hulle gelyke regte en vryhede gun nie en omdat daar nie stappe gedoen is om Liezel en Connor op 'n billike manier te akkommodeer nie. Die regter het bevind dat die alternatiewe wat aan Liezel voorgelê is onprakties en onredelik was. 

Daar is beslis dat Salauddin die kennisgewing wat rolstoele en stootwaentjies in sy winkel verbied, moet verwyder en dat hy sy supermark op ’n manier moet rangskik sodat dit die gebruik daarvan akkommodeer.

Hy moet R5 000 aan die Rooikruis-kinderhospitaal skenk ter ondersteuning van downsindroom en nog R5 000 aan Liezel betaal om tot Connor se volgende rolstoel by te dra. Ook is versoek dat hy ’n duidelike skriftelike verskoning aan Liezel rig. 

Liezel sê sy is vasbeslote om die stigma en onkunde oor kinders en mense met gestremdhede uit die weg te ruim.

Sy beskryf Connor as ’n klein vegtertjie. Hy het al meer van ’n hospitaal se binnekant gesien as wat talle mense in ’n leeftyd sien, sê sy. 

Toe hy twee jaar oud was, was hy vir langer as ’n maand in ’n koma in die Rooikruis-kinderhospitaal se waakeenheid. 

“Dokters het gesê ek moet my op die ergste voorberei, maar hy het deurgedruk,” vertel Liezel.

Sy is voltyds betrokke by Connor’s Haven and Resource Centre, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat hom beywer vir hulp aan mense met spesiale behoeftes en ook vir hul versorgers. 

“Ek wil nie net vir Connor se regte opstaan nie, maar vir almal wat ’n slagoffer van diskriminasie weens hul gestremdheid is. Almal is geregtig op menswaardigheid.”

Sy is verheug dat dinge nou tot ’n punt gekom het. 

“Mense hoef nie van Connor te hou nie, maar hy moet gerespekteer word. Ek is ongelooflik lief vir my kind. Daar is niks wat ek nie vir hom sal doen nie.”

  • Salauddin het by navraag gesê hy wil geen kommentaar oor die uitspraak of saak lewer nie. 
  • Art. 9(3) en (4) van die Grondwet bepaal dat nie die staat of enigiemand anders onbillik teen enige mens mag diskrimineer op grond van onder meer gestremdheid nie. Daar word bepaal dat nasionale wetgewing daargestel moet word om onbillike diskriminasie te voorkom en te verbied.