Die 24-jarige man van Vereeniging in Gauteng wat vroeër vandeesmaand in ’n aanval by ’n restaurant op Vanderbijlpark glo met ’n stuk glas in sy oog gesteek is, sal noodgedwonge nog minstens vier operasies moet ondergaan in ’n poging om gedeeltelike sig in sy oog te herwin.

Die aanval waarin Lourens Koster (24), ’n voormalige student aan die Prue Leith-sjefskool in Centurion, op 1 September betrokke was, het hom byna blind gelaat.

Lourens vertel Vrydag aan Huisgenoot hy het net ná middagete saam met ’n vriend en dié se meisie by die River Palace op Vanderbijlpark gekuier toe die voorval plaasgevind het.

“Ons was besig om te gesels toe ’n man uit die bloute opdaag en saam met ons begin kuier,” vertel hy.

Lourens beweer die onbekende man was besope toe hy by hulle aangesluit het.

“Hy het in ’n stadium vir ons nog drankies gekoop, en ons het almal lekker saam gekuier. Later die dag, omstreeks 15:00, het ons oor geloof begin praat, en hy het weer uit die bloute opgestaan en net weggeloop,” voer Lourens aan.

Volgens hom was die man glo uitgesproke oor sy geloofstandpunte, en Lourens beweer hy het homself daarom vervies en weggeloop.

Die man was egter nie ’n paar minute weg van die tafel nie voordat hy teruggekeer het en Lourens glo met ’n harde slag van agter teen sy kop geslaan het.

Lourens kort na die aanval. Foto: Verskaf

Met die slag het Lourens se kop glo teen ’n glas op die tafel geslaan en die glas het gebreek en in sy oog gesteek.

“Ek onthou glad nie die pyn nie,” vertel hy.

“Ek onthou net die slag – en hoe verslae ek gevoel het dat iemand my sommer net van agter geslaan het.”

Martin Ruppel, die eienaar van River Palace, sê aan Huisgenoot hy was nie by die tafel toe die voorval plaasgevind het nie, maar het die slag en die breek van glas meters verder gehoor.

“Ek het na die tafel gehardloop en onmiddellik besef wat gebeur het. Ek het die man toe aan sy arm gegryp en vir hom gesê hy moet onmiddellik trap; hy is nooit weer welkom by die restaurant nie,” vertel hy.

Martin sê hy het sy seun, Shaun, ontbied om noodhulp behandeling toe te pas.

“Ons het nie besef hoe ernstig beseer Lourens werklik was nie – as ons dit in daardie stadium besef het, sou ek nie die man weggejaag het nie, ek sou hom daar gehou het tot die polisie opgedaag het.”

Die gebreekte stuk glas het Lourens se regteroogbal middeldeur gesny en ook in die sagte weefsel agter die oog ingesteek.

“Daar was bloed oral; ons kon die bloeding nie keer nie. Eers tóé het ons besef hoe ernstig dit werklik is,” vertel Martin.

Lourens is na die Cormed-kliniek in Vanderbijlpark geneem waar ’n ure lange noodoperasie op hom uitgevoer is.

Die spesialis het die oogbal weer aanmekaar geheg om te verhoed dat Lourens ’n kunsoog sal moet kry.

Die 24-jarige het sedertdien die sig in sy regteroog verloor, maar dokters is glo hoopvol dat ’n kornea-oorplanting hom minstens weer gedeeltelik uit daardie oog sal laat kan sien.

“Ons weet eintlik in hierdie stadium nog niks nie, ons wag maar om te kyk of die oorplanting moontlik gaan wees. As dit wel moontlik gaan wees, sal ek weer figure kan sien, maar ek sal nooit weer die volle sig in my oog herwin nie,” sê Lourens.

Die oorplanting word vir die eerste week in Oktober beplan. Intussen sterk Lourens by sy ma,  Caroline, se huis aan.

Hy sê hy probeer positief bly en gebruik dié tyd om oor sy toekoms te besin. Hy moes vroeër vanjaar sy studies prysgee nadat hy sy hand gebreek het.

“Ek dink die belangrikste is om nie toe te laat dat hierdie dinge jou onderkry nie. Daarom gebruik ek die tyd om lank oor alles te dink. Dalk keer ek weer terug sjefskool toe, maar dalk hou die toekoms iets heel anders in.”

Sers. Gertrude Makhale, woordvoerder van die polisie, het Vrydag aan Huisgenoot bevestig dat ’n man vroeër vandeesweek in verband met die voorval in hegtenis geneem is.

Makhale sê die man is op borgtog van R2 000 vrygelaat en sal op 18 Oktober in die landdroshof op Vanderbijlpark verskyn. 

Sy sê die polisie kan nie in dié stadium die man se naam bekend maak nie omdat ’n ondersoek steeds aan die gang is en die polisie vrees dat meer inligting die ondersoek in gedrang sal stel.