Gage lê bewusteloos in die hospitaal. Foto: Magazi
Gage lê bewusteloos in die hospitaal. Foto: Magazine Features

Op 26 Mei vanjaar het Gage Hopkins (21), ’n student in politieke wetenskap van Huntingdon Valley, Pennsilvanië in Amerika, saam met sy huismaat, Nikhil (21), in hul derdeverdieping-woonstel by die Arizona-staatsuniversiteit hoender gaargemaak. Hulle het vergeet hulle het kookolie op die stoof gelos tot Nikhil opgemerk het swart rook borrel onder die deksel van die pot.

Gage wou verhoed dat die rookalarm afgaan in hul huurverblyf en het in sy haas die deksel vinnig van die pot afgeruk. Toe het ’n twee meter hoë vlam uit die pan die student verswelg. Sy arm, nek en gesig is deur die vlamme gebrand en sy hand het aan die handvatsel van die pot vasgesmelt.

'Die vel op my hande het vasgesmelt aan die metaal
'Die vel op my hande het vasgesmelt aan die metaalhandvatsels van die pot,' vertel Gage. Foto: Magazine Features

Gage het probeer om na die balkon te gaan om buite van die brandende olie ontslae te raak, maar die situasie is vererger toe hy oor ’n vullisdrom struikel en die res van die brandende olie oor sy bene stort.

Hy het in pyn op die vloer neergeval, maar kon gelukkig daarin slaag om sy eie lewe te red deur self die vlamme te blus terwyl sy huismaat in skok toekyk. Met die woonstel vol swart rook en die rookalarm wat afgaan, het Gage na sy kamer gestrompel waar hy probeer het om die skroeiende klere van sy lyf af te kry.

Toe hy in die badkamerspieël kyk, het hy besef hoe erg die situasie was. Die kookolie het sy vel laat wegsmelt en oop wonde en blase oor sy hele lyf gelaat. Sy bene het die ergste deurgeloop.

Gage se bene het die ergste deurgeloop. Foto: Maga
Gage se bene het die ergste deurgeloop. Foto: Magazine Features

Nikhil was in daardie stadium op die foon besig om reëlings te tref met die nooddienste en Gage kon helder genoeg dink om uit die woonstel te gaan om die gevaar van rookinaseming te vermy. Hy het duiselig gevoel en sy hart het woes geklop terwyl hy die volgende 15 minute op drie brandbestryders en twee paramedici gewag het.

Gage is per ambulans na die hospitaal in Phoenix, Arizona, geneem. Toe hy wakker word, het ’n verpleegster aan sy voete gevoel en aan ’n dokter gesê hy verloor sirkulasie in sy linkerbeen. Die mediese personeel kon gelukkig die sirkulasie in sy been herstel deur die wond deeglik skoon te maak.

Gage het die volgende drie dae vier veloorplantings aan sy bene, arms en gesig met vel van sy bobene ondergaan.

Gage het in drie dae vier veloorplantings op sy be
Gage het in drie dae vier veloorplantings op sy bene, arms en gesig met vel van sy bobene ondergaan. Foto: Magazine Features

“Terwyl ons kos gemaak het, het ons vergeet daar is olie op die stoof in ’n pot met ’n glasdeksel,” vertel Gage. “My woonstelmaat was by die voordeur van die woonstel en het gesien daar borrel swart rook onder die deksel uit.

“Ek het uit paniek die deksel verwyder en ’n vlam van twee meter het dadelik in my gesig ontplof. Die oomblik toe ek die pot gryp, was die vlam in my gesig, my hemp het vlam gevat, ek het gevoel hoe my nek brand, die vel aan my hande het vasgesmelt aan die metaalhandvatsel van die pot en ek het in daardie stadium geweet ek het ’n reusefout gemaak.

“Toe ek die olie op my bene uitstort en dit begin vlam vat, het ek in pyn uitgeroep na my woonstelmaat om te help, maar alles was swart voor my; ek kon nie sien nie. Ek glo om te sien hoe my vel lyk, het my wakker gehou, want ek het geweet as ek my bewussyn verloor, sal ek in groter gevaar wees. Ek het gedink ek is in ’n droom; ek kon nie glo wat gebeur nie. My hart het woes geklop; ek was duiselig en het geweet my liggaam verloor baie water.

“Al wat ek onthou daarna is ek is buitentoe geneem met die warm son wat op my skyn en is agter in die ambulans gesit.

“’n Dokter met ’n knipbord en papier het ingekom en my toestemming gevra om my linkerbeen te amputeer. Ek het sonder huiwering in die ‘nee’ boksie getiek en toe in trane uitgebars.

“Die skoonmaak van die wonde was verreweg die pynlikste ding wat ek ervaar het, benewens die brand self. Ek sou dit wat met my gebeur het nooit vir enigeen toewens nie.”

Gage is ná vyf weke se herstel ontslaan en het teruggekeer huis toe na Pennsilvanië waar hy sy buitepasiënt-rehabilitasie voortsit en vier keer per week fisioterapie ondergaan. Hy sukkel steeds daagliks met senuweepyn en die erge gejeuk en ongemak van sy styfgetrekte vel. Hoewel die fisieke simptome van die brandwonde geleidelik beter raak, bly die sielkundige impak van so ’n traumatiese voorval hom by en sukkel hy met posttraumatiese stres en paniekaanvalle.

Gage vertel dit was swaar vir hom, sy familie en s
Gage vertel dit was swaar vir hom, sy familie en sy meisie. Foto: Magazine Features

Hy erken egter die ongeluk het vir hom ’n nuwe, positiewe perspektief op die lewe gegee.

“Ek het ná my ongeluk fisiek goed gevaar, maar geestelik swaar getrek. My psigiater het posstraumatiese stresversteuring by my gediagnoseer, en dit was swaar vir my, my familie en my meisie.

“Ek vra altyd myself: ‘Hoekom het ek die pot gegryp? Wat sou gebeur het as ek net die pot van die hitte af verwyder het? Hoekom het my woonstelmaat nie gereageer nie?’ My nagmerries spook ook by my, maar ek moet leer om dit te verwerk. Oor die algemeen gaan dit goed met my, maar ek moet nog ’n lang pad stap om terug te keer na normaal. Die voorval het sonder twyfel my lewe verander.

“Almal ken die gesegde dat jy nie die lewe as vanselfsprekend moet aanvaar nie, maar ek het dit gedoen voor my ongeluk en besef nou enige dag kan jou laaste wees. Die een of ander fratsongeluk kan gebeur en dan is jy vir altyd weg.

“Ek was nie ’n baie positiewe persoon voor my ongeluk nie, en selfs my meisie het opgemerk daar is ’n verandering in my positiwiteit. Ek glo ek het positief gereageer omdat ek dankbaar is om te lewe ná my ongeluk. Dit kon veel erger gewees het.

“Om neerslagtig en negatief deur die hele situasie te wees sou die ergste ding vir my gewees het, want dit sou gewys het ek is nie dankbaar om te lewe nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe