Benewens die twee aanklagte van poging tot moord, is die Suid-Afrikaner wat vanaf 2005 aan die koninklike ingenieursregiment verbonde is, vandag in die hof in Winchester, Engeland, ook skuldig bevind aan"roekelose lewensbedreiging".

Inspekteur Paul Franklin, verbonde aan die Wiltshire-polisie, het Emile Cilliers as 'n "koue, berekende en gevoellose man" beskryf.

Die gepeuter met die valskerm was nie sy eerste poging tot moord op sy vrou, met wie hy in 2011 in Kaapstad by die Twelve Aspotles-hotel getrou het, nie.

Victoria Cilliers (41), ’n ervare valskermspringer, het op 5 April 2015 aan die dood ontkom toe haar valskerm op ’n hoogte van 1 220 m by die Netheravon-vliegveld nie oopgegaan het nie. Sy het daarna die noodvalskerm probeer ontplooi, maar dit het ook nie gewerk nie.

Victoria daag by die hof in Winchester op vir die verhoor van haar man, Emile Cilliers. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Daar is in ’n ondersoek deur die Britse valskermvereniging bevind twee noodaaklike skakels tussen haar harnas en die valskerm is verwyder.

Sy het ’n gebreekte pelvis, been, ribbe en rugbesering opgedoen in die val en het waarskynlik net oorleef omdat sy  fyn gebou is en in die sagte grond van 'n pas omgeploegte veld te lande gekom het.

In die hof is gehoor hoe hy op 29 Maart 2015, ’n week voor haar val, aan ’n gaspyp in die egpaar se huis in Amesbury gepeuter het om ’n ontploffing te veroorsaak.

Emile Cilliers was lid van die Britse weermag. Foto: Facebook.
In Januarie het hy dié foto, asook een waar hy saam met sy kollegas ski, gedeel. Foto: Facebook.
Een van sy vriende het by die foto op Facebook gesê hy hoop dit gaan goed met Emile "onder omstandighede."

Nadat hy die gasklep oopgedraai het, het hy koers gekies na sy minnares. Sy vrou, hul kleuter en hul baba van vier weke oud was tuis sonder enige idee dat hul lewe in gevaar verkeer. Victoria het op die oggend van 30 Maart wakker geword en was op pad om iets vir een van die kinders in die kombuis te gaan haal toe sygas ruik.

Victoria het vir hom ’n boodskap gestuur nadat sy bloed by die gasklep gewaar het en het grappenderwys vir hom gevra of hy van haar probeer ontslae raak . . .

Skuld

Tydens die twee aanslae op Victoria se lewe, het Cilliers glo ernstige skuldprobleme gehad. ’n Bedrag van £22 000 (ongeveer R370 000) is genoem. Hy het in alle waarskynlikheid ’n versekeringspolis op Victoria se lewe gehad, ’n polis wat hom £1220 000 (ongeveer R2 000 000) in die sak sou bring.

Maar Victoria het sy plan gefnuik. Sy het haar testament verander en al haar bates aan haar kinders bemaak.

Victoria het in die hof getuig Cilliers het telkemale geld by vriende geleen en in gevalle dit selfs reggekry dat van hulle vir hom borg staan vir nuwe lenings.

“Hy het my kredietkaart sonder my toestemming gebruik. Ek het dit reeds talle kere gestop omdat ek gedink het iemand pleeg bedrog daarmee. Hy het dit gebruik terwyl ek in die hoësorgeenheid was.

“Ek het hom nooit toestemming gegee om my kredietkaart te gebruik nie."

'Seksklub'

Sy het aan die hof vertel sy vermoed Cilliers was deel van ’n “seksklub” en dat hy, benewens ’n affair met Stefanie Goller van Oostenryk en seks met sy eksvrou, Carly Taylor, ook verskeie kere met prostitute kontak gehad het.

Telefoon- en rekenaarrekords het ’n vollediger prentjie van Cilliers se lewe geskets.

Tydens sy verskyning in die hof het Cilliers aan die jurie gesê hy het “seks en vrouegeselskap nodig” en daarom het hy in 2014 via Tinder kontak gemaak met Stefanie. Victoria was in daardie stadium tuis, hoog swanger met hul tweede kind.

Maar dit het nie gekeer dat Cilliers vir Stefanie gemiddeld 200 teksboodskappe per dag stuur nie. Hulle het ook na bewering saam na eiendom begin soek.

Die twee minnaars het gereeld duur etes geniet en met vakansie na die Tsjeggië en Duitsland gegaan. 

Cilliers het onskuldig op die twee aanklagte gepleit. Hy het beweer die gaslekkasie was die handewerk van ’n “vreemdeling” wat by die gesin se huis ingebreek het.

Regter Nigel Sweeney het in November 2017 die jurie ontbind omdat hulle nie eenstemmigheid kon bereik nie. Verskeie lede van die jurie het boonop beweer hulle is tydens hul samesprekings geboelie. Die herverhoor het in April vanjaar begin.

Cilliers het hom in 2000 in Brittanje gevestig. 

Bronne: thetimes.co.uk, forces.net, theguardian.com, bbc.com.wiltshire, dailymail.co.uk, bbc.com, dailyrecord.co.uk