Die dag toe hy sy hart op ’n mooi Amerikaanse toeris in sy tuisdorp aan die Wes-Rand verloor het, sou hy nooit kon dink dat hulle nou, vier jaar later, steeds op twee verskillende vastelande afsonderlike lewens sou lei nie – selfs al het hulle intussen getrou en die ouers van ’n kleinding geword. 

Maar nog minder sou Ronald Smith (32) kon droom dat hy en sy Amerikaanse vrou, Tiffany Franco-Smith (30), se liefdesverhaal vol struikelblokke miljoene TV-kykers oor die wêreld heen week ná week voor die kassie vasgenael sou hou.

Al is hulle een van die gewildste paartjies in die Amerikaanse werklikheidsreeks 90 Days Fiancé: Happily ever after, wat hier by ons op DStv se TLC-kanaal te sien is, sê Ronald die ervaring is “alles behalwe glansryk”. 

Ronald en sy vrou, Tiffany, hoop op vanjaar in Ame
Ronald en sy vrou, Tiffany, hoop op vanjaar in Amerika herenig te word. Foto: Instagram

“Dis oorweldigend. Nog elke keer wanneer sy teruggaan, het sy ’n stukkie van my saamgevat. Nog elke keer het dit my gebreek,” vertel hy oor die hartverskeurende afskeid ná elke kuier by hom hier in Suid-Afrika. 

Maar die afstand wat hulle skei oor die Atlantiese Oseaan heen, is nie die enigste struikelblok op hul liefdespad nie.

Ronald moes ook Tiffany en haar ma, Margarita, se vertroue terugwen nadat hy ’n dobbelverslawing ontwikkel het. Voor die TV-kameras het sy skoonma geen geheim daarvan gemaak dat sy reken Ronald kan haar dogter niks bied nie. Voeg daarmee saam ’n pandemie wat dit nog moeiliker vir die paartjie maak om mekaar te sien.

Geen wonder kykers kan nie genoeg kry van die boeiende ware liefdesdrama in die reeks nie, waarin verskeie paartjies gevolg word wat oor kulturele en internasionale grense heen liefde vind.

Die “90 dae” in die titel verwys na hoe lank die visum geld vir ’n buitelander wat aan ’n Amerikaanse burger verloof is. Die groot vraag in 90 Days Fiancé is of die paartjies hul liefdesbootjie deur die storms van visumprobleme en familiedramas kan stuur om eindelik ’n veilige hawe te vind.En kykers bly wonder: sal ook Ronald en Tiffany eindelik vir altyd en altyd gelukkig saam kan wees?

Dit was liefde met die eerste oog opslag toe hy die pragtige Amerikaanse brunet vroeg in 2017 in Randfontein ontmoet het, vertel Ronald by sy tuiste in Pretoria, waar hy deesdae as bestuurder by ’n konstruksiemaatskappy werk.

Ronald Smith van Randfontein, hier by die gesin se
Ronald Smith van Randfontein, hier by die gesin se hondjie, Charlie, het in die reeks 90 Days Fiance, roem verwerf. Foto: Papi Morake/Media24/Gallo Images

“Ek het dieselfde dag van ’n seevakansie teruggekom toe my vriendin bel en sê: ‘Kom kuier saam, die Amerikaners is hier!’” onthou hy. Hy het geweet sy vriendin wat voorheen as au pair in Amerika gewerk het, verwag besoek van ’n Amerikaanse vriendin wat saam met nog ’n vriendin na die land reis.

“Toe ek agter in die kar in klim, toe sit Tiffany daar,” vertel Ronald van sy eerste ontmoeting met Tiffany, wat as grimeerkunstenaar in die Amerikaanse deelstaat Maryland werk.

Hulle het dadelik gekliek. Toe hy haar sowat drie weke later lughawe toe neem, het sy gehuil. “Toe weet ek, daar is íéts tussen ons.”

Met haar volgende besoek minder as ses maande later het hulle by ’n restaurant naby Krugersdorp verloof geraak.

“Ek het net geweet sy is die vrou vir my. Haar morele waardes, wie sy is en haar siening op die lewe het my aangetrek.”

Tog erken Ronald hulle het ook baie vasgesit. “Sy is mooi! Maar sy’s moeilik,” sê hy oor die vurige en uitgesproke Amerikaner.

Tiffany het dit uit die staanspoor duidelik gemaak dat sy geen voorneme het om in Suid-Afrika te kom woon nie.

“Ek dink nie ek het geweet hoe om dit te hanteer, toe sy daarna weer teruggaan Amerika toe nie. Jy weet nie of kom sy weer terug nie.

“Ons was verloof en lief vir mekaar en ek het ’n dip gevang . . . Ek het opgeneuk,” erken hy.

Dit is toe dat sy sosiale dobbelgewoonte in ’n verslawing begin ontaard het.

Met haar volgende kuier in Desember 2017 het Tiffany, weer sonder haar jong seun, uit ’n vorige verhouding kom kuier. Ronald en die seuntjie het wel toe reeds so ’n hegte verhouding opgebou dat die seun hom “Dad” begin noem het.

Die egpaar by hul dogter en Tiffany se seun, wat R
Die egpaar by hul dogter en Tiffany se seun, wat Ronald nou soos sy eie grootmaak. Foto: Instagram

Hy was toe byna dieselfde ouderdom as wat Ronald was toe sy geliefde stiefpa, Henk, in sy lewe gekom het. Dit was ná sy ma Ria se egskeiding van sy pa Piet, ’n speurder van Randfontein wat later vermoor is.

Met Tiffany se vertrek was haar en Ronald se toekomsplanne steeds onseker. In sy desperaatheid het sy dobbelverslawing daarna die oorhand gekry. Hy sou vir dae lank verdwyn, terwyl hy in internetkafees sy geld verkwansel. In die wurggreep van sy verslawing het hy selfs die selfoon waarmee hy met Tiffany in Amerika kommunikeer en van sy geliefde ma se eiendom verpand om dobbelgeld te kry. 

Eindelik moes Ronald aan Tiffany verduidelik waarom hy sy selfoon kwyt is en sy dae lank niks van hom gehoor het nie. Nadat hy oor sy dobbelverslawing gebieg het, is hy in April 2018 vir ses maande in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem.

Dit is hier waar kykers in die eerste seisoen van die werklikheidsreeks se aflewering van 90 Day Fiancé: The Other Way, met Ronald kennis maak.

Die vervaardigers daarvan het Tiffany via ’n Facebook-groep opgespoor waar Amerikaners met verloofdes in die buiteland vir mekaar raad oor onder meer visums uitdeel. Ronald erken hulle word “goeie geld” per episode betaal.

Hulle is in Oktober 2018 voor die TV-kameras en 80 gaste by ’n onthaalplek in Muldersdrift getroud. Tiffany se pa Carlos, haar suster Laura en haar seun (nou 11) het uit Amerika gekom vir die troue.

Kort daarna was Tiffany swanger met hul dogter (nou 2). Sy is vroeg in die swangerskap terug Amerika toe, want ná ’n besoek aan ’n staatshospitaal in Gauteng het sy besluit om liewer in haar geboorteland te gaan kraam. Die dogtertjie was al drie maande oud toe Ronald sy eersteling eindelik in sy arms kon hou. Tiffany en haar seun het sy babasussie in September 2019 saamgebring Suid-Afrika toe.

Op hul troudag in 2018. Agter van links is haar pa
Op hul troudag in 2018. Agter van links is haar pa, Carlos, suster, Laura, sy stiefpa, Henk, en ma, Ria. Voor is die egpaar saam met Tiffany se seun. Foto: Instagram

“Ek kon sien sy is my kind,” sê hy oor die donkerkoppie wat so baie na hom trek. “Dis iets wat my elke dag breek, want ek mis al die mylpale – elke eerste, alles. Dis nie dieselfde oor ’n video-call nie.”

Ná nog ’n pynlike afskeid van sy gesin, het die covid-19-pandemie toegeslaan en Ronald en Tiffany vir ’n volle nege maande geskei. Die tyd en afstand het sy tol begin eis. Maar Ronald verklap hulle het nog nie hoop laat vaar op ’n gelukkige einde vir hul liefdesverhaal nie.

Hy werk hard daaraan om aan Tiffany te bewys hy wil graag by haar wees. Die tydsverskil van sewe ure stuit hulle nie om deurlopend met mekaar te gesels en op verskillende tye van die dag vir mekaar te moet nag sê nie.

Tiffany is juis nog deur die slaap wanneer ons haar in Amerika bel. “Ek ken darem al ’n paar Afrikaanse woorde, meestal vloekwoorde,” skerts sy hees.

“Ek ken ‘mooi’ en ‘dankie’, ‘lekker slaap’ en ‘lekker aand verder’.”

Sy vertel sy het al “seker 10 keer kom kuier”, maar sien nie kans om in Suid-Afrika te woon nie.

“Julle het vir my die lekkerste warm weer en die mooiste sonsondergange. Maar die grootste kwessie vir my is maar die veiligheid en ’n toekoms vir ons kinders.”

Dan voeg sy by: “Ek sien uit om hom hier in Amerika te hê, net om saam met my man te gaan slaap en wakker te word.”

Ronald hoop om binnekort ’n visum te kry sodat hy eindelik by sy gesin in Amerika kan aansluit. Tog erken hy dat hy met ’n swaar hart van Suid-Afrika en sy mense hier afskeid sal neem. 

“Maar ek wil graag by my gesin wees en my gesin is in Amerika,” sê die man en pa wat sy hart wil volg ver oor die Atlantiese Oseaan . . .

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe