“Ek het pas my finale eksamen vir my mediese kursus klaar geskryf toe ek ’n e-pos van die universiteit kry wat sê ek kan nie graadvang voor al my uitstaande skuld betaal is nie,” vertel sy.

Die 27-jarige, bekend as Taz, het die verpletterende nuus in ’n video van vyf minute met haar Instagram-volgelinge gedeel en verduidelik sy is desperaat op soek na hulp.

View this post on Instagram

A post shared by Taz ???? (@tazfitness_sa)

“Ek het net my oë uitgehuil, want ek het gedink ek het so ver gekom en nou is ek in hierdie posisie. Ek was baie emosioneel.”

Nadat sy die universiteit en die regskliniek gekontak het, was Taz oortuig daarvan niks sou haar uit die situasie kon help nie, maar haar kêrel van vyf jaar, Yonda Thomas, wou haar nie laat tou opgooi nie.

“Hy’t heeltyd gesê, ‘Hou op om jouself jammer te kry', en my verseker alles gaan oukei wees,” sê sy.

“Ek het regtig niks gehad om te verloor in daardie oomblik nie,” sê sy oor haar besluit om hulp te vra. “Nadat ek die video gedeel het, het dit gevoel asof daar ’n swaar las van my skouers af is en of als oukei gaan wees.”

Kort voor lank was sy weer in trane – maar dié keer oor die barmhartigheid van vreemdelinge wat haar ontroer het. 

“Dit was alles so oorweldigend."

Standard Bank het haar gekontak om ’n lening van R250 000 aan te bied om die balans van die skuld te dek wat skenkings nie sou dek nie, en om met Wits te onderhandel om die betaalspertyd te verleng. 

“Die bank se uitvoerende hoof, Funeka Montjane, het na my toe uitgereik en gesê sy het my video gesien. 

“Teen die tyd wat die lening goedgekeur en in my bankrekening was, het Suid-Afrikaners my gehelp om ’n totaal van R471 000 in te samel om my studieskuld te vereffen.”

Die skenkings is ook gebruik om die banklening af te betaal.

“Ek sal vir altyd dankbaar wees teenoor Suid-Afrika. Hierdie graad behoort nie meer net aan my nie, maar aan almal wat my gehelp het om dit te kry.”

Nes talle universiteitstudente wat met studiegeld sukkel, het Taz tydens haar eerste, tweede en derde jaar gewerk om vir haar studie te help betaal.

“Ek het aansoek gedoen vir beurse en privaat borge, en het óf geen antwoord ontvang nie óf is afgekeur.

“Ek het deeltyds gewerk om vir my studie te betaal en my derde jaar moes ek op ys sit omdat ek bloot nie meer die fooie kon bekostig nie.

"Ek was aanvanklik baie hartseer dat ek ’n jaar agter my medestudente sou wees, maar het daarmee vrede gemaak.”

Taz, oorspronklik van Kaapstad, is die eerste persoon in haar familie wat ’n graad as ’n dokter behaal.

“My ma en stiefpa het my baie ondersteun toe ek ’n eenrigtingkaartjie Johannesburg toe bespreek het om medies te studeer.”

Die ma van een, wat haar seun, Dhayaan Emeran (12), gehad het toe sy 16 was, het geweet sy moes haar lewe omswaai. “Voor ek swanger geraak het, het ek saam met die verkeerde mense uitgehang en my drome laat vaar.”

Haar seun was vroeggebore en het twee maande in die neonatale hoësorgeenheid deurgebring. “Dit het my laat besef ek moet na hom omsien.”

Sy is na Johannesburg toe om haar droom te verwesenlik om ’n dokter te word, ten spyte van die afkeur in haar gemeenskap oor ’n jong ma wat haar seun agterlaat.

Sy en Dhayaan kuier minstens vier keer per jaar by mekaar en gesels gereeld oor video-oproepe.

As gevolg van die pandemie en reisbeperkings sal Taz vandeesmaand haar seun vir die eerste keer in ’n lang ruk sien. “Ek voel senuweeagtig,” sê sy met ’n laggie.

“Hy is nou so groot en ons het mekaar lanklaas gesien; daarom raak ek senuweeagtig oor hoe hy my sal ontvang.”

Taz glo haar graad moet mense herinner dat enigiets moontlik is wanneer Suid-Afrikaners saamstaan.

“Ek is verstom en steeds sprakeloos oor die liefde en goedheid. Ek het alleen gevoel toe ek in die eerste jare van my graad gesukkel het en nou voel ek Suid-Afrika is my familie.”

Nadat sy haar twee jaar internskap by die Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal voltooi het, wil Taz in kardiotorakale chirurgie spesialiseer.