Baie van dié gestrande Suid-Afrikaners se geld is besig om op te raak omdat kruideniersware en medikasie in sommige lande baie duur geword het en hulle nie meer verblyf kan bekostig nie. Baie van hulle weet ook nie of hulle meer werk gaan hê wanneer hulle terug in die land is nie. 

“Dit breek ons harte om te dink ons het so lank gespaar om eindelik in ’n nagmerrie te beland. Dit voel of ons ’n spel van beskaafde Survivor speel,” sê Stacey Peacock. Sy en haar man, Leon en hul 11-jarige dogter bly in die Eden-hotel in Kuta, Bali. Hulle het op 17 Maart Bali toe gevlieg met vakansie en sou op 28 Maart teruggevlieg het Suid-Afrika toe.

“Ons het ons reisagentskap verskeie kere gekontak en is gesê om voort te gaan en ons vakansie te gaan geniet,” vertel Stacey. 

Maar sedert die inperking, kon hulle en honderde ander Suid-Afrikaners nie terugkeer nie en wag hulle op die departement van buitelandse betrekkinge en samewerking op antwoorde oor wanneer en hoe hulle by die huis gaan kom. 

“Ons het vir ’n vakansie van 12 dae begroot,” vertel Stacey. “Maar ons is nou al meer as ’n maand hier.” 

Hulle selfisoleer soveel moontlik in die hotel. Hulle kyk televisie en speel kaart om die dae om te kry. “Soms gaan swem ons. Wanneer ons vinnig winkel toe moet gaan, kyk een van die ander Suid-Afrikaanse ma’s vinnig na ons dogter,” vertel Stacey. 

In Kuta is net ’n paar winkels en apteke oop. 

Die strande in Bali is ook gesluit. Foto: Stacey P
Die strande in Bali is ook gesluit. Foto: Stacey Peacock

“ ’n Ordentlike ete kos omtrent R250, so ons eet net so ’n ete elke tweede aand. Tussenin eet ons toebroodjies en noedels,” vertel Stacey. 

Vandinika en Amar Nathoo, twee ander Suid-Afrikaners wat in die Eden-hotel vasgekeer is, is ook baie bekommerd oor die situasie. 

“Ons kon ’n goedkoper tarief (by die hotel) beding wat alle etes en geriewe uitsluit,” vertel Vandinika vanuit Bali. 

Die egpaar het op 16 Maart in Bali aangekom nadat Amar vir Vandinika met ’n vakansie in Bali verras het as verjaardaggeskenk. Maar omdat geen vlugte in Suid-Afrika mag land nie, wag hulle al sedert 26 Maart om terug te keer.

“Ons is gemiddelde werkersklasmense, wat jare lank gespaar het om met vakansie te gaan,” sê Vandinika, ’n arbeidsterapeut van Kaapstad.

Vandinika en Amar Nathoo. Foto: Verskaf
Vandinika en Amar Nathoo. Foto: Verskaf

Sy meen hulle geld is nou besig om op te raak. Hulle stapelvoedsel is in die stadium kitsnoedels en gebottelde water. Hulle hou elke dag die nuus dop en bly in kontak met familie en vriende in Suid-Afrika.

“Dit is moeilik om elke dag positief te bly,” vertel sy. 

Cecilia van Zyl van Upington in die Noord-Kaap is al vir langer as ’n maand saam met haar twee seuns en dogter in Bali gestrand.

“Ek het leukemie en moet twee keer per dag chemoterapie kry,” vertel sy uit Kuta aan Huisgenoot. “Ek was by verskeie hospitale tot ek een kon vind wat dit (die chemoterapie) het.

"Die dokter het vir my twee weke se medikasie gegee, so ek moes al twee keer soontoe gaan. Hy gaan dit ook nie weer vir my gee sonder bloedtoetse nie.”

Cecilia moes nou voortgaan om bloedtoetse te doen, wat saam met die medikasie, ’n klomp geld kos. Sy het intussen enkelplaatstofie gekoop waarmee sy vir haar en die kinders in hul hotelkamer probeer etes voorberei.

Cecilia van Zyl saam met haar kinders, Jacques, Me
Cecilia van Zyl saam met haar kinders, Jacques, Melicha en Brendan, in Bali. Foto: Verskaf

“Een kilogram uie kos R170, biefstuk R220,” vertel Cecilia oor die duur kospryse. “Ek is ’n weduwee en ek werk baie, baie hard om vir my kinders te voorsien. Dit voel asof dit my skuld is dat hulle hier gestrand is.” 

Suid-Afrikaners wat in Viëtnam Engels gee, sit nou ook sonder inkomste en enige vooruitsig van werk in die nabye toekoms. 

Dewan van Niekerk van Pretoria het in November na Viëtnam gereis om daar te begin skoolhou. In Januarie het hy tydens die skoolvakansie teruggekeer na Suid-Afrika en in Februarie weer Ho Tsji Minh-stad toe gegaan. Op pad Viëtnam toe het Dewan op Doebai se lughawe uitgevind dat die land se skole, wat op 17 Februarie sou open, eers twee weke later sou open.

“Sedertdien is die opening van die skole elke twee weke uitgestel,” vertel Dewan vanuit Viëtnam. Hy en ’n mede-Suid-Afrikaner, Tielman Herbst, deel ’n woonstel. 

Dewan en Tielman het gehoop om op 4 April weer terug te kom Suid-Afrika toe, maar weens die inperking is hulle ook gestrand. 

Dewan van Niekerk en Tielman Herbst
Dewan van Niekerk en Tielman Herbst is in Viëtnam vasgekeer. Foto: Verskaf

“Ons grootste uitdagings in die stadium is die gebrek aan inkomste sedert Februarie en geen vooruitsig van werk vir die nabye toekoms nie.

”Dewan sê die mark vir aanlyn onderrig is nou ook versadig, en hy sukkel om werk te kry.

“Ons spaargeld is amper uitgeput,” vertel hy. “Ons moet ook ons visums hernu, wat baie duur is,” vertel Dewan. 

Rachel Chabalala woon saam met haar twee kinders in ’n agterkamer van haar werkgewer. Sy weet self nie wanneer en óf hulle binnekort na Suid-Afrika sal kan terugkeer nie. 

Rachel Chabalala saam met haar kinders, Abigail en
Rachel Chabalala saam met haar kinders, Abigail en Charles. Foto: Verskaf

“Ek het Viëtnam toe gekom om as onderwyser te werk, en ons het geen planne gehad om na Suid-Afrika terug te keer nie omdat my kinders hier op skool is,” vertel Rachel.

“My grootste uitdaging was om steeds my kinders se skoolfonds te betaal, en ek moes hulle eindelik uit die skool neem. Dit het my hart gebreek, en ek het nog nie eens vir hulle gesê nie.” 

Sy probeer om haar kinders intussen tuis te onderrig met behulp van opvoedkundige aktiwiteite wat aanlyn beskikbaar is.

“Ek is elke dag bang dat ek nog slegte nuus gaan ontvang of dat ons kos gaan opraak,” vertel sy.

Sy sê hulle verlaat nie die kamer nie, behalwe wanneer hulle winkel toe moet gaan om kos te gaan koop. 

Volgens ’n e-pos van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking wat Huisgenoot onder oë gehad het, is onderhandelings om Suid-Afrikaners uit Viëtnam te repatrieer onderweg. Maar daar is nog nie duidelikheid oor wanneer die Suid-Afrikaners sal kan terugkeer nie.

Die departement het ook nie op Huisgenoot se navrae om kommentaar gereageer nie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.