Anke Strydom
Anke Strydom van Sundra, Mpumalanga, sê sy kan steeds nie glo sy het die wrede aanval oorleef nie. Foto: Verskaf

Sy het gedink dis net ’n siek grap toe sy dae gelede ’n e-pos van ’n onbekende man ontvang wat haar met ’n aanval dreig, vertel ’n vrou van Sundra, Mpumalanga. Maar toe slaan die aanvaller drie dae later toe . . .

Ja, sy wás meer paraat toe sy op 10 April die vreemde e-pos ontvang het, waarin ’n man sê hy “soek haar vir homself”, sê Anke Strydom (39), ’n sakevrou van dié dorp. Maar eintlik het sy en haar man, Gerrit (41), albei net vermoed die e-pos kom van ’n moeilikheidmaker.

Die e-pos aan Anke het gelees: “Ek sien jou elke dag met die honde speel – ek het jou selfs sien dans. Ek hoop nie jy is kwaad nie, maar ek het jou e-pos op jou skootrekenaar gekry toe jy [na buite] na die ander huis geloop het. Ek soek jou vir myself en ek gaan jou kry.” 

Anke en Gerrit woon saam met hul twee kinders op ’n kleinhoewe. Haar ma, Margie Kruger (64), woon in ’n aparte huis op dieselfde hoewe.

Anke Strydom
Die e-pos wat op 10 April na Anke gestuur is. Die e-posadresse is nie sigbaar nie want dié bewyse vorm deel van die polisieondersoek. Foto: Verskaf

“Ek stap baie oggende met my wasgoed na my ma se huis toe omdat die wasmasjien by haar staan,” verduidelik Anke Vrydag aan Huisgenoot. “Maar toe ek die e-pos ontvang het, het ons vermoed dis net ’n leë dreigement van ’n verveelde kwaadstoker.” 

Tog het die e-pos kommer gewek, verduidelik Anke, omdat die gesin net die aand tevore op die houtdek buite die huis gekuier en gedans het.

“Die verwysing na ons wat dans, het ons redelik bang gemaak; daarom was ons meer paraat. Maar ons sou nooit kon voorspel dat die dreigement ernstig was nie.” 

Dit wás. Anke vertel sy was Dinsdagoggend (13 April) pas tuis toe sy die voordeur oopgemaak het om haar twee hondjies weer na binne te laat kom. Toe slaan die aanvaller toe. Sy het die man nie herken nie en ken hom van geen kant af nie.

Anke Strydom
Die wond aan haar regterarm. Foto: Verskaf

“Ons woon in ’n houthuis, en ek vermoed die man het heeloggend lank onder die huis geskuil en gewag om toe te slaan,” vertel sy. “Ek het hom glad nie gesien nie, maar toe ek die deur vir die hondjies oopmaak, het hy skielik verskyn. Hy het die deur oopgedruk en my na binne gedwing.” 

’n Stoeiery het tussen haar en die aanvaller ontstaan, vertel Anke. “Ek het probeer weghardloop, maar ek het in die proses geval. Ek was nog op my knieë toe hy my weer omstamp en my op my rug op die grond neerpen. Hy het bo-oor my gesit.” 

Haar instink was om terug te baklei, vertel Anke. “Ek het geskree en gestoei, maar hy het heeltyd vir my gesê ‘moenie terugbaklei nie, moenie terugbaklei nie’. In een stadium het hy sy hand onder my bloes probeer indruk en my bene probeer oopdwing. Ek is daarvan oortuig hy wou my verkrag.”

Anke kon haar regterarm vanuit die aanvaller se greep loswikkel en het hom met ’n harde vuishou geslaan. Maar die aanvaller het haar weer bygekom en ’n mes – die enigste wapen wat hy aan hom gehad het – teen haar keel gedruk. 

Anke Strydom
Die koffietafel is met bloed bevlek. Foto: Verskaf

“Ek het gedink ek gaan sterf,” sê sy opnuut emosioneel. “Ek kon voel dat daar bloed uit die wond in my nek sypel.”

Maar Anke het weer terugbaklei en vir ’n tweede keer daarin geslaag om op te spring en in die gang van die huis af te hardloop. 

“Die aanvaller het my agternagesit en my weer probeer vastrek. In die stoeiery het hy na my keel gesteek met die mes, maar ek het met my arm gekeer en die lem het my arm deurboor. Ek kon daarin slaag om in my seuntjie se kamer in te hardloop en het die deur agter my toegeslaan. Ek het met my rug teen sy bed gaan sit en met my voete teen die deur. Hy het aangehou om aan die deur te hamer,” vertel sy.

Haar enigste kans op oorlewing was om die aanvaller vir ’n tweede keer die stryd aan te sê, vertel Anke. Sy het nie haar selfoon of die tweerigtingradio aan haar gehad nie.

Dié foto wys waar die aanvaller se mes Anke se regterarm oopgekloof het. Foto: Verskaf
Anke Strydom
Bloedspatsels in die deurkosyn van haar seun se kamer soos Anke van die aanvaller probeer ontsnap het. Foto: Verskaf

“Ek het geweet hy sou die deur afbreek as ek nie binnekort iets drasties doen nie. Toe onthou ek dit: die windbuks in my seun se kamer. Ek het geweer gegryp, die deur oopgeswaai en die windbuks in sy gesig gedruk. Toe skree ek vir hom: ‘Ek sal jou skiet!’” 

Dis toe die aanvaller weghardloop, sê Anke. Hy het niks gesteel nie – ook nie haar handsak wat by die ingang van die voordeur gestaan het nie.

“Ek het begin huil en die buurtwag dadelik ontbied,” onthou sy vandag. “Ek weet nie hoe anders die aanval sou uitdraai as ek nie die kans gewaag het om hom met die windbuks te dreig nie. Of as hy dalk geweet het dat dit net ’n windbuks is.” 

Margie het Anke na ’n provinsiale hospitaal in Springs, Gauteng, geneem. Hier is die meswonde aan haar nek en regterarm met steke toegewerk. Sy word ook behandel vir die gebreekte beentjies in haar regterhand waarmee sy verbete teen die aanvaller baklei het.

Anke Strydom
Die sitkamer was vol bloedspatsels soos Anke uit die aanvaller se greep probeer loskom het. Foto: Verskaf

Net twee dae later kan sy steeds nie glo sy het lewend ontsnap nie, sê Anke. “Ek sit hier in my sitkamer en beleef oor en oor daardie aanval. Ek weet nie of ’n mens ooit van so iets sal kan aanbeweeg nie.” 

Vra jy haar of sy en haar gesin planne het om te verhuis, antwoord sy onomwonde: Nee. “Ons gaan nie toelaat dat misdaad en vrees ons lewe oorheers nie. Ja, dis sleg, en dit gaan waarskynlik maande neem om dit te verwerk. Maar ons is reeds in die proses om die veiligheid op te skerp – ons sal nie toelaat dat misdaad ons verdryf en ons lewe heeltemal omverwerp nie.”

  • Die polisie ondersoek ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, sê kol. Donald Mdhluli, ’n provinsiale polisiewoordvoerder in Mpumalanga. “Ons kan bevestig die saak is aanhangig gemaak en dat ’n soektog na die aanvaller van stapel gestuur is.”
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe