“My suster het op ’n kol oor haar troue gepraat asof dit soos môre was, al het sy in daardie stadium met niemand uitgegaan nie. Ek sê toe as sy my ooit na ’n troue sou nooi, bring ek wraggies ’n lama saam,” vertel Mendl, van die Amerikaanse deelstaat Ohio, op die aanlyn gemeenskap Reddit.


Tipies die irriterende kleinboet, wou hy ’n bietjie sy sus, Riva, se siel uittrek. “Sy het baie omgekrap geraak en gesê ek kon nie. Eindelik het sy so keelvol geraak dat sy gesê het: Te hel daarmee; die lama is na die troue genooi!” 

Dit was ’n paar jaar gelede, “maar sedert daardie dag het ek altyd belowe ek sou een saambring. En nou ja, toe sy die afgelope Oktober eindelik verloof raak, het ek geweet dis my tyd om uit te blink,” vertel Mendl.

Hy het doodseker gemaak sy vergeet nooit daardie uitnodiging nie, en toe sy hom met die nuus bel dat Avi Eisenberg haar die jawoord gevra het, het Riva vertel, was Mendl se eerste woorde: “Ek bel nou die lamaplaas.”

En skaars ’n uur later kry sy ’n teksboodskap dat alles in die haak is; sy lama is gehuur.

Voor die groot dag vandeesmaand het Riva “talle ooreenkomste probeer aangaan, alles moontlik probeer om te keer dat dit gebeur, maar siedaar, daar was ’n lama op my troue!”

’n Snyersvriend van Mendl het minder as ’n week vooraf dié benoude pleidooi gerig: “Ek’s gehuur om ’n aandpak te maak, maar ek het nie die mates vir ’n lama nie. Ek neem aan dis ’n volwasse manlike lama.”

Ja, Mendl het ten minste seker gemaak Shocky die lama steek nie af by die res van die gaste toe hulle sy aan sy by die seremonie in Cleveland opdaag nie. 

Op die enkele foto’s waartoe Riva wrewelig ingestem het (“Ek het geweier om langs die lama te staan of daaraan te raak”) lyk sy allesbehalwe geamuseer. Maar, het sy agterna gesê, “dit was maar nog altyd my gesigsuitdrukking wanneer ek na my broer kyk”.

En bygevoeg: “Hy beter maar met sy een oog oop slaap, want ek gaan hom op die een of ander manier terugkry.”

Bronne: Reddit, boredpanda.com, upi.com, Facebook