Foto: Verskaf
Mari Hoon en Jéan Vosloo voor hul dood. Foto: Verskaf

Vyf maande ná die raaiselagtige dood van twee jong mense in die stort van ’n gasteplaas in die Kareedouw-distrik in die Oos-Kaap wag die families steeds desperaat op antwoorde.

Die dood van Mari Hoon (28) en haar verloofde, Jéan Vosloo (25), het hul naastes en mense oor die land heen geruk toe ’n vriend hulle die oggend van Sondag 26 April leweloos in die stort van die tweeslaapkamer-kliphuis gevind het.

Foto: Verskaf
Op ’n laaste foto ontspan hulle die middag voor hul dood by die kliphuis. Foto: Verskaf

Die paartjie, wat volgende jaar wou trou, het te midde van die inperking weens covid-19 vir die naweek daarheen weggebreek.

Maar wat net ’n avontuurlustige naweek in afsondering saam met ’n vriend en hul geliefde rottweiler, Keizer, moes wees, het terstond geëindig toe hulle die Saterdagaand gaan stort het.

Foto: Verskaf
Die Kouga-kliphuis naby Kareedouw in die Oos-Kaap. Foto: Verskaf

Sedertdien is hul families se lewe as’t ware tot stilstand geruk, vertel Suné Hoon (30), Mari se ouer suster, wat op ’n klein dorpie in Noordwes woon. Sy vertel dit is veral haar ma, Maria (56), wat baie swaar trek.

“My ma vat dit baie erg. Sy het in ’n stadium hier by my kom bly, maar nou is sy en my pa (Sakkie) weer in Melkbosstrand. Dit is so asof hulle nie weet waar hulle hoort nie. My ma het iemand gaan sien.

“Die berader het vir my gesê dit is van die ergste smartrou wat hy nóg gesien het – my ma gaan haarself doodtreur. Sy kan dit nie aanvaar dat my sussie dood is nie. En dit is moeilik.

“Die enigste manier hoe ek daarmee cope is om te krap en antwoorde te soek. Alles het nou so stil geraak, nou is dit nog moeiliker. ’n Mens praat nou ook minder daarvan.”

Foto: Verskaf
Mari saam met hul geliefde hond, Keizer. Foto: Verskaf

Maar sy vertel alles het tot stilstand gekom – selfs die polisieondersoek.

“Daar is nie veel wat ’n mens kan doen nie – behalwe om te wag. Ons het so baie vrae. Daar is so baie feite oor daardie nag wat steeds nie sin maak nie.”

Foto: Verskaf
Mari (heel regs) by haar ouers, Sakkie en Maria, en sussies, Michelle Green (heel links) en Suné Hoon (middel). Foto: Verskaf

Die lykskouing kon ook nog geen beslissende antwoorde bied nie. Daar was volgens die verslag geen eksterne beserings aan Mari, wat maar 1.63 m lank was en om en by 65 kg ten tyde van haar dood geweeg het, nie. Die enigste leidrade volgens die verslag is dat die algemene voorkoms van Mari se organe “kersierooi” was.

Die patoloog kon egter geen beslissende bevinding oor die oorsaak van haar dood maak nie en het aangedui: “Wag op koolstofmonoksiedvlakke”.

’n Gaslek kan, volgens die polisie, agter die sterftes sit. Die uitslag van dié toksikologieverslag, wat dit as oorsaak sal bevestig, kan egter jare neem.

Die pragtige Mari Hoon. Foto: Facebook
Die pragtige Mari Hoon. Foto: Facebook

“Die forensiese toetse word in die laboratorium in Pretoria gedoen. Ons volg gereeld op, maar ja, dit gaan ’n tyd neem. Dalk jare,” het kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, Woensdag aan Huisgenoot gesê.

Gerda het die familie aangeraai om enige navrae wat hulle oor die ondersoek het aan die ondersoekbeampte te rig.

“Wat ek kan sê, is ’n onnatuurlike sterfte soos dié sal deeglik ondersoek word.”

Niemand is nog in die stadium aangekla nie.

'n Besonderse skildery wat Mari se susters, vir hu
'n Besonderse skildery van Mari wat haar susters kort voor haar begrafnis vir hul gebroke ma laat skilder het. Foto: Facebook
Mari Hoon en Jéan Vosloo wou in 2021 trou. Foto: F
Mari Hoon en Jéan Vosloo wou in 2021 trou. Foto: Facebook

Kevin Pretorius, die eienaar van die Zuuranys-gasteplaas waar die tragedie gebeur het, het aan Huisgenoot gesê ook hy wag op die uitkoms van die ondersoek. 

Hy vertel dit wat gebeur het, het hom en sy familie verpletter. Sestien jaar lank het die plaas vir hom en sy familie net vreugde gebring.

“Dit maak ’n mens oud. Dit maak ’n mens stukkie vir stukkie dood.” 

“Ek wil net so graag antwoorde hê. Ek wens dít op niemand toe nie. Dit hang soos ’n swaard oor ’n mens se kop. Mense dink ek het in die lockdown mense na die plaas genooi en selfs geld gevra. Ek het nie. Ek het nie die oorledenes geken nie . . .”

Die paartjie se vriend en dié se pa huur grond by Kevin, en dit is hoe dit gekom het dat hulle die naweek daar gaan kuier het. Kevin sê hangende die ondersoek het hy nie weer toegelaat dat enigiemand daar gaan bly nie.

“Ek weet nie of ek ooit weer sal nie.”

Kevin wou nie in hierdie stadium enige kommentaar oor die gebeurtenis lewer nie, maar hy meen tot al die feite nie op die tafel is nie, kan niemand vingers wys nie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe