Sy onthou die oomblik toe die suur haar tref; die oomblik toe dit vlamvat.

Daardie oomblik toe haar gesig en lewe binne sekondes stukkend skroei. Eers het die walms van die nywerheidsreinigingsmiddel asetoon haar na haar asem laat snak, en toe voel sy hoe die vlamme aan haar lyf begin vreet.

“Ek onthou net hoe my seun skree: ‘Val en rol, mamma!’ ” vertel die 39-jarige Tracy Samuels van Roodepoort aan die Wes-Rand van Johannesburg.

Dit was Oukersaand verlede jaar. Maar pleks daarvan dat die Samuels-gesin saam geskenke oopgemaak het, het Tracy se man, Greg (43), haar na bewering buite hul huurhuis in Roodepoort aan die brand gesteek terwyl hul 12-jarige seun moes toekyk.

Voor.

Toe Tracy oor die nagmerrieondervinding praat, is haar stem steeds heserig van die asetoonwalms wat sy ingeasem het. Haar wange, nek en voorkop is pienk waar die brandwonde begin genees.

Daar is rowe op haar ore en haar eens dik, donker haredos is nou yl. Haar hande en arms is met verbande bedek.

Greg, haar man van die afgelope 10 jaar en die pa van haar kind, het onlangs in die landdroshof in Roodepoort verskyn op aanklag van poging tot moord, bevestig sers. Mpho More, polisiewoordvoerder, aan Huisgenoot.

Teen ons druktyd het hy nog nie om borgtog aansoek gedoen nie. 

Tracy glimlag dapper toe sy die gebeure van daardie aand buite hul huis in die woonbuurt Mariasburg herleef. Ons gesels by haar oom, Leonard Scott-Turner (52), se bouonderneming.

“Ek was baie lief vir hom . . . ”

Dis oorkant die straat van die huis wat die Samuelse van Leonard gehuur het. Tracy woon nou elders, maar wil uit vrees nie sê waar nie. Haar seun, Liam* (12), bly by familie “tot ek nie meer huil wanneer my verbande geruil word nie”.

Sy en Greg het mekaar 16 jaar gelede ontmoet toe hy haar motor herstel het. Vroeg in hul verhouding het dit goed gegaan en die twee was verlief en gelukkig. Maar selfs voor Liam se geboorte en hul troudag was daar tekens dat dié huwelik nie ’n sprokiesverhaal was nie, vertel Tracy.

Tog het sy by hom gebly.

Sy sê eenvoudig: “Ek was baie lief vir hom . . . ”

Sowat ’n week voor Kersfees verlede jaar het Tracy haar man egter vertel sy wil van hom skei. “Ek het net besluit ek wil gaan, want ons was meer soos vriende vir mekaar.”

Tracy se wonde genees goed, maar sal waarskynlik letsels laat.

Die oggend voor Kersfees het hy glo sy humeur verloor omdat Tracy met ’n vriend van haar op Facebook gesels het. 

“Greg het op my begin skree en gesê ek sal nie wegtrek en Liam saamvat nie. Ek het toe gery om te gaan inkopies doen en gehoop hy sal kalmeer. ”  

Tracy krap gedurig aan haar brandwonde. “Skies, ek mag nie krap nie, maar dit jeuk,” sê sy verskonend. Sy het brandwonde oor 50% van haar lyf opgedoen.

Benewens die sigbare wonde is daar brandwonde op haar maag, rug en regterblad. Met haar opname in die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal op Oukersaand is sy vir 24 uur in ’n geïnduseerde koma geplaas om haar herstel aan te help.

Sy is eers ná drie weke ontslaan. “Ek herstel baie goed, maar ek wil weer begin werk.” Langs haar maan haar oom Leonard: “Nee, my girl. Jy moet eers herstel. Wag en wees geduldig.”

Sy wys die letsels aan haar hande.

Tracy het haar eie span bouers en doen kontrakteurswerk vir Leonard se onderneming. Greg was ’n lid van haar span bouers en het nou saam met haar gewerk. Dit was juis vanweë hul konstruksiewerk dat hulle bottels asetoon by hul huis gehad het.

Sy was destyds aangetrokke tot Greg omdat hy “mooi, kort en gespierd was,” vertel sy.

“Ons het nie ’n romantiese verhouding gehad nie, maar hy het dinge gedoen om my familie te help. Dis hoe hy liefde gewys het en dit was vir my mooi.”

Tracy vertel haar man was aanvanklik sorgsaam en het selfs haar oupa, wat in ’n rolstoel gekluister was, geneem om inkopies te doen. Sy het weer gehelp om sy twee seuns uit ’n vorige verhouding groot te maak.

“Ek is nie een van daai ‘jammer-ek-leef-vroue’ nie. Ek het altyd vir myself opgestaan en terugbaklei.”

Maar die probleme het volgens haar reeds voor hul troudag begin. Sy het hom selfs al by die polisie gaan verkla, maar nie deurgedruk met die saak nie. Tracy sê dit het die afgelope twee jaar eintlik beter as voorheen gegaan – tot die onmin weer kort voor Kersfees begin het.

Toe sy laatmiddag op Oukersdag van die inkopies saam met haar seun terugkeer huis toe, het Greg “terneergedruk” gelyk, vertel sy. Hy het haar gedwing om vriende en familielede te bel en hulle te vertel sy gaan hom los, waarna hy die inhoud van ’n bottel asetoon oor haar motor in die oprit voor die huis gegooi het.

“Hy het ’n panga opgetel en na my gemik. My rottweiler het hom bestorm en gebyt, en toe was die duiwel los . . . "

"Die volgende oomblik het hy my kar aan die brand gesteek,” vertel Tracy.

“Hy het op my kar se enjinkap geklim en my met die panga in sy hand uitgedaag om die brandblusser langs hom te vat om die vuur te blus. Ek wou eers, maar besluit toe ek wil nie ’n stompie vir ’n arm hê nie.”

Van Greg se familielede het intussen opgedaag en hom probeer kalmeer. Tracy sê sy het saam met haar seun in ’n familielid se motor geklim, maar Greg het haar uit die motor gedwing en haar op haar knieë op die sypaadjie laat staan.

En dit was toe dat Greg die asetoon na bewering oor haar gooi en ’n aansteker se vlammetjie in haar rigting mik.

Tracy het 16 jaar gelede vinnig op die aantreklike Greg verlief geraak toe hy haar motor herstel het.

“Hy het gesê as hy my nie kan hê nie, sal niemand anders my kry nie. Toe steek hy my aan die brand,” vertel Tracy.

Greg se familie het die polisie gebel. ’n Ambulans is ook ontbied en het met haar na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal gejaag. Eers later sou sy hoor haar man is in hegtenis geneem en aangekla van poging tot moord.

Hoekom het Tracy al die jare by Greg gebly?

Tracy by ’n bottel asetoon soos dié wat na ­bewering in die aanval gebruik is.

Sy antwoord fier: “Ek is nie een van daai ‘jammer-ek-leef-vroue’ nie. Ek het altyd vir myself opgestaan en terugbaklei.”

Later voeg sy by: “Ons het as gesin ook baie lekker tye saam gehad. Ons het gaan visvang en altyd lekker saam gelag. Hy was ’n goeie man. Ek weet nie wat daai aand fout gegaan het nie.”

Sy wys ons ’n bottel soortgelyk aan die bottel asetoon wat Greg na bewering oor haar gegooi het. Die sterk reuk slaan ’n mens se asem weg. “Ek’t dae ná die tyd nog na die gemors geruik,” vertel sy. 

Weens die aard van haar brandwonde hoef sy nie veloorplantings te ondergaan nie, en Tracy bly hoopvol.

Sy wys na die plek waar haar man haar na bewering laat kniel en aan die brand gesteek het.

En Greg?

“Hy moet tronk toe gaan en boet,” sê sy. Maar dan kry sy hom jammer en voeg sagter by: “Hy’s ’n flippen idioot. Hy het sy lewe weggegooi, en vir wat?”

* Skuilnaam.
  • Die polisie sowel as Annerie du Plooy van die Hero Burn Foundation en dié organisasie se prokureur, Hugo van der Westhuizen, wat Tracy bystaan, het die gebeure aan Huisgenoot bevestig.
  • Greg se advokaat, Lebo Simelane, het by navraag gesê: “Die saak word ondersoek en ons gaan nie in dié stadium kommentaar lewer nie.”
FOTO'S: ONKGOPOTSE KOLOTI, VERSKAF