Indien dié hof op ’n swaarder vonnis besluit, sal dit onmiddelik van krag wees.

Masipa het die eertydse Paralimpiese held in Julie 2016 tot net ses jaar tronkstraf vir die moord op sy modelmeisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag 2013 opgelê.  

’n Volbank van vyf appèlregters het drie weke gelede die staat se aansoek in Bloemfontein aangehoor nadat Masipa verlof tot appèl ná haar beslissing in die hooggeregshof in Pretoria geweier het. 

Die staat het aangevoer Oscar het ’n veel heftiger vonnis verdien en daar was nie genoeg wesenlike en dwingende omstandighede om van die minimum vonnis van 15 jaar vir moord af te wyk nie. Adv. Andrea Johnson, het namens die staat betoog Oscar het nooit die hof in sy vertroue geneem deur te sê hoekom hy gemoor het en vier skote deur ’n toiletdeur geskiet het nie. 

Oscar het Woensdag sy 31ste verjaardag agter tralies in die Atteridgeville-gevangenis buite Pretoria deurgebring en nie die verrigtinge bygewoon nie. Sy regspan, onder leiding van adv. Barry Roux SC, het die staat se aansoek namens hom teengestaan.

Oscar kan, as alles vir hom goed afloop, moontlik teen 2019 op parool vrygelaat word.

Bykomende bronne: Beeld; The Star