Met dié ding van Swart Vrydag, wat eintlik ’n Amerikaanse tradisie is, kom ek toe tog in die versoeking om ’n nuwe televisie te koop.

’n Platskerm soos my 83-jarige oupa s’n. Selfs hy het al ’n platskermtelevisie. Al vir jare. En die krieket- en tenniswedstryde lyk baie duideliker as op my en my huismaat se ou boks.

Die versoeking is groot en brand in my voete. Ek juk vir ’n nuwe televisie, al werk die ou boks steeds.

Donderdagmiddag ná werk ry ek na die Game-tak in Cresta toe. Ek vra die televisiefoendi by sy afdeling uit oor al die verskillende televisies en make. Waarvoor staan HD en wat beteken Hi-Tech? In my verdediging, onthou asseblief ek is tegnologies geremd.

As daar iets met my rekenaar skort by die werk, skree ek uit vir enigiemand onder 30 om my asseblief te kom help.

Nietemin meet ek die breedte van al die verskillende televisies. Ek ry huis toe en meet die breedte van die televisiekas. Effens omgekeerd sou ’n mens dink. ’n Redelike mens sal waarskynlik eers die televisiekas meet en dan die televisie.

Donderdagaand 23:30 ry ek Game toe. Daar is toue en toue mense. Vir die res van die halfuur is daar hier en daar mense wat oproerig raak. Stampe en stote en beskuldigings van wie was eerste waar. 

Twaalfuur maak die sekuriteit die deure oop. Die warboel mense storm in. In alle rigtings in. Jy sien net hakskene. Ek is tussenin en sny ’n lyn na die elektroniese afdeling. Ek hardloop na die bokse toe met die televisiemaak met die regte breedte wat ek gemeet het. 

Oral om my tel mense bokse met televisies in op en laai dit half skuins in hulle trollies. Uit die hoek van my oog sien ek hoe twee mans stry kry oor ’n yskas in die yskasafdeling. Ek sleep een van die televisiebokse met moeite weg.

Daar is oral trollies en mense. Selfs kinders saam met hulle ouers. Ek beskerm die boks. Die boks is egter ligter as die ou bokstelevisie in die kas, dink ek by myself.

Ek stoot en sleep en klou hom na ’n betaalpunt toe. Twee mense staan voor my in die ry. Die mense by die betaalpunte is in die minderheid. Die res hol nog rond en gryp goed van die rakke af en gooi dit in hulle trollies.

Ek sien hoe ’n man en sy vrou by ’n gangetjie op hardloop. Hy hardloop met die trollies en sy gooi in. Ek vind dit baie bevredigend dat ek reeds by ’n betaalpunt is en nie meer in die chaos van mense nie.

Die bestuurder van die winkel maak ’n afkondiging.

“Geen televisie sal verkoop word as daar nie ’n televisielisensie gewys word nie.”

Ek vries. Ek word warm en koud. Al die moeite. Ek bel my huismaat in ’n poging om te hoor of sy nie ons televisielisensie kan bring nie. Sy is lankal in die kooi. Geen antwoord.

Ek kyk vir die televisieboks. Dit voel asof die boks terugkyk na my. Ek weet dit is nou maar neusie verby.

Ek stap na die sigarettoonbank en koop ’n pakkie sigarette en ’n aansteker. Ek is teleurgesteld en steek buitekant ’n sigaret aan. Skielik kom ek tot die besef: Ek het mos nog die ou boks. Hy is nou nie noodwendig Hi-Tech of HD of enige ander terme nie, maar hy werk nog. Hy is net soos ek ’n bietjie ouskool.

Skielik dink ek aan die boere in die Wes-Kaap.

Die droë woestynagtige Noord-Kaap. Die tydelike nuwe Zimbabwiese president. Die hongersnood in Soedan. Die oorlog in Sirië. Die kinders van Palmyra.

Ek en die ou boks is eintlik nog reg. Hy werk nog. ’n Nuwe televisie is net ’n luuksheid. Ek sal hou by die ou boks tot hy die dag nie meer beeld het nie.