Luhan (58), sy vrou, Teresa (48), en hul twee kinders, Lurese (12) en Luhan jr. (10), se lyke is op ’n plaas in die Clanwilliam-distrik aangetref waar hulle gekamp het.

Elkeen het ’n skietwond in die kop gehad.

Die Wes-Kaapse polisie kan nog nie presies vasstel wanneer die moorde gepleeg is nie, en hulle sê die voorval het tussen Dinsdag 18 Junie 17:00 en Donderdag 27 Junie 10:40 plaasgevind.

Vriende na aan die gesin het aan Huisgenoot gesê Teresa se twee seuns vanuit 'n vorige huwelik het sedert 19 Junie gesukkel om hul ma in die hande te kry.

“Toe die polisie en die seuns by die huis ingestap het, was die hele huis reeds opgepak met elkeen van die kinders se goedjies in bokse.

“Dit lyk of Luhan en Teresa saam vooraf die moorde beplan het. Dit is só skokkend,” meen ’n vriendin.

Luhan (58). Foto verskaf
Luhan (58). Foto verskaf

Die Meyer-gesin het sowat twee jaar gelede van Riebeeck-Wes na Moorreesburg getrek.

Lurese en Luhan was leerders aan die Laerskool Dirkie Uys.

Luhan jr. (10). Foto verskaf
Luhan jr. (10). Foto verskaf

Luhan was ’n gewese wetenskaponderwyser en Teresa het gereeld vir sake na Pretoria gevlieg.

Die gesin het glo planne gehad om na die buiteland te emigreer.

Die egpaar en hul kinders was oënskynlik ’n normale, gelukkige gesin en niemand in die buurt het enige onraad vermoed nie.

“Die moorde was so onnodig. Ons voel skuldig dat ons nie vroeër iets opgemerk het nie. Dat ons nie raakgesien het iets is iewers nie pluis nie,” sê die vriendin.

Die Clanwilliam-polisie ondersoek ’n klag van moord.