Die 36-jarige man se lewe het op 10 September 2014 soos handomkeer verander ná ’n ongeluk by die Soill Southern Oil-maatskappy – waar kanola-olie vervaardig word – op Swellendam. Sy linkerbeen is bo die knie geamputeer en hy het ook net gedeeltelike gebruik van sy regterbeen.

afbeen,meule,Christopher Carstens,Swellendam
Christopher Carstens kort nadat sy been afgesit. Foto: Verskaf

“Almal op die dorp dink ek is uitbetaal, maar dit is ver van die waarheid,” sê Christopher aan Huisgenoot.

Hy moes geld leen om op Suurbraak ’n kamertjie aan te bou vir hom, sy vrou, Natalie Rupping (31) en twee klein kindertjies – Odin Hawke (2) and Aurora Lilly-Rose (4).

afbeen,meule,Christopher Carstens,Swellendam
Christopher Carstens saam met sy vrou, Natalie Rupping, en dogtertjie, Lilly-Rose. Foto: Verskaf

Hy het as ketelmaker by Soill gewerk en beweer sy bene het in die meule beland terwyl hy besig was om te swys, maar by navraag sê Kellie Becker, die besturende direkteur van die maatskappy aan Huisgenoot: "Southern Oil het ’n weergawe van die gebeure op daardie ongelukkige dag wat effe anders lyk as wat mnr. Carstens voorhou.

"Gebrek aan samewerking deur mnr. Carstens en ander getuies wat nóú betrokke was by die voorval, het ongelukkig die maatskappy verhoed om feitelike bevindinge te maak na afloop van die ondersoek wat ons gedoen het rondom hierdie insident."

Uit meer onlangse hofstukke wat ingedien is by die hooggeregshof in Kaapstad, blyk dit dat spesialiste meen hy is fisiek en psigies onbevoeg om te kan werk. ’n Kliniese sielkundige skryf hy ly glo weens die voorval onder meer aan post-traumatiese stressteuring.

Christopher wag nou in spanning vir ’n tribunaal om te beslis of hy permanent ongeskik verklaar kan word of nie.

“Ek wil net hê daar moet ’n regverdige tribunaal wees en dat hierdie hele storie nou afgehandel kan word.”

Onafhanklik

Hy meen die proses plaas druk op hom en sy vrou en hy wil graag onafhanklik wees van sy ouers en op hul eie floreer.

Die kamer waarin hulle bly by sy ouers is sowat 40 km uit die dorp. Sy vrou doen naels en het ook al as bestuurder by ’n juwelierswinkel gewerk. Sy probeer weer werk op die dorp kry.

Vrydag moet Christopher weer by ’n vulstasie op Swellendam gaan staan en duimgooi Kaapstad toe om ’n gedeelte van die prostese aan sy linkerbeen te vervang wat sy stompie bloedbase druk.

Christoper sê hy ontvang volgens ’n beslissing van ’n fonds vir werkers wat aan diens beseer is, op die oomblik maandeliks R2 000, maar hy het besluit om dit in die hof te beveg.

Huisgenoot se navraag oor die nuwe verslae waarin kenners aanvoer word dat Christopher moontlik permanent ongeskik is vir werk, is volgens Kellie die eerste keer dat die maatskappy daarvan hoor.

Vergoeding

Christopher se salaris is vir twee jaar ná die ongeluk aan hom betaal, sowel as addisionele vergoeding van R65 489 om hom by te staan met rehabilitasie, verduidelik Kellie in ’n e-pos aan Huisgenoot.

"Hy was in daardie stadium medies geskik verklaar en die maatskappy het voortgegaan om gewysigde diensvoorwaardes met hom te bespreek wat sy fisieke gebrek sou akkomodeer, maar Christopher het nie vir diens aangemeld nie. ’n Volgende versoek is aan hom gerig om aan te meld, weereens sonder reaksie," sê Kellie.

Christopher meen egter sy psigiese gesondheid het hom verhoed om weer na sy ou werkplek terug te keer.

Intussen wag hy vir die tribunaal om sy saak aan te hoor.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.