Van ’n volronde 186 kg tot Suid-Afrika se no. 1-fiksheidsmodel. Dit is Janja Willis se mikpunt; haar droom. En soos dit nou lyk, is die 31-jarige ma van Gauteng sterk op pad daarheen.

Sy het in 18 maande reeds 78 kg verloor; iets wat sy twee jaar gelede gedink het onmoontlik sou wees.

Nou nog net 28 kg, dan kan sy haar droom nastreef. “Ek was maar nog my lewe lank vet,” vertel die donkerkop-Janja.

“Op laerskool was ek al groter as die ander kinders.” Sy haal foto’s uit om te wys dat sy in haar hoërskooljare selfs groter was as nou.

Op haar swaarste, toe sy 29 jaar oud was, het sy die skaal op 186 kg laat kreun.

Janja Willis het op haar vetste min uit die huis gegaan en tot vier brode per dag verorber. Maar die fikse Janja is ’n nuwe mens. Foto: Verskaf.

Sy het gesukkel om klere te kry wat pas en moes mansklere koop. “Ek het ’n 5XL-baadjie gedra,” onthou sy.

Dan trek sy dié baadjie aan – dit vou nou byna dubbel om haar middellyf. Sy lyk ingenome toe sy verder vertel hoe sy ’n hele mens afgeskud het.

Dan voeg sy by: “Selfs my voete het kleiner geword. Ek het toe ’n no. 10 gedra; nou dra ek ’n 7.”

Janja, die eienaar van ’n onderneming wat vars en bevrore groente versprei, glimlag maklik en innemend tydens ons onderhoud, maar vertel sy was voorheen menssku en wou nêrens heen gaan nie.

Sy kon in elk geval net etlike meters ver loop voor sy uitasem was. Nou stap sy 8 km per dag: 4 km soggens en 4 km saans.

Én sy doen daagliks twee uur lank in die gimnasium kardio- en gewigoefeninge.

Sy het geen wonderkuur vir gewigsverlies nie, erken Janja; daarom het sy dit op die moeilike manier gedoen, sonder dieetpille of ’n kitsdieet.

Sy oefen tot drie en ’n half uur per dag, ses dae per week, en sy eet gesond.

Janja Willis. Foto: Fani Mahuntsi.

“Dis harde werk. Die belangrikste is jy moet daai besluit neem. My lewe het reeds so verander dat ek nie kan wag om te sien wat die toekoms nog inhou nie.”

’n Hele witbrood en ’n pak spek. Dit was voorheen die meeste oggende Janja se ontbyt.

’n Uur later sou sy weer iets kry om te eet – dikwels nog ’n stukkie brood. Sy sou tot vier brode per dag verorber.

“Ek het elke dag groot pakke tjips geëet. Alles wat maklik beskikbaar was, sou ek in my mond druk,” vertel sy.

Ons gesels by haar ouerhuis in Kempton Park. Janja woon hier saam met haar pa en ma, Nols (57) en Marina Willis (55), en haar vyfjarige dogter, Zinike.

Dis vir háár dat sy besluit het om gewig te verloor, maar ook vir haarself: “Ek wou dinge saam met Zinike doen, soos om te swaai of speel en hardloop.

Ek’t vir haar onthalwe skaam gekry. “Een oggend nadat ek ’n brood en bacon geëet het, het dit gevoel of ek ’n hartaanval kry.”

Dit was die oomblik wat haar lewe verander het. “Ek het toe vir Marek gevra of hy kans sien om my te help . . . ”

Sy het Marek Zodlo (29), wat vandag saam met ons kuier, leer ken in die apteek-en-gesondheidswinkel in Kempton Park waar hy werk en sy soms gaan inkopies doen.

Janja sê Marek Zodlo, haar fiksheids­instrukteur, het haar die krag en motivering gegee om die gewig af te skud. Foto: Fani Mahuntsi.

Sy het met die gesels agtergekom hy dra kennis van gesondheid en gewigsverlies en is ook baie fiks.

Hy het ingestem om haar fiksheidsinstrukteur en motiveerder te wees, en 18 maande gelede het hulle die eerste tree na haar nuwe self gegee.

“Hy het my glad nie gedril nie. Hy het vir my geleer hoe om te oefen en reg te eet, maar hy was nie ’n polisieman nie. Hy het altyd gesê ons gaan bietjie vir bietjie verbeter.”

Sy vertel die eerste keer toe hulle om die blok stap, wou sy omkap. “Ek het nog vir Marek gesê die stap is vir hom ’n walk in the park en ek gaan byna dood, maar ná ’n maand of so van oefen sê hy op ’n dag vir my: ‘Sien, dis nou vir jou ook ’n walk in the park.’ ”

Hulle oefen nie meer elke dag saam nie, maar sy klop steeds by hom aan vir motivering en raad.

Hy het haar ook geleer om gesond te eet: Sy leef nou van eiers, hoender, vis en groente. Sy eet byna geen brood nie en haar gunstelingkos is wortels.

“Ek is gek oor wortelslaai en maak ’n wortelroerbraai saam met ’n eiergeel en vier eierwitte vir ontbyt.”

En nee, sy raak nooit lus vir die gemorskos van vroeër nie. “Ek is nie meer daai mens nie. Ek dink my maag het ook verander.”

Janja het eers 5 kg per week verloor, en hoewel haar gewig in ’n stadium stilgestaan het, het sy die afgelope jaar en ’n half nooit weer ’n gram aangesit nie.

Sy besef nou kos was haar ontvlugting. “Ek het geëet wanneer ek hartseer of ongelukkig was. Op die ou einde het ek net heeltyd geëet.

“Ek het ook ’n sterk persona voorgehou sodat mense nie met my sukkel nie. Ek is op laerskool gespot. Maar nie op hoërskool nie; toe was die kinders bang vir my. Alles sodat ek kon wegkruip in myself.”

Janja vertel sy is tussen die ouderdom van sewe en nege gemolesteer en het eers onlangs haar familie daarvan vertel. Sy wil nie uitwei oor die saak nie en sê sy het nooit vir berading gegaan nie.

“Ek dink dis hoekom ek so erg begin eet het; ek wou ontsnap van die herinnering.

“Daar kom ’n tyd dat jy net nie meer omgee nie. Ek was daar. Daar was dae dat ek nie tande geborsel het of hare gewas het nie. Ek het gesien mense kyk, maar ek’t net nie meer geworry nie.”

"Jy moet eers jou kop verander en dan gaan jou oefen- en eetgewoontes daarmee saam verander."

Maar die fikse Janja is ’n nuwe mens: iemand wat omgee vir haarself; ’n jong vrou wat droom van ’n sprokiestroue “eendag”.

Sy was voor haar gewigsverlies twee jaar lank getroud met die pa van haar dogter, maar sê: “Ek en my eksman was nie reg vir mekaar nie, en ek was glad nie gelukkig met myself nie. Nou weet ek ek verdien die beste.”

Marek glimlag goedkeurend vir Janja en sê dis wat hy graag wou bereik.

“As jy aan jouself gaan dink as ’n vet mens, gaan jy een wees. Jy moet eers jou kop verander en dan gaan jou oefen- en eetgewoontes daarmee saam verander. Jy moet weet jy verdien alles en meer.”

Janja se volgende doelwit is om nog 28 kg te verloor sodat sy plastiese chirurgie kan ondergaan om die los vel aan haar liggaam te verwyder.

“Die vel is sweterig en ongemaklik. Dit weeg ook baie; dit laat my groter lyk as wat ek is en dis in die pad wanneer ek oefen. Veral dié aan my bene pla my. Ek kan nie kortbroeke dra nie.

“Ek gaan eers regtig maer, mooi en vroulik voel as die vel weg is. Dan gaan ek vir my ’n rooi cocktail-rokkie laat maak. Een wat tot net bo my knieë kom. Ek het voorheen nooit rokke gedra nie.”

Nog 28 kg om te gaan, dan kan Janja van dié vel ontslae raak deur chirurgie. Foto: Fani Mahuntsi.

Daarna gaan sy voluit werk aan haar groot mikpunt: die titel Mej. Fiksheid SA.

In dié kompetisie word vroue volgens hul fiksheid en gespierdheid beoordeel. Dis iets tussen ’n skoonheids- en liggaamsboukompetisie.

Stel sy nie haar visier te hoog nie? “Kyk, ek hoef dit seker nie te doen nie, maar ek wil en ek weet ek kan. Daar is soveel mense wat my aanlyn volg en vir wie ek ’n inspirasie is. Ek gaan nie ophou nie.”

“Gister toe ek stap, kyk ek so na my skouer en sien hoe klein ek geword het.”

Dan glimlag sy breed: “In ’n mens se kop is jy nog groot. Maar een van die dae is daar niks meer van my oor nie.”