Maar Woensdagaand het Nina (gespeel deur Jocelyn Broderick) se wêreld inmekaargesak toe sy ná ’n doktersbesoek skoknuus oor haar ongebore baba kry . . . 

Die kykNET-sepie se gewilde Bekker-gesin moes die afgelope tyd verskeie veranderings die hoof bied. Eers het twee van Nina en Gideon (David Vlok) se vier kinders besluit om hul drome in die buiteland na te jaag.

Lorette (Ilsa-Lee van Niekerk) het haar vlerke gesprei en is agter ’n kêrel aan Nederland toe, waar sy ook verder studeer; Tommie (Arno Greeff) het ’n sakegeleentheid in Singapoer nagejaag.

Die Bekker-huis was skaars stiller, toe vind Nina uit dat sy in haar vroeë 50's ’n vyfde kind verwag. En dit terwyl hul jongste, Chrissie (Melissa Willering), volgende jaar reeds op pad matriek toe is. 

Hoewel Nina eers gewoond moes word aan die idee om op ’n hoër ouderdom weer ma te word, het die wonder van nuwe lewe ál meer begin insink en was sy die afgelope paar dae omtrent opgewonde oor die vooruitsig van ’n pienkvoet. 

Daar gaan onmiddellik gedagtes deur jou kop, soos dat jy 70 gaan wees wanneer jou kind 20 jaar oud is

“Ek dink dit was vir Nina aanvanklik ’n groot skok,” vertel Jocelyn oor haar karakter se omstandighede. “Sy is in ’n stadium van haar lewe waar kinders groot is en sy haar in 'n ander fase van haar lewe bevind. Daar gaan onmiddellik gedagtes deur jou kop, soos dat jy 70 gaan wees wanneer jou kind 20 jaar oud is. 

“Maar in 'n stadium het sy besef dis haar laaste kans op ’n kind. Sy het opgewonde geraak. En toe kom die volgende skok . . .”

Kykers gaan Donderdagaand uitvind wat met die baba gebeur het.

“Nina is bewus daarvan dat daar ’n groter kans vir komplikasies is wanneer ’n mens op ’n later ouderdom swanger word," vertel Jocelyn. "Dokters lig jou ook daaroor in. Maar sy en Gideon is nie die soort mense wat sal dink iets sal skeefloop nie. Hulle beskou dit as ’n geskenk van die Here.”

In die regte lewe is dit ’n storielyn wat Jocelyn na aan die hart lê. Sy is ’n ma van twee seuns, Devan en Gabriel. Haar laatlammetjie is gebore toe sy 41 was. Op 46 het sy weer swanger geword en aanvanklik geworstel met gevoelens om in haar laat 40's weer ma te word. 

Ek het ná dit ongelooflik skuldig gevoel omdat ek aanvanklik skrikkerig was om op so hoëouderdom weer ’n baba te kry
Jocelyn Broderick

“Die proses was natuurlik langer as wat die storielyn beweeg. Dit was aanvanklik vir my moeilik om weer swanger te wees.

"Met my laatlammetjie wat ek op 41 verwag het, was ek goed bewus van die laat nagte en harde werk wat sou voorlê. Ek het soveel vriendinne gehad wat sukkel om swanger te word en het gewonder hoekom hulle nie ’n kans kry nie.” 

Net soos Nina, het sy mettertyd besef dis haar laaste kans op ’n kind. Maar op 13 weke het sy die kleintjie verloor . . .

“Ek het ná dit ongelooflik skuldig gevoel omdat ek aanvanklik skrikkerig was om op so hoëouderdom weer ’n baba te kry.” 

Jocelyn vertel haar karakter se gevoelens is verder van toepassing op haar eie lewe. Toe haar sepiekinders, Tommie en Lorette, onlangs besluit om hul vlerke tot in die buiteland te sprei, het Jocelyn se oudste seun in die regte lewe werk in Amerika gesoek.

“Dit was vir my erg omdat dit vir my na aan my werklikheid was.”

Devan het wel werk daar gekry en is nog vandeesmaand op pad na die VSA. "Dis maar baie swaar op ’n ma se hart," erken Jocelyn. Sy vind darem vrede daarin dat haar jongste nog by haar in die huis is. 

En met Nina kan sy alte goed identifiseer.