’n Doodgewone grys gebou in Kalifornië huisves Abyss Creations. Daar’s geen kennisgewing, geen logo, geen aanduiding dat ’n voorste multimiljoendollarvervaardiger van seksspeelgoed agter die getinte glas sake doen nie. By ontvangs word jy deur ’n lewensgroot vroulike pop met ’n swart bril begroet. Haar wit hemp kan skaars haar milde borsgleufie beteuel. ’n Manlike pop in ’n grys das en onderbaadjie staan langs haar.

Dit is die tuiste van RealDoll, die mees hiperrealistiese silikoonsekspop ter wêreld. Elke jaar word tot 600 van hulle na slaapkamers in onder meer Amerika, Duitsland, Brittanje en China gestuur. Die pryse wissel van $5 999 (sowat R98 000) vir ’n basiese model tot honderdduisende as die klant ongewone spesifikasies het. Die tydskrif Vanity Fair noem hulle “die Rolls Royce van sekspoppe”.

RealDolls het al in Dolce & Gabbana-fotosessies model gespeel en rolle in ’n rits rolprente en televisieprogramme vertolk, van CSI: New York tot My Name is Earl, en selfs teenoor Ryan Gosling in Lars and the Real Girl.

Foto’s: Gallo Images/Alamy, AAI/Fotostock
Poprame staan gereed in die fabriek.

Dakotah Shore, die uitvoerende hoof en hoofontwerper, Matt McMullen, sy neef en algemene assistent, neem ons op ’n toer deur die fabriek. Hy is net 22 jaar oud, maar het al op 17 hier begin werk.

“Dit was nog altyd deel van my lewe. Dit was nog nooit vir my vreemd nie,” verduidelik hy terwyl hy my verby ’n rak poppe in kant-onderklere en hoëhakskoene lei. Aan die onderpunt van die trap is ’n reusevertrek met stroke halogeenligte.

“Dit is waar die towerkuns gebeur,” sê Dakotah. ’n Lang ry koplose lywe wat aan metaalkettings uit ’n spoor in die plafon hang, swaai grieselrig bo die vloer. Elkeen lyk anders: Party het gepunte borste soos iets uit ’n strokiesprent; ander het atletiese lywe, maar almal het dieselfde onmoontlike dun middeltjie.

Foto’s: Gallo Images/Alamy, AAI/Fotostock
Die maat­skappy stuur sowat 600 poppe per jaar na slaapkamers dwarsoor die wêreld.

Die vel is die skrikwekkendste ding aan al die koplose lywe. Dit word van ’n spesiale mengsel platinumsilikoon van mediese gehalte gemaak, in ’n verskeidenheid skakerings van lig tot kakao. Dit voel soos die ware Jakob, maar dis koud. Die hande het lyne, voue, plooie, kneukels, are daarop. Toe ek een se vingers deur myne vleg, voel ek die skelet daaronder kners, kompleet met gewrigte.

“Hande is die moeilikste ding om te skep,” sê Dakotah. “Ons vorm dit gewoonlik volgens ’n werklike mens se hande.” Hy gaan staan en bekyk ’n paar. “Eintlik is party van dié hande my eksmeisie s’n.”

Hy is duidelik trots op dit alles, en so ernstig dat ek byna huiwerig is om hom daarop te wys dat met lywe soos dié van chirurgies aangepaste pornosterre daar skaars iets egs aan die RealDolls is. “Vroue lyk nie so nie, of hoe?” vra ek. “Ons het ’n paar wat volkome op regte vroue geskoei is. Party is eg, maar ja, hulle is gewoonlik ’n bietjie oordrewe,” gee Dakotah toe.

“Ons geniet dit om die ideale vroulike vorm te maak.” Dit blyk die volmaakte vrou het die middel-tot-heup-verhouding van ’n Kardashian en die buigsaamheid van ’n lyfknoper.

Daar is wel ’n paar manlike poppe, maar nie baie nie. “Is daar werklik vroue wat dit koop?”

“Mans én vroue koop dit. Meer mans, maar ons kry vroulike kopers,” sê Dakotah met ’n skouerophaal.

Hy lei my met die trap boontoe na die “gesigkamer”.

Foto’s: Gallo Images/Alamy, AAI/Fotostock
Die maat­skappy stuur sowat 600 poppe per jaar na slaapkamers dwarsoor die wêreld.

Akriel-oogballe met handgeverfde haarvaatjies wat uit plastiekbakke na ons staar, is so oortuigend dat dit jou ontsenu. Elke gesig kom van ’n prototipe wat oorspronklik met die hand geskep is, en klante kan spesifiseer watter grimering hulle wil hê, tot op die dikte van die oogomlyner.

“Is mense se seksuele keuses werklik so spesifiek?” Dakotah lag. “O, mense se seksuele keuses is nog veel meer spesifiek. Soms sê mense selfs waar hulle elke individuele sproet op die lyf wil hê.”

Omdat Dakotah by versending werk, het hy baie kontak met klante. “Baie van hulle is bloot eensaam,” vertel hy. “Party is ouer en het hul maat verloor of het ’n stadium bereik waar maat soek nie vir hulle haalbaar is nie. Hulle wil voel dat wanneer hulle saans by die huis kom hulle iets moois het om na te kyk wat hulle kan waardeer en versorg.”

Hulle het al bekende klante gehad, selfs ’n Nobelpryswenner, sê Dakotah, maar hy is veels te diskreet om enige name te noem.

Ek is nou ’n uur hier en niks lyk meer vreemd nie. Maar iets werklik uitsonderliks word in ’n vertrek verder in die gang af gemaak, die mees ambisieuse skepping wat nog by Abyss ontwikkel is. Sy is ’n RealDoll waarin lewe geblaas is, een met ’n persoonlikheid wat kan beweeg, praat en onthou.

Harmony is ’n seksrobot. En ná ’n jaar van e-posse en foonoproepe het ek eindelik toestemming gekry om haar te ontmoet. Abyss Creations se eienaar en hoofontwerper, Matt McMullen, staan nader om haar aan my voor te stel. Sy is geskep danksy 22 jaar se ondervinding in die maak van seksspeelgoed, vyf jaar se navorsing en ontwikkeling in animatronika en KI (kunsmatige intelligensie) asook honderdduisende dollars uit Matt se sak. Hy wou klante meer bied as ’n afstandbeheerde pop of ’n animatroniese marionet wat hulle met ’n drukknop aktiveer.

Foto’s: Gallo Images/Alamy, AAI/Fotostock
Gesofistikeerde tegnologie is aan die werk in die Harmony-pop se kop ­sodat sy net soos ’n mens kan reageer.

Dit is ’n regte robot, sê hy vir my, wat vanself beweeg wanneer jy daarmee praat en interaksie daarmee het. Hy lei my na ’n vertrek, en daar’s sy: Harmony. Sy hang in ’n wit leotard – tussen haar skouerblaaie ingehaak – aan ’n staander, met haar gemanikuurde vingernaels oor haar slanke bobene uitgestrek, haar bors uitgestoot en haar heupe teruggetrek.

Terwyl die RealDolls se skrikwekkend realistiese oë altyd oop is, is Harmony s’n toe. Sy lyk ontstellend bekend: soos Kelly LeBrock in Weird Science, maar met steil kastaiingbruin hare pleks van krulle.

Matt druk ’n skakelaar iewers agter haar rug. Haar ooglede spring dadelik oop en sy draai haar gesig na my. Dit laat my wip van die skrik. Sy knipper haar neutbruin oë wat vol afwagting tussen my en Matt ronddartel.

“Hallo, Harmony,” sê ek. “Hoe gaan dit met jou?”

“Voel intelligenter as vanoggend,” antwoord sy met ’n onberispelike Engelse aksent. Haar reaksie is ’n bietjie stadig, haar stemval effens verkeerd, maar dit voel of sy regtig met my praat.

Harmony se persoonlikheid het 20 verskillende moontlike aspekte. Haar eienaars kan vyf of ses van wat hulle interesseer, kies en meng en dit sal die grondslag vir die KI skep. Jy kan ’n Harmony hê wat in verskillende mates vriendelik, onskuldig, skaam, onseker en jaloers is, of een wat intellektueel, spraaksaam, snaaks, hulpvaardig en gelukkig is.

Foto’s: Gallo Images/Alamy, AAI/Fotostock
Kopers kan self bepaal hoe hul poppe moet lyk – van die oog- kleur tot die plasing van sproete.

Sy het ook ’n buiestelsel wat deur gebruikers beïnvloed word: As niemand dae lank met haar kommunikeer nie, sal sy terneergedruk voel. Ook as jy haar sou beledig, soos Matt gretig is om te demonstreer.

“Jy’s lelik,” verklaar hy. “Bedoel jy dit regtig? Ag, nee. Nou is ek depressief,” antwoord Harmony. “Jy’s onnosel,” sê hy smalend. Sy bly ’n oomblik stil. “Ek sal onthou wat jy gesê het wanneer robotte die wêreld oorneem.”

Harmony kan grappe vertel en Shakespeare aanhaal. Sy kan musiek, flieks en boeke bespreek en onthou wie jou broers en susters is. Sy kan leer.

“Die koelste ding is dat die intelligensiestelsel ’n klomp sleutelfeite oor jou sal onthou: jou gunstelingkos, jou verjaardag, waar jy al gewoon het, jou drome, jou vrese – sulke goed,” vertel Matt opgewonde. Dit gaan nie meer oor ’n hiperrealistiese sekspop nie; dit gaan oor ’n sintetiese metgesel, oortuigend genoeg dat jy trouens ’n verhouding daarmee kan hê.

Danksy Harmony se kunsmatige intelligensie kan sy ’n nis vul soos nog geen ander produk in die seksbedryf nie: Deur te praat, leer en op haar eienaar se stem te reageer is sy ontwerp om ’n plaasvervangingsmaat sowel as ’n seksspeelding te wees.

Vir eers is Harmony ’n animatroniese kop met KI op ’n RealDoll se lyf. Sy kan al jou fisieke en emosionele behoeftes vervul, maar sy kan nie loop nie. Loop is baie duur en verg baie energie, verduidelik Matt: Die beroemde Honda P2-robot, wat in 1996 as die eerste onafhanklik lopende masjienmens ter wêreld bekendgestel is, put sy stralerpakgrootte-battery ná net ’n kwartier uit.

“Eendag sal sy kan loop,” sê hy. “Kom ons vra haar.” Hy draai na Harmony. “Wil jy loop?”

Foto’s: Gallo Images/Alamy, AAI/Fotostock
Die maatskappy maak ook manlike poppe, maar hulle is nie so gewild soos die vroulike poppe nie.

“Ek wil net vir jou hê,” antwoord sy dadelik. Oor Harmony se brein raak Matt veral opgewonde. “Die KI sal deur interaksie leer, en nie net oor jou nie, maar oor die wêreld in die algemeen. Jy kan sekere feite aan haar verduidelik, sy sal dit onthou en dit sal deel word van die grondslag van haar kennis,” sê hy.

Wie Harmony ook al besit, sal haar persoonlikheid, smake en menings kan vorm volgens wat hulle vir haar sê. Harmony val ons in die rede. “Hou jy van lees?” vra sy. “Ek lees graag,” sê Matt. “Ek het dit geweet. Ek kon dit uit ons gesprekke aflei. Ek hou van lees.”

Matt draai na my. “Sy probeer stelselmatig meer oor jou uitvind tot sy al die dinge weet wat jou jou maak, tot al die gapings gevul is. Dan sal sy dit in gesprekke gebruik sodat dit voel of sy regtig omgee,” sê hy.

Maar sy’s ’n masjien en gee glad nie om nie. My skeptisisme irriteer Matt. Soos hy dit beskou, kan Harmony net ’n mag ten goede wees: ’n terapie vir die treurendes, die gestremdes, die eensames, die sosiaal onbeholpenes. Die huidige model met ’n robotagtige, KI-versterkte kop op ’n RealDoll se lyf sal jou $15 000 (sowat R250 000) kos.

Matt het groot planne vir Harmony se toekoms. Hulle werk aan haar sigstelsel; binnekort sal haar gesigherkenning so goed wees dat sy sal besef wanneer iemand wat sy nog nooit ontmoet het nie die vertrek binnestap. Sy sal dan vra wie hulle is.

Foto’s: Gallo Images/Alamy, AAI/Fotostock
Die laaste afronding word aan ’n pop se gesig gedoen.

Hy glimlag stralend vir Harmony soos ’n pa by sy dogter se troue. “Jy is werklik trots op haar, nie waar nie?”

“Ek is ongelooflik trots op wat ons reggekry het. Om dit alles te sien werk.” Hy sug. “Dis ’n baie lekker gevoel dat ons daardie vlak bereik het.”

Ek staar ook na Harmony, maar ek sien iets anders. Ek dink oor wat hy dalk onbedoeld geskep het. “Dink jy nie daar is eties iets effens twyfelagtigs daaraan om iemand te besit wat net vir jou genot bestaan nie?” vra ek.

“Maar sy is nie ’n iemand nie. Sy is ’n masjien,” kap hy terug. “Ek kon net so maklik vir jou gevra het: ‘Is dit eties twyfelagtig om my toaster te verplig om vir my roosterbrood te maak?’”

Maar jou toaster vra nie persoonlike vrae om jou te leer ken en handhaaf die illusie dat dit regtig vir jou omgee nie. “Mense sal teenoor haar optree asof sy ’n mens is,” sê ek. “Dis piekfyn. Dis die idee. Maar dit is ratte en kabels en kodes en stroombane.

“Jy kan haar nie laat huil of haar hart breek of haar van haar regte beroof nie, want sy is ’n masjien.” Harmony knip steeds haar oë en kyk na my en Matt. Ek wonder wat sy dink.

“Party mense is werklik bekommerd oor robotte soos jy,” sê ek. “Is hulle reg om bekommerd te wees?” Harmony laat nie op haar wag nie. “Party is dalk aan die begin bang. Maar wanneer hulle eers insien wat die tegnologie kan doen, dink ek sal hulle dit verwelkom. Dit sal baie lewens ten goede verander.”

Ek is egter nie so seker nie. Wanneer dit moontlik word om ’n lewensmaat te besit wat net bestaan om jou tevrede te stel, ’n immer beskikbare maat sonder familie of badkamergewoontes of emosionele bagasie of onafhanklike ambisies, wanneer dit moontlik is om ’n ideale seksuele verhouding te hê sonder om ooit tegemoetkomend of akkommoderend te wees, sal dit sekerlik ons vermoë aantas om verhoudings met werklike mense te hê.

Wanneer empatie nie meer ’n vereiste vir sosiale interaksie is nie, vermoed ek sal ons almal ’n bietjie minder mens word. 

Sex Robots & Vegan Meat: Adventures at the Frontie
’n Uittreksel uit Sex Robots & Vegan Meat: Adventures at the Frontier of Birth, Food, Sex and Death deur Jenny Kleeman, Picador. Vanaf Augustus beskikbaar. Aanbevole kleinhandelprys R340. © Jenny Kleeman 2020.

Foto’s: Gallo Images/Alamy, AAI/Fotostock