As kind het sy dit nie durf waag om dié droom te koester nie. Seuns dra bloot nie pragtige lang tabberds soos die prinsesse in haar geliefde Disney-rolprente nie.

Tog het sy heimlik bly hunker.

Toe kapt. Hannah Winterbourne, Engeland se transgender soldaat met die hoogste rang, onlangs in haar wit trourok ewige trou beloof aan haar transgender bruidegom, Jake Graf (40), het sy vir haarself en die wêreld bewys sy is die prinses wat sy altyd wou wees.

“Dit was ’n droombeeld,” het die 31-jarige Hannah aan The Sun gesê. “Tot ek Jake ontmoet het, het ek nooit besef dis ’n doelwit wat bereik kan word nie.”

Haar akteurman, wat as vrou gebore is, deel haar gevoelens.

“Ek het nooit gedink enigiets hiervan is moontlik nie. Nou het ek dié beeldskone leërkapteinvrou en ek is so gelukkig.”

Die pasgetroudes word die wêreld se voorste transgender “kragpaartjie” genoem.

Maar volgens Jake, wat in die Oscar-bekroonde rolprent The Danish Girl oor die kunstenaar Einar Wegener se transgender-reis verskyn het, is hulle net soos enige ander paartjie.

“Ons het ons foute en hoogte- en laagtepunte,” sê hy.

Die twee lyk soos ’n gewone paartjie. Foto: Instagram

Hul agtergrond is net ’n bietjie anders, voeg hy by.

Hy beskryf hul onlangse troue, wat in die historiese Chelsea-stadsaal in Londen gehou is, as “absoluut betowerend.

“Hannah het asemrowend gelyk en ons albei het gehuil toe sy in die paadjie afstap. Daar was twee pragtige voorlesings en ons het ’n eenvoudige belofte afgelê. Ons het ’n glas onder ons voete gebreek ter ere van my Joodse erfenis.”

Die trougaste het tot die egpaar se surrogaatfonds bygedra, want hul volgende doelwit is om ouers te word.

Ná die seremonie het die twee, wat volgende maand in Tel Aviv gaan wittebrood hou, die vlag van die transgender gemeenskap omhoog gehou.

“Ons is net soos enige ander bruid en bruidegom,” het hulle gesê.

“Wanneer jy ’n oorgang maak en iemand ontmoet, vergeet jy soort van van jou verlede.”

Die twee het mekaar drie jaar gelede ontmoet nadat Jake ’n artikel oor Hannah in The Sun gelees het. Daarin het sy vertel van haar besluit om ’n vrou te word terwyl sy in aktiewe diens van die Britse leër was.

“Ek het haar op die voorblad gesien en gedink sy is pragtig,” sê hy.

Hy het sy gevoelens met ’n gemeenskaplike vriendin gedeel en dié het ’n week later met goeie nuus na hom teruggekom.

“Ek het met kapt. Winterbourne gepraat; sy dink jy is ook oulik,” het sy gesê.

“Dit was soos op die speelterrein,” sê hy.

Die twee het eers op Facebook kontak gemaak voor hulle nommers uitgeruil het.

“In ons eerste foongesprek het ek gevra: ‘Dink jy jy sal wil kinders hê, want ek wil graag kinders hê?’ ” sê Jake, wat van jongs af geweet het hy is in die verkeerde liggaam vasgevang.

“Dit het gevoel soos die regte ding om te doen voor ons ontmoet. Ek hou daarvan om openlik te wees oor dinge.”

Hannah erken sy was “absoluut vreesbevange” om op hul eerste afspraak te gaan, want sy het nooit voorheen ’n kêrel gehad nie. Maar die wete dat Jake transgender was, het gehelp.

“Dit was nie vir my nodig om myself te verduidelik nie. Hy het geweet hoe om dit te hanteer. Ek het ’n diep stem, maar hy het verstaan.

“Ek was onseker oor uitgaan. Maar ek het besluit dis tyd om myself te druk en te kyk of iemand daar buite my kan liefhê. En ek het sowaar die eerste keer die boerpot gewen.”

Sake het vinnig gevorder.

“Jake wou iets ernstigs hê,” sê sy. “Hy wou nie ’n kortstondige affair hê nie.

"Toe ek vir my familie en vriende sê ek het hom lief, was hulle daaroor besorg dat ek net deur die emosie van ’n eerste liefde meegesleur is. Maar drie jaar later laat hy my nog voel ek is die middelpunt van sy heelal.”

‘Ek het elke aand gebid dat ek die volgende dag as ’n seun sou wakker word’

Jake het in September verlede jaar die jawoord gevra terwyl hulle in New York met vakansie was. Hy het ewe gekniel terwyl hulle in Central Park in ’n roeiboot was.

Die akteur, wat in die komende rolprent Colette saam met Keira Knightley verskyn, sê die meeste mense besef nie hulle is ’n transgender paartjie nie.

Jake het verlede jaar die jawoord op ’n roeiboot gevra. Foto: Instagram

“Ons is gelukkig dat ons albei soos al die ander mense op straat lyk. Die beledigings en teistering wat talle trans mense verduur, bly ons meestal gespaar.”

Maar hy het moeilike kinderjare gehad.

“Ek het elke aand gebid dat ek die volgende dag as ’n seun wakker word,” vertel hy.

“Dit het my woedend gemaak en ek het my van ander mense onttrek.”

Op 25 het hy ’n trans man in New York ontmoet en besef daar is hoop. Hy het later ’n suksesvolle geslagsoorgangsoperasie ondergaan.

Jake is as ’n vrou gebore. Foto: Instagram

Hannah, wat van Wallis kom, was “taamlik jonk” toe sy “geweet het ek is anders. Maar as ’n jong mens kon ek die ‘anders’ nie identifiseer as die gevoel dat ek ’n meisie is nie.”

Sy het eindelik verstaan wie sy is toe sy op universiteit was, maar “het niks daaraan gedoen nie” tot nadat sy by die leër aangesluit het.

Nadat sy ’n paar jaar as ’n man gedien het, het sy op 25 jaar ’n geslagsoorgangsoperasie ondergaan.

Hannah is as ’n man gebore. Foto: Instagram

“Ek het die oorgang ondergaan, want dit is wie ek is. Daar is geen keuse nie. Jy kan net so min kies as wat jy kan kies om swart of wit of linkshandig te wees.”

Sy het haar reis in die sosiale media gedokumenteer en so die leër se transgender-verteenwoordiger geword. Sy sê die weermag se steun is “fantasties.

“Hulle het sedert 1999 ’n beleid om transgender mense te steun. Die leër verstaan dit, want ons werk is uiters moeilik. Jy wil hê die mens langs jou moet goed in hul werk wees; jy gee nie om of hulle transgender, gay, swart of Moslem is nie.”

Verlede jaar het Jake ’n kortfliek met die titel Headspace geskryf en geregisseer oor die beproewings wat die trans gemeenskap die hoof moet bied.

Dit het soos ’n veldbrand op die internet versprei.

“Trans mense kyk na ons en sê ons het hulle hoop gegee om liefde te vind,” sê hy.

“My grootste bekommernis toe ek met my oorgang begin het, en ek dink dit was Hannah s’n ook, was dat ek nooit liefde sou vind nie, want die samelewing laat trans mense dikwels voel hulle is lelik en nie liefde werd nie.

“As ons ’n nuwe geslag trans mense inspireer om ’n lewensmaat te vind, is dit ’n groot eer.”

Hy sê mense hoef nie bekommerd te wees dat hulle die verkeerde terme in hul geselskap sal gebruik nie.

“Ons wil nie hê mense moet voel hulle loop op eiers nie. My ma het my jare lank op my ou naam genoem, maar dit het uit ’n plek van liefde gekom. Dit is vir ons almal ’n leerproses.”

Gelukkig steun albei ouerpare hulle.

“Vir talle is dit ’n reuseskok, maar ek was besonder gelukkig; my ouers het altyd gesê: ‘As jy gelukkig is, is ons gelukkig,’ ” sê Hannah.

Jake sê sy ma het ’n jaar ná sy oorgang nog “oor haar dogtertjie” gehuil.

“Vanselfsprekend was dit hartverskeurend, maar sedertdien is sy wonderlik. Sy is my eie persoonlike rasieleier.”

Die egpaar, wat beskermheer en -vrou is van die Britse liefdadigheidsorganisasie vir transgender kinders, Mermaids, sal in die kwartiere vir getroudes naby Hannah se leërbarakke bly.

“Ek is net nog ’n vrou,” sê sy, “wat met nog ’n ou getroud is.”

Bronne: pinknews.co.uk, thesun.co.uk, dailymail.co.uk