Sestien jaar gelede het die joernalis Terésa Coetz
Sestien jaar gelede het die joernalis Terésa Coetzee (links) nie geweet sy gaan ’n hartsvriendin raakloop toe sy vir ’n artikel haar hare moes laat kleur by die veroordeelde gevangene Charmaine Phillips nie.Dié twee is steeds vriende.

Dit is al meer as 16 jaar vandat die veroordeelde moordenaar Charmaine Phillips by die tronkdeure van die Kroonstad-gevangenis uitgestap het.

Sedertdien het baie dinge verander in die lewe van die vrou wat in die 1980’s saam met haar kêrel, Pieter Grundlingh, berug geword het as Suid-Afrika se Bonnie en Clyde nadat hulle aan vier moorde skuldig bevind is.

Pieter het die doodstraf gekry, maar Charmaine het haar tronkstraf uitgedien en haar lewe omgekeer.

In die tronk het sy besluit die dag wanneer die tronkdeure agter haar toeslaan, stap sy ’n eerbare mens daar uit – ’n mens wat vir haarself ’n lewe sal kan maak.

Sy het haar eersteling in haar lewe te­rugverwelkom nadat hy as baba aangeneem is en haar tweede seun – haar seun Pietertjie uit haar verhouding met Pieter – aan die dood afgestaan toe sy lewe ontspoor het.

Ná haar vrylating het Charmaine haar eie haarsalon oopgemaak en is sy ook getroud. Maar sy het haar nuwe verhouding en lewe uit die kollig gehou.

Deur die jare het een ding dieselfde gebly: haar hegte band met ’n joernalis wat kort ná haar vrylating ’n storie kom soek het, maar ’n hartsvriendin gekry het.

Charmaine (nou 57) wil haar gesin se privaatheid beskerm en staan nie onderhoude toe nie, maar het ingestem dat dié vriendin, die oud-­Huisgenoot-joernalis Terésa Coetzee, vertel van die pad wat hulle twee al saam gestap het.

Nadat Terésa onlangs in die VIA-reeks Huisgenoot: Ware lewensdramas van haar vriendskap met Charmaine vertel het, het sy toe ook dié verhaal vir Huis­genoot geskryf.


My dierbare vriendin, Charmaine Phillips

Dit was in vreemde omstandighede dat ek in Desember 2004 Charmaine Phillips die eerste keer ontmoet het. Net ’n paar maande tevore is sy ná 21 jaar uit die Kroonstad-­gevangenis vrygelaat, waar sy haar straf vir haar aandeel aan ’n reeks van vier opspraakwekkende moorde in 1986 uitgedien het.

Sy het in daardie stadium geen onderhoude toegestaan nie ondanks talle versoeke daarvoor.

My destydse nuusredakteur by Huis­genoot, Franz Kemp, het my opdrag gegee om my hare by Charmaine te laat kleur. Sy het in daardie stadium by ’n ­salon in Kroonstad begin werk.

Ná haar vrylating het Charmaine as ’n haarkapper b
Ná haar vrylating het Charmaine as ’n haarkapper by ’n salon in Kroonstad gewerk.

Ek moes onder die dekmantel van “ ’n gewone kliënt” gaan kyk of sy steeds dieselfde Charmaine van ouds is – die wilde, swetsende rebel wat destyds die galg net-net vrygespring het. Sy is vier keer lewenslange tronkstraf opgelê nadat sy as 19-jarige saam met Pieter Grundlingh (toe 35), die pa van haar babaseun, aangekeer is vir die dood van vier mense. Hy is ter dood veroordeel.

Haar lewe lank was sy omring deur mense wat haar in die oë gekyk en blatant vir haar gelieg het. Sy was bitter teleurgesteld in my, en met rede.

Ek was drie uur lank in Charmaine se geselskap, maar binne die eerste drie minute al het ek van die sagte vrou met haar borrelende lag en skalkse humorsin begin hou. In haar het ek ’n hartsvriendin gevind wat vir die res van my lewe vir my ’n inspirasie sal wees.

Charmaine was woedend toe ek haar later dieselfde dag bel en bieg dat ek eintlik van die media is. Hoe kon ek dit doen? Haar lewe lank was sy omring deur mense wat haar in die oë gekyk en blatant vir haar gelieg het. Sy was bitter teleurgesteld in my, en met rede.

Ná ’n tranedal waarin ek haar om vergifnis gesmeek en onderneem het om geen woord oor ons ontmoeting te skryf nie, het sy tog ingestem dat ’n artikel daaroor mag verskyn.

Die tronk het my lewe verander. Daar het ek geleer om tussen reg en verkeerd te onderskei. In die beginjare in die tronk was ek baie rebels en kwaad, en ek was gereeld in die moeilikheid oor my taal.

Sy was bereid om my ’n tweede kans te gee. Want wie sal beter as Charmaine Phillips weet dat ’n mens soms verkeerde besluite neem sonder om aan die na­gevolge te dink? Dat ware berou soms te laat kom? En wie sal beter as sý weet wat ’n tweede kans alles vir ’n mens kan beteken?

Charmaine en Pieter het in die 1980’s berug geword
Charmaine en Pieter het in die 1980’s berug geword as Suid-Afrika se Bonnie en Clyde voor hulle vasgetrek is.

Sy het later vir my van haar eie, kos­bare tweede kans vertel: “Toe ek uit die tronk vrygelaat is, het mense gesê ek het ’n tweede kans gekry. Dis nie waar nie – ek het my tweede kans gekry toe ek tronk toe is. Ek het so baie daar geleer en baie as ’n mens ontwikkel en gegroei.

“Die tronk het my lewe verander. Daar het ek geleer om tussen reg en verkeerd te onderskei. In die beginjare in die tronk was ek baie rebels en kwaad, en ek was gereeld in die moeilikheid oor my taal. Maar iewers het God met my begin werk, en ek het besef ek kan kies as watter soort mens ek eendag daar wil uitstap. Ek het gekies om ’n eerbare mens te word,” het Charmaine aan my gesê.

Dít is die mens wat ek die afgelope 16 jaar leer ken het. Iemand na wie ek opkyk, wat ek met my hartsgeheime sal vertrou en vir wie ek die grootste respek en agting het.

Van die eerste dag dat Charmaine uit die gevangenis vrygelaat is, het mense haar herken.

Party het haar as moordenaar uit­gekryt, en dan het sy bloot weggestap. Ander was ooglopend bang vir haar. Tog vertel sy die meeste mense het haar met deernis behandel. Die oomblik dat sy jou in die oë kyk en begin praat, besef ’n mens in hierdie vrou is daar geen kwaad nie.

Charmaine is destyds die “swetsende engel” gedoop.
Charmaine is destyds die “swetsende engel” gedoop. Sy het fotograwe gevloek, op hulle gespoeg en selfs vir hulle tong uitgesteek. Vandag beskou sy haar tyd in die tronk as haar tweede kans. Daar het sy as ’n mens ontwikkel en gegroei; geleer om tussen reg en verkeerd te onderskei. Sy het besef sy kan kies as watter soort mens sy eendag daar wil uitstap.

Die lewe buite die tronk het groot aanpassings van haar geverg. Sy was verstom toe sy die eerste keer ’n outobank sien; sy het nie geweet wat dit is of hoe dit werk nie. Sy moes leer kos maak, en as sy ’n brief wou pos, moes sy self seëls koop en posbus toe stap.

In die gevangenis het sy haar as haarkapper bekwaam, en ná haar vrylating het sy by ’n salon in Kroonstad werk gekry. Die twee eienaars het ook vir haar blyplek aangebied.

Dit was ’n uitkoms, want sy het geen besittings soos meubels en klere gehad nie en moes ook vir haar en Pieter se seun, Pietertjie, toe al ’n jong volwassene, sorg.

’n Paar jaar later het sy my trots met die nuus gebel dat sy ingetrek het in haar eie huis van waar sy ook haar eie salon bedryf.

So vier jaar gelede het sy weer gebel, uit haar vel van vreugde omdat sy vir die eerste keer in haar lewe haar eie motor het. ’n Bejaarde kliënt wie se hare sy elke week gratis gedoen het, het haar ou Uno vir Charmaine present gegee.

Iets wat my altyd oor Charmaine sal bybly, is dat sy nog nooit simpatie gevra het oor die klappe wat die lewe van jongs af vir haar uitgedeel het nie.

Ná haar vrylating het sy ingeskakel by die plaaslike Metodistekerk, waar sy met ope arms ontvang is. Maar toe ’n familielid van een van haar en Pieter se slag­offers ’n paar jaar gelede by dieselfde gemeente aansluit, het hy daarop aangedring dat sy die kerk verlaat.

Die predikant het voorgestel hulle sit almal om ’n tafel en praat die saak uit.

Die man het in die middel van ’n werkdag by Charmaine se huis opgedaag, en omdat sy druk besig was om hare te sny, het sy met ’n skêr in haar hand die deur oopgemaak. Die man het glo gegil en weggehardloop. Daarna het sy hom nooit weer gesien nie – ook nie by die kerk nie.

Ek het baie oor die storie gelag, maar sy het my berispe en gesê ek mag nie so ongevoelig wees nie. Ek moet myself in sy skoene probeer indink.

Iets wat my altyd oor Charmaine sal bybly, is dat sy nog nooit simpatie gevra het oor die klappe wat die lewe van jongs af vir haar uitgedeel het nie.

Sy was maar agt jaar oud toe sy – die dogter van ’n skisofreniese pa en ’n alkoholistiese ma – die eerste keer kinderhuis toe is. Sy was 12 toe haar ma aan die hand van ’n besope minnaar gesterf het.

Op 15 is Charmaine by ’n welgestelde gesin in La Lucia in KwaZulu-Natal in pleegsorg geplaas, maar sy was nie gelukkig daar nie en het ’n jaar later weg­geloop.

Die Durbanse hawe het toe haar blyplek geword, waar sy uit nood as ’n prostituut gewerk het.

Kort voor lank was sy swanger. Om haar baba te laat aanneem was een van die heel moeilikste dinge wat sy in haar jong lewe moes doen.

Hy het alles in die lewe verloor en sy ook. Hulle was alles vir mekaar. En hulle het van mekaar besit geneem.

Dié verlies was waarskynlik een van die dinge wat haar haar toevlug in Pieter Grundlingh se arms laat soek het.

Soms het sy oor hom met my gepraat – die donkerkopman met sy wilde streep tot wie sy dadelik aangetrokke was. Pieter was diep seergemaak deur sy eerste vrou wat hom gelos het en met hul kind weg is. Charmaine het geweet hoe hy voel, want sy het nog self oor die verlies van haar eersteling gerou.

Pieter was uit die staanspoor met haar eerlik oor die sewe jaar wat hy toe al agter tralies deurgebring het – vir dwelmverwante oortredings, diefstal en aanranding.

Maar hoe kon sy hom veroordeel? Sy het dan self ’n verlede gehad.

Ja, sy was lief vir hom. Hy het alles in die lewe verloor en sy ook. Hulle was alles vir mekaar. En hulle het van mekaar besit geneem.

Ek was aan die begin van ons vriend­skap gefassineer met haar verhaal. Charmaine het my vrae altyd geduldig beantwoord. Dit was opvallend hoe haar stem verander en byna kinderlik word wanneer haar gedagtes na die verlede terugswerf.

Ek het nooit die moed gehad om haar te vra wat deur haar gedagtes gegaan het tydens elk van die vier moorde waarby die platsak ouerpaar betrokke was nie. Hulle het ook hul slagoffers beroof.

Ondanks alles wat gebeur het, meen sy dit was verkeerd om Pieter die doodstraf op te lê. Niemand het die reg om ’n lewe te neem nie; net die Here kan daaroor besluit.

Charmaine het my wel eenkeer vertel sy skrik soms in ’n plas sweet wakker en sien weer die geweer in Pieter se hand.

In ’n verklaring wat hy geskryf het kort voor sy doodsvonnis voltrek is, het hy erken dit was hy wat die moorde gepleeg het en dat Charmaine geen van die mense leed aangedoen het nie. Sy het nooit enige van die lyke gesien nie.

Ná die bewindsverandering in 1994 kon sy vir die eerste keer toegang tot dié verklaring kry. Daarin het Pieter ook beweer hy het een van die slag­offers aan ’n boom vasgebind, al weet Charmaine sy het dit self gedoen. Sy was onder die indruk hulle sou die man beroof, nie vermoor nie.

Charmaine en Pieter Grundlingh, haar destydse kêre
Charmaine en Pieter Grundlingh, haar destydse kêrel, in die hof. Sy is vier keer lewenslange tronkstraf opgelê, terwyl Pieter ter dood veroordeel is.


Die feit dat Pieter oor sekere van die feite in dié dokument gelieg het, maak dit ’n onbetroubare bron vir haar om haar onskuld te probeer bewys.

Ondanks alles wat gebeur het, meen sy dit was verkeerd om Pieter die doodstraf op te lê. Niemand het die reg om ’n lewe te neem nie; net die Here kan daaroor besluit, glo sy nou. En sy glo steeds Pieter kon verander het.

Sy onthou nog hoe gek hy oor kinders was en hoe hulle gewoonlik net soveel van hom gehou het. Net so ongenaakbaar gewelddadig soos hy soms kon wees, net so sag kon hy raak wanneer hy afgebuk het om met ’n kleintjie te gesels, vertel sy.

Hul seun, Pietertjie, was nog ’n baba toe die moorde gepleeg is.

Sy moes toekyk hoe haar kind se lewe inmekaartuimel; praat en smeek het nie gehelp nie.

Terwyl Charmaine haar gevangenisstraf uitgedien het, het sy met hom in kontak gebly. In ’n stadium is hy in pleegsorg in Kroonstad geplaas om naby sy ma te wees. Sy het deur die jare gereeld vir hom geskryf en hom, waar sy kon, finansieel bygestaan met haar karige inkomste as haarkapper in die tronk.

Tog was die afwesigheid van ’n standvastige ouerhuis ’n faktor wat hy eenvoudig nie te bowe kon kom nie. Pietertjie het in die maalkolk van misdaad, dwelms, seks en prostitusie verstrengel geraak.

Toe hy later self met die gereg bots, is spesiale besoeke vir die ma en seun gereël wat hulle albei agter tralies bevind het.

Charmaine en Pieter se seun, Pietertjie, met ’n fo
Charmaine en Pieter se seun, Pietertjie, met ’n foto van sy ouers. Hy het in die maalkolk van misdaad, dwelms, seks en prostitusie beland. In 2006 het hy sy eie lewe met ’n oordosis heroïen geneem.

Ná haar vrylating het Pietertjie by haar in Kroonstad kom woon, maar hulle was feitlik vreemdelinge vir mekaar. Hy was toe al volkome aan dwelms verslaaf en het haar besteel en soms verskreeu. Sy moes toekyk hoe haar kind se lewe inmekaartuimel; praat en smeek het nie gehelp nie. Sy ma se huisreëls het hom weer die pad laat vat en vir lang tye het sy niks van hom gehoor nie.

Aan die begin van my en Charmaine se vriendskap het sy dikwels moedeloos vertel hoe sy haar oor hom bekommer.

Iewers in 2006 het ek haar hartseer SMS gekry dat haar seun sy eie lewe met ’n oordosis heroïen geneem het. Hy was 23 jaar oud.

Sy het nooit ophou hoop en bid dat Pietertjie tot inkeer sou kom nie, en ek dink tot vandag toe verwyt sy haarself omdat sy haar kind in die steek gelaat het.

Sy het geen verwyte teenoor ander oor die moeilike omstandighede waarin sy in haar eie jeugjare gedompel is nie. En sy het groot berou oor die leed wat sy ander aangedoen het.

Deur die jare het ons kontak behou. In ’n stadium wou ek ’n boek oor haar lewe skryf. Charmaine het eers teen die idee vasgeskop, maar later wel ingestem.

Elke keer was sy presies dieselfde – ’n vriendelike, opregte mens met deernis en empatie vir ander.

Sy het op die bus geklim en vir ’n paar dae by my in Johannesburg kom kuier. In dié tyd het sy my gesin en van my familielede leer ken.

Sy het baiekeer in die kombuis met ons huiswerker, Caroline Mavunila, staan en gesels. Soms het ek haar aangetref in die tuin waar sy met die honde speel. Sy het my hare in Franse vlegsels gevleg; ons het ver ente in die buurt gaan stap en tussendeur het ek ure se bandopnames van haar vertellings gemaak.

Ek het later die boek laat vaar, want haar seun wat sy as baba laat aanneem het en met wie sy ná baie jare weer kontak gemaak het, was teen die idee gekant.

Deur die jare het ek ’n paar keer by haar huis in Kroonstad gaan kuier, en elke keer was sy presies dieselfde – ’n vriendelike, opregte mens met deernis en empatie vir ander.

Ek het al gesien hoe sy straatkinders help wat by haar huis opdaag. En as dit lyk asof hulle gom gesnuif het, skroom sy nie om die leviete vir hulle voor te lees nie. Dan sal sy ook haar eie verhaal vir hulle vertel in die hoop dat dit hulle die regte pad sal help vind.

Die tronk het haar alles geleer wat kinders gewoonlik in hul ouerhuis leer.

Sy lewer steeds van tyd tot tyd belydenisse by verskillende kerke. Sy hou niks daarvan as ’n mens voor haar vloek nie, en ek moet altyd ’n wag voor my mond sit wanneer ek met haar praat.

Ek het Charmaine onlangs gevra of sy soms nog aan haar verlede dink. Dit was nie alles net sleg nie; in die gevangenis het sy geleenthede gekry wat sy waar­skynlik nooit op ’n ander plek sou kry nie.

Sy het haar matriek voltooi. Sy het as haarkapper en grimeerkunstenaar ­gekwalifiseer en ook kursusse in etniese stilering en manikuur gevolg. Sy het die dissipline geleer wat sy nooit as kind geleer is nie.

Die maatskaplike dienste het haar hope lewensvaardighede geleer – van selfvertroue tot selfhandhawing. Die tronk het haar alles geleer wat kinders gewoonlik in hul ouerhuis leer.

Maar nee, het Charmaine geantwoord. Sy probeer om nie te veel aan haar ver­lede te dink nie, want dit maak haar hartseer. Sy fokus eerder op haar nuwe lewe, want sy is gelukkig en het ware vrede gevind. Sy weet wie sy was en wie sy nou is.

En al is daar steeds mense wat haar as moordenaar uitkryt, weet sy wat die waarheid is.

Terésa en Charmaine het deur die jare ’n paar keer
Terésa en Charmaine het deur die jare ’n paar keer by mekaar se huis gaan kuier, en Terésa het haar altyd beleef as ’n vriendelike, opregte mens met deernis en empatie vir ander. Hulle het selfs saam aan ’n boek oor Charmaine se lewe geskryf. Terésa het later die boek laat vaar, want die seun wat Charmaine as baba laat aanneem het en met wie sy ná baie jare weer kontak gemaak het, was sterk teen die idee gekant.

Ek en Charmaine sien mekaar heeltemal te min na ons albei se sin. Ons bel mekaar ook nie gereeld nie, maar wanneer ons wel oor die telefoon praat, word dit ’n lang oproep, want dan haal ons weer in met die agterstal­lige nuus. Ons bel mekaar altyd rondom Kersfees.

Die afgelope week het ek haar weer gebel om te hoor of sy oukei daarmee is dat ek die artikel oor ons vriendskap skryf.

“Dis mos jou storie ook, nie net myne nie,” het sy gelag.

“Hoekom het jy destyds besluit om met my vriende te word?” het ek gevra.

“Omdat ek daardie dag in die salon al gesien het ons harte praat dieselfde taal,” het my dierbare vriendin geantwoord. 

FOTO'S: VERSKAF
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe