Die polisie het Dinsdag, ná ’n gesloer om antwoorde oor die dubbele moord op ’n man en sy skoonma ses maande gelede op Henley on Klip in die Vaaldriehoek aan Huisgenoot te verskaf, ontken dat die polisie nie alle leidrade in die verband opvolg nie.

Daar is terselfdertyd bevestig dat die saak nou op ’n hoër vlak deur ’n taakspan ondersoek word.

Jozef Henning (61) is in die aanval 153 keer met ’n skerp voorwerp gesteek en sy skoonma, Desireé Phippen (85), is verwurg.  

Huisgenoot het Maandag berig Jacques Henning (40), Jozef se seun, beweer hy het reeds leidraad op leidraad wat uit sy eie ondersoeke voortspruit, aan die Meyertonse polisie oorhandig. Hy het ook beamptes hoër op in die polisie geraadpleeg, maar het tot vandag toe nog geen terugvoering oor die ondersoek ontvang nie. 

Ná Huisgenoot daaroor berig het, het Jacques, 'n televisieredigeerder vir SuperSport wat ook die gewilde webblad en sportblog The Yellowcap besit, 'n beroep op die polisieminister, Fikile Mbalula, gedoen om in te gryp.

Konst. Maria Letsele, plaaslike polisiewoordvoerder, is 'n week gelede reeds om kommentaar gevra. Tot op hede is daar nog geen terugvoering ontvang nie.

Die moorde

Lt.kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het wel Dinsdag op Huisgenoot se navraag gereageer en bevestig daar is nog geen deurbraak gemaak in verband met die moorde op Jozef en Desireé nie.

“Ek kan bevestig albei die lyke is binne die huis gekry. Mnr. Henning het steekwonde oor sy lyf heen gehad en die bejaarde vrou is in ’n slaapkamer gekry waar dit blyk sy verwurg is.

“Daar word vermoed dat roof die motief vir die moorde was aangesien ’n voertuig gesteel is. Die dossier is aan ’n taakspan aangewys. In die stadium is niemand nog in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort,” het hy per e-pos laat weet.

Die slagoffers

Jacques het vandeesweek vertel sy pa het net twee weke in die huis gebly toe hy en sy skoonma aangeval is.

Sy pa se vrou, Lyndi, was oorsee ten tyde van die voorval. Sy sou eersdaags na Suid-Afrika terugkeer en haar ma het solank by haar man gaan bly.

Die egpaar het ses jaar op die Wes-Indiese eiland Antigua gewoon, en Jozef het voor haar in Augustus 2016 teruggekom. Lyndi se ma het voorheen alleen in Pietermaritzburg gewoon.

Lyndi, het hy vertel, gaan uiteraard ná die moord op haar man en ma nie meer terugkeer nie. Sy is steeds erg getraumatiseer.

Volgens Jacques het ’n familielid op Sondag 7 Mei op Jozef en Desireé se lyke afgekom nadat Lyndi hulle nie in die hande kon kry nie en die familielid ondersoek gaan instel het.

Die eienaar van die huis was nie tuis nie. Die vermoede bestaan hulle is reeds Vrydag 5 Mei vermoor.

Wat was die motief?

Behalwe vir die twee se trouringe en Jozef se werkmotor, ’n Hyundai i20, is niks gesteel nie. Elektroniese toestelle soos TV’s, DVD-spelers en radio’s, wat gebuit kon word, is net so agtergelaat.

Jacques het met sy eie ondersoek vasgestel twee werknemers van sy pa – die huishulp en tuinier – het albei die dag afgevat op die dag van die moord. Die tuinier spesifiek het nooit weer teruggekeer werk toe nie. Dit was net een van vele leidrade wat hy aan die polisie deurgegee het.