Die kunstenaar Cohnwille Swarts, ’n matrikulant aan die Schoonspruit Sekondêre Skool in Malmesbury, Wes-Kaap, het die jongste internetsensasie geword nadat sy onderwyseres, Celeste Arendse, sy portrette aanlyn geplaas het.

cohnwille by juffrou Celeste
Cohnwille Swarts by sy onderwyser, Celeste Arendse. Foto: Verskaf

Sy swart-en-wit kuns, wat hy met net ’n potlood en papier skep, is wyd gedeel. 

Nou staan kunsskole oral in die land tou om vir hom ’n beurs aan te bied.

“Ek voel baie bly en goed daaroor,” sê Cohnwille. “Ek is baie dankbaar teenoor my onderwyseres dat sy dit gedeel het. 

“Ek is lief vir kuns, en dis wat ek ná skool wil doen – ek wil volgende jaar skone kunste studeer. My droom is om eendag ’n beroemde kunstenaar te word.” 

cohnwille
Foto: Verskaf

Die jong talent kom van Abbotsdale, ’n dorpie net buite Malmesbury. Hy sê sy belangstelling in kuns het begin toe hy nege jaar oud was.

“Ek het na teken geneig, en soos wat ek ouer geword het, het ek baie tegnieke geleer,” sê Cohnwille.

Celeste, wat die afgelope twee jaar vir Cohnwille visuele kuns gegee het, het met trots toegekyk hoe sy werk verbeter. 

cohnwille
Van Cohnwille se ongelooflike kunswerke. Foto: Verskaf

Elke jaar hou sy ’n kunsuitstalling by die Schoonspruit Sekondêre Skool om die werk ten toon te stel wat kunsleerlinge as deel van die skoolleerplan geskep het.  

Toe Cohnwille vir haar sê die tema van sy voorleggings is armoede, was sy bekommerd omdat dit al so baie keer vantevore aangepak is, sê sy. Maar toe sy Cohnwille se sketse sien, was sy so beïndruk sy het dit in die sosiale media gedeel.  

“Die standaard van sy werk het my regtig uitgestaan,” sê sy. “Ek wens ek kon so geteken het toe ek in gr. 12 was.”

cohnwille
Foto: Verskaf

Dit het Cohnwille sowat ses maande geneem om die vyf stukke in die reeks te teken. Elke skets is geïnspireer deur mense wat hy in sy omgewing sien. “Daar’s baie armoede waar ek vandaan kom,” sê hy. 

Celeste het die klas die projek gegee nadat hulle in Junie teruggekeer het skool toe. Dit kon nie op ’n beter tyd gekom het vir die jong man wat sy ma in April aan ’n beroerte afgestaan het nie.

“Dit het my nog meer gemotiveer om te fokus en moeite met my werk en studies te doen,” vertel Cohnwille. 

“Ek weet my ma sou baie bly en baie trots gewees het, want ek weet sy wou hê ek moet ’n sukses van my lewe maak.” 

Die tiener het sy pa in ’n motorongeluk verloor toe hy ’n kleuter was. Hy woon nou by sy oom en ouma, wat albei baie trots is op hom. 

cohnwille teken
Cohnwille spandeer ure aan sy kunswerke. Foto: Verskaf

Celeste sê hulle is in die proses om die jong kunstenaar se werk by ’n nuwe ateljee in Malmesbury uit te stal en by ’n fees in die naburige Riebeek-Kasteel in Desember. 

Die Stellenbosch Akademie vir Ontwerp en Fotografie en ’n paar ander Suid-Afrikaanse universiteite het ook vir hom beurse aangebied. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe