Anna Jenkinson, van Cheshire in die noordweste van Engeland, het sedert April verlede jaar selfies, waarop sy soms met spoedtoestelle poseer en ander Snapchat-filters gebruik, op die amptelike Facebookblad van die Prestbury & Alderley Edge Police gedeel.

Volgens news.com.au het die foto’s as ’n lighartige poging begin om die “menslike kant” van ’n polisievrou te toon, maar het haar selfies sedertdien negatiewe kritiek ontlok. Sosialemediagebruikers beskuldig Anna nou daarvan dat sy polisiewerk kleineer.

“Wie het gedink dit was ’n goeie manier om die Cheshire-polisie te bevorder!” lewer Andrea Jones kommentaar. “Dit lyk of jy nie net vir motoriste lag en die misdaad van jaery kleineer nie, maar ook ’n grap maak van wat ’n gedissiplineerde organisasie moet wees. Daar is ’n tyd en plek vir pret en gekskeerdery en ek is bevrees dit is nie een daarvan dié nie.”

Shirley Carter, ’n ander Facebookgebruiker, laat hoor: “Ek is verstom dat hulle dink sy is aanvaarbaar, snaaks en professioneel. Dit wys net hoe laag standaarde gedaal het’”

Jane Cashinella-Vaughan voeg by: “Wat ’n vernedering vir die beroep.”

Ander het tot die beampte se verdediging gekom. Iemand het geskryf: “Ek dink ons is ’n ander geslag as die jonges.”

“Sy het nie as ’n eenhoring geparadeer toe sy spoedhandhawing toegepas het nie (hoop ek) en ek het geen rede om te dink sy was enigiets anders as ’n toonbeeld van professionaliteit nie.”

Anna het voorheen in ’n plasing geskryf: “As ek nie kan pruil nie, dan laat ek nie ’n foto neem nie . . . dit is my reëls. Moet dus nie dat dit jou afraai om aan te sluit nie. Ek gaan beslis #thepoutingpcso gebruik.”

Volgens The Sun het die Cheshire-polisie op van die kommentaar gereageer deur te skryf: “Hallo almal, dankie vir die terugvoering! Wanneer ons beamptes tot die sosiale media toegang gee, gun ons hulle die vryheid om hulself te wees, te wys hulle is menslik, en om boodskappe op kreatiewe maniere te probeer oordra. Party mense sal die informele boodskappe waardeer en ander nie, maar tot ons dit beproef, sal ons nooit weet nie.

“Ons waardeer jul besorgdheid en sal enige terugvoering gebruik om die diens te verbeter wat ons lewer.” 

In ’n verklaring voeg ’n woordvoerder van die Cheshire-polisie by: “Ons het onlangs vir al ons beamptes hul eie sosialemediarekenings gegee en hulle aangemoedig om dit te gebruik op ’n manier wat sowel aantreklik as insiggewend is om na al hul gemeenskappe uit te reik.” 

Bronne: Metro UK, The Sun, news.com.au