En die groot vraag is of dié sakeman nog lewe of nie.

Nie sy familie of enige iemand wat hom ken, wil ’n woord rep nie. Volgens ’n bron ná aan die saak is die ondersoek in ’n sensitiewe stadium.

Verskeie bronne het bevestig die beweerde ontvoerders het aanvanklik ’n losprys van R10 miljoen geëis maar kol. Kay Makhubela, ’n Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê hy “weet niks van ’n losprys nie”.

Hy het wel bevestig dat ’n saak van ontvoering geopen is en deur die polisie ondersoek word.

Toe Huisgenoot die vervalle kantoorgebou in Randfontein besoek, was Adri Diamond Tools, Trevor se onderneming, se deure gesluit en al die ligte af. Die maatskappy se telefoon het ook onbeantwoord gebly. ´n Plakkaat met Trevor se gesig op wat ’n beloning van R200 000 vir sy veilige terugkeer beloof, is teen die kantoor se deur en venster geplak. Die beloning word deur die familie aangebied.

Dié maatskappy verskaf diamant-slyp-toerusting.

Nog ’n huurder, Rudy Dantas wat by ’n groentewinkel werk, het aan Huisgenoot vertel dat Trevor einde verlede jaar ’n inbraak gehad het.

“Hulle het deur die dak geklim en ek dink Trevor het gesê hulle het R180 000 se kontant gesteel sowel as toerusting. Die skade altesaam was net oor die R2 miljoen. Trevor het nog vir my gesê hy gaan die mense vastrek, want hy dink dit was ’n inside job,” sê Rudi.

Ander inwoners het ook die inbraak bevestig.

Die polisie het nie op enige van Huisgenoot se navrae oor die losprys, inbraak of ondersoek gereageer nie.

Op die Facebookblad van Trevor se dogter, Charmaine van der Walt, blyk dit dat Trevor op 31 Januarie laas gesien is toe hy by sy onderneming gery het. Sy voertuig en foon is gekry om die draai van sy huis in Alberton maar daar was geen teken van Trevor nie.

Die ontvoerder het glo die familie ná Trevor se verdwyning gekontak en ’n losprys geëis.

Trevor se buurman in die kantoorgebou, Clinton van der Merwe, wat vir ’n konstruksiemaatskappy werk, sê Trevor het nie baie met mense gesels nie.

“Hy was maar ’n tipiese bejaarde oom. Ek dink ook nie hy het baie geld nie. Kyk hoe lyk die gebou. Lyk dit vir jou of iemand hier gaan huur wat in geld rol? Hy het ’n goue Kia Picanto gery,” sê Clinton.

Trevor, wie twee kinders het en reeds ’n oupa is, se familie wou nie kommentaar lewer nie.

“Dankie maar ons kan nie kommentaar lewer nie,” sê Eugene Erasmus, Trevor se seun.