Hy was op pad terug van Pretoria waar hy skoonmaak- en sanitasiemiddels gaan aflaai het, vertel Leon Forsman, ’n leraar van die Greydene-gemeente in Greymont, Johannesburg.

“Die getroue ou motor se brandstofnaald werk al lank nie meer soos hy moet nie. Maar dis gewoonlik nooit ’n probleem nie – ek was nog altyd betyds om weer brandstof in te gooi,” vertel hy.

Maar nie Dinsdag nie. Want op dié dag het die motor besluit om net voor die Ou Johannesburgpad op te hou met ry – en die naaste vulstasie was ’n goeie vyf kilometer ver.

“Ek moes nie sommer net aangeneem het daar was nog genoeg brandstof nie,” sê Leon. “Tog bly dit lekker vir niemand om sommer so te gaan staan nie. Ou Suid-Afrika kan mos ’n vreemde plek wees. Buiten vir die lockdown en die veel stiller paaie, hoor mense mos maar die verskriklikste rillerstories van langs die pad stop. Ek het myself maar op die loop voorberei.”

Leon is die leraar wat verlede jaar aan Huisgenoot vertel het hoe sy diagnose met ’n outo-immuunsiekte hom so byna van alles gestroop het – selfs sy geloof. Maar hoe dit eindelik toe tog sy geloof was wat hom gered het.

Dié keer was nie anders nie: hy moes weer glo, vertel Leon. En nadat hy sowat een kilometer gestap het – en minstens 15 motors verby hom gejaag het – het ’n minibus-taxi langs die pad stilgehou.

“Die taxibestuurder was ’n yslike groot man. Hy vra my toe: ‘Kan ek help?’ Mens weet mos maar van misdaad en al daardie dinge. Ek sê toe vir hom ek het sonder brandstof gaan staan, en dis toe hy die deur oopgooi en vir my sê om in te klim.

“Hy vertel my toe sy naam is Innocence, die vriendelike man. En hy ry nie sommer eers vulstasie toe nie – ons was eers na die taxi-staanplek waar hy vir my ’n bottel gekry het, en toe vat hy my vulstasie toe.”

Dit het hom – ’n leraar – verstom oor die goedheid van mense, vertel Leon.

“Mense is mos maar bang vir help. Jy weet nie of iemand dalk bymotiewe het nie – en in hierdie tyd is daar nog die onsekerheid om dalk siek te word met die virus ook. Maar Innocence was totaal onbaatsugtig. Hy het my selfs teruggevat tot by my motor,” sê Leon.

Veral in uitdagende tye soos dit wat Suid-Afrikaners nou beleef, vertel Leon, is dit belangrik dat ons saam staan en help waar ons kan.

“Innocence se goeie daad sê baie van ons mense: dit sê wanneer ons regtig alleen en ten gronde is, ons steeds die vermoë het om saam te staan. Dat ongeag kleur en taal en selfs godsdiens, ons bereid is om uit te reik na mekaar. En dis waaraan ons moet vasklou in hierdie onsekere tye.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.