Lorenzo Alegre se ma, Mariela, het sy eerste tree in ’n hospitaal in die provinsiale hoofstad Santa Fe in die noordooste van Argentinië verfilm. 

Die glimlaggende kleinding was duidelik in sy noppies dat hy dit kon regkry om op sy eie op te staan en te loop.

In die video, wat al meer as ’n halfmiljoen kere op Facebook gekyk is, sê die verheugde seuntjie: “Pappa, ek loop!”

Lorenzo is nie net tevrede met loop nie; hy wil nou ook sport beoefen en het sy ouers glo ’n paar sokkerstewels gevra.

“Lorenzo was saam met my ma by die dokter oor iets anders waarmee hy sukkel,” sê sy pa, Dario Alegre, “toe hy skielik sy eerste tree op sy eie gee.” 

“Ek het besluit om die video op Facebook te deel en dit het almal ontroer.”

Serebraal gestremdheid is op agt maande by Lorenzo, wie se bynaam Lolo is, gediagnoseer toe sy ouers agterkom hy kan nie op sy eie staan nie.

“Sedertdien het hy baie behandeling en rehabilitasie ondergaan, elke liewe dag, en op die oomblik twee keer per week,” sê Dario.

Die glimlaggende kleinding was duidelik in sy noppies dat hy dit kon regkry om op sy eie op te staan en te loop. Foto: Magazine Features

“Ons is baie trots op Lolo. Ons weet hy sal nie behoorlik kan loop nie, maar ons hoop hy sal op sy eie kan rondbeweeg. Daardie ses treë in die video is reuse treë vir ons; dis die begin van iets groots.

“Dis ’n boodskap om nooit hoop te verloor met enigiets nie.”

Dokters beplan glo om Lorenzo se beenspiere met botoks in te spuit om hom beweegliker te help maak.

 “Dis die grootste vreugde wat enigeen kan voel,” het ’n internetgebruiker, ene Grondal Franco Silva, laat hoor.

“Ek het ’n broer wat vir die eerste keer geloop het toe hy vier of vyf jaar oud was. 

“Hy is nou 32 en stap steeds moeilik, maar dank die Here hy het pas getrou en word binnekort pa. Jou video het pragtige herinnerings opgeroep.”

Serebrale gestremdheid word veroorsaak deur skade of die abnormale ontwikkeling van die deel van die brein wat beweging en balans beheer.

Dit gebeur gewoonlik tydens swangerskap, maar kan ook tydens of kort ná geboorte gebeur.