Die logge organisasie is jare lank beswadder. Mense het oor vrot kliëntediens, minderwaardige produkte en swak bestuur gekla.

Maar kyk net nou: Telkom is lank nie meer ’n bloedsuier wat die staatskas leegtap nie. Dié telekommunikasiemaatskappy het uit die as herrys en is nou ’n voorbeeld vir ander staatsbeheerde onder­nemings soos die kragvoorsiener Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) dat jy benarde sake kán regruk met slim strategiese denke, stabiliteit op bestuursvlak en vasbeslotenheid om te diversifiseer.

Die jongste finansiële resultate is ’n klinkklare bewys dat Telkom ’n goue ster verdien: ’n Wins van R3,3 miljard is aangeteken vir die boekjaar wat in Maart geëindig het. Dis ’n byna ongehoorde prestasie terwyl ander sulke onder­nemings in skuld verdrink en van die staat afhanklik is om hulle met ­finansiële inspuitings te red. 

VAN HOPELOOS TOT HOOPVOL

Telkom het vyf jaar gelede net so swaargekry soos Eskom en die SAL. Die aandeelprys het met 40% gedaal, die destydse uitvoerende hoof, Nombulelo “Pin-ky” Moholi, het haar tassies gepak en die firma het gespook om ’n nuwe baas te kry. 

Toe die huidige uitvoerende hoof, Sipho Maseko, in 2013 oorneem, was die aandeelprys net R13 en die getal vaste telefoonlyne het van 5 miljoen tot 2,5 miljoen gekrimp namate ál meer verbruikers na selfone oorgeskakel het.

Veseltegnologie het ook meer mededingers in die bedryf toegelaat, en Telkom het van die een ná die ander krisis gesteier.

Maar vandag is dit ’n heel ander storie. Die aandeelprys is R95, die maatskappy is winsgewend, en beleggings in nuwe teg­nologieë floreer. Die staat is steeds die meerderheidsaandeelhouer met ’n 40%-aandeel en ’n bykomende 10,9% deur sy pen­sioen­fondsbestuurder, die Openbare Beleggingskorporasie.

Maar Telkom maak al die regte geluide, sê die kenners. En baie van die lof kom Sipho toe.

GOEIE LEIERSKAP

Sipho Maseko, chief executive officer of Telkom SA
Telkom se hoof, Sipho Maseko, word geloof vir dié firma se gedaante­wisseling. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Sipho het dinge reggeruk, meen Ron Klipin, ’n senior ontleder by die beleggingsmaatskappy Cratos Capital.

“Hy’s ’n goeie strateeg,” sê Ron. “Hy het ook die steun van die direksie gehad, en dis iets wat by die ander staatsbeheerde ondernemings ontbreek.”

Met Sipho aan die stuur het Telkom sy personeellede aansienlik verminder, en daar is stelselmatig gesny aan die werksmag van 22 000 wat die maatskappy gehad het toe hy oorgeneem het.

Volgens die groep se jaarresultate was die totale permanente poste teen einde Maart 15 296, hoofsaaklik vanweë vrywillige skeidingspakkette en vroeë aftrede en ander afleggings in ooreenstemming met arbeidswetgewing.

Telkom het onder Sipho se leiding ’n ander plek geword, sê Ron. “Dis soos dag en nag. Die uitvoerende hoof is 10 uit 10 in die vergelyking.”

Arthur Goldstuck, besturende direkteur van die saketegnologienavorsings­firma World Wide Worx, sê Sipho het ook ’n “briljante regterhand” gehad in Brian Armstrong, die bedryfshoof wat Telkom in 2017 verlaat het. Hy sê die steun van die voorsitter was waardevol om politieke inmenging te beperk en Telkom in staat te stel om as ’n onder­neming te groei.

TERUG VAN DIE AFGROND 

’n Deel van Telkom se strategie was om landlyne, ’n kwynende bedryf, na mobiele fone te skuif, sê Ron. En toe bekom hulle die informasietegnologie (IT)-­maatskappy BCX en brei hul portefeulje na IT uit. “En sodoende het hulle ’n rolspeler in tegnologie geword.”

Arthur sê Telkom Business, wat aanlyn sakeprodukte teen mededingende pryse bied, was suksesvol en het die maatskappy gehelp om winsgewend te word.

Telkom se mobiele diens het ’n ruk lank “voortgestrompel”, sê Arthur, maar volhard. “En die een ding wat hulle reg gedoen het, is dat hulle daardie afdeling toegelaat het om sy eie strategie te ontwikkel en amper as ’n onafhanklike eenheid te werk.”

Telkom se getal mobiele kliënte het die afgelope boekjaar verdubbel, wat “sekerlik skokgolwe deur die bedryf moes stuur”, sê hy. 

“Tot verlede jaar was Telkom ’n klein operateur in dié bedryf, en skielik is dit ’n vername rolspeler.”

LESSE VIR ANDER REUSE

lugdiens
Die voormalige hoof van die SAL Vuyani ­Jarana het vandees­maand bedank. Foto's: Gallo Images/ Reuters

“Die ander staatsbeheerde onder­nemings is op ’n afdraande pad,” sê Ron. Hy noem ’n gebrek aan kundigheid, die gedurige verandering op bestuursvlak en gebrek aan steun van die direksie as van die probleme wat entiteite soos Eskom, SAL en die SAUK laat sink.

Dat Telkom gedeeltelik geprivatiseer is, tel ook in sy guns. “Dis ’n genoteerde entiteit en vir al sy aandeelhouers verantwoordelik,” sê hy. “En in teenstelling met die ander entiteite wat uitsluitlik onder die vaandel van die staatsagentskap is, is dit onafhanklik.”

As dié soort privatisering byvoorbeeld by die SAL plaasvind, sal dit die hele ­paradigma verander, en mettertyd sal dit nie meer die fiskus leegtap nie.

Dan is daar die leierskapsprobleem. Die bedanking van SAL se voormalige uitvoerende hoof Vuyani Jarana vandeesmaand was die agtste keer in ses jaar dat ’n uitvoerende hoof dié pos verlaat. “Dit laat jou wonder of dit nog moontlik is om die lugdiens ná jare se wanbestuur en korrupsie te red,” het ’n berig in die Daily Maverick gelui. “Na raming het die SAL sedert 1999 R65,24 miljard in belastingbetalers­finansiering ontvang, sowat R50 miljard hiervan sedert die staat in 2007 beheer oorgeneem het.”

By die beleërde Eskom het die voor­malige hoof Phakamani Hadebe in Mei sy bedanking ingedien. Hy het glo geknak onder die druk om die mislukkende kragvoorsiener te probeer regruk.

Eskom se huidige skuld is R420 miljard, en net die rente op dié bedrag is sowat R45 miljard per jaar. Sy reusewerkmag van 48 000 kos R31 miljard per jaar. Intussen is die SAUK R700 miljoen in die skuld. Ron sê gedeeltelike privaterisering kan ’n goeie begin wees, maar “daar is politieke en vakbondweerstand”.

Om ’n monopolie op te breek los gewoonlik die probleem op – mits die regte bestuur in beheer is en die werkmag oor die vereiste vaardighede beskik.

“Elke entiteit moet sy eie finansieringsmodel en bedryfsvermoë hê en op daardie spesifieke gebiede fokus,” sê Ron. Telkom se sukses het volgens hom nie oornag gebeur nie; dit was ’n lang, harde geswoeg vir Sipho. “Dit het geduld, toewyding en die regte strategie geverg, en hy moes boonop voortdurend baie kritiek verduur.” 

IS DAAR HOOP VIR DIE RES?

eskom
Phakamani Hadebe het in Mei as hoof van Eskom bedank. Foto's: Gallo Images/ Reuters

Arthur sê die ander staatsbeheerde en­titeite behoort hul nutsdienste as ­ondernemings pleks van staatsdepartemente te bedryf.

“Dis wat Telkom se ingesteldheid onder baie vorige uitvoerende hoofde was – hul landlynafdeling is soos ’n mono­polie bestuur; daarom moes hulle bykomende entiteite soos Telkom Mobile en BCX skep.”

Telkom se eenhede sluit in: BCX, wat gevorm is uit die samesmelting tussen Telkom Business and Business Connexion, Telkom die verbruikershandelsnaam, Openserve as die groothandel- en vesel­afdeling, en die eiendomsmaat­skappy Gyro, wat gestig is om die waarde in Telkom se eiendomsportefeulje te ontsluit.

Suid-Afrika het goeie leiers in van die staatsbeheerde ondernemings gehad, soos Vuyani by die SAL en Phakamani by Eskom, sê Dawie Roodt, die hoof­ekonoom van die Efficientgroep.

“As hulle toegelaat is om te doen wat gedoen moet word, sou hulle ’n groot verskil gemaak het. Hoekom is daar nog so ’n ramp? As gevolg van politieke inmenging.”

In die geval van ’n JSE-genoteerde maatskappy soos Telkom is daar deursigtigheid, en beleggers ondersoek alles om te verseker die leierskorps bly op die regte pad. “Maar dis nie die geval met die ander staatsbeheerde ondernemings nie,” sê Dawie. “Ek dink dit kan dalk te laat wees om Eskom en die SAL te privatiseer.

“Jy moet sekere dinge op sekere tye doen wanneer daar nog waarde is, maar daar is niks oor nie. Jy kan dit nie regmaak nie. Finish en klaar.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.